’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Matteus 14:1-12 Wanneer Matteus vir ons hierdie tragiese gebeure van die dood van Johannes die Doper soos ’n drama beskryf, dan sien ons hoedat hy vier persone se rol, en hulle karakters, daarin baie duidelik beskryf:
- Daar is Johannes die Doper self. Volgens Herodus, het Johannes twee groot foute gehad. Hy was gewild onder die mense en groot skares het na hom gaan luister. Herodus was bang dat sy invloed onder die mense dalk ’n rewolusie kon veroorsaak. Volgens Josephus, die Joodse geskiedskrywer, was dit Herodus se agterdog en jaloesie wat veroorsaak het dat hy vir Johannes laat doodmaak het. Soos enige ander tiran, kon hy in sy vrees, agterdog aan niks anders dink om ’n opstand te voorkom nie. Die Evangelieskrywers het ’n heel ander siening gehad. Volgens hulle het Herodus vir Johannes doodgemaak, omdat hy ’n man was wat die waarheid gepraat het. Dit is altyd baie gevaarlik om ’n tiran te bestraf, en dit is presies wat Johannes gedoen het.
Die feite is heel eenvoudig. Herodus Antipas was gedeeltelik van Joodse afkoms en was daarom verplig om die Joodse wet na te kom. Hy was getroud met ’n dogter van ’n Arabiese koning. Hy het ’n broer in Rome gehad met die naam Herodus Filippus. Tydens een van sy besoeke aan Rome, het Herodus Antipas sy broer se vrou verlei en haar oorreed om haar man te verlaat en met hom te trou. Om dit te kon doen, moes hy eers van sy eie vrou skei sonder enige rede. Hy het sodoende twee Joodse wette verbreek: Die eerste was om van sy vrou te skei en die tweede was om met sy skoonsuster te trou. Dit was, volgens die Joodse wet, ’n verbode verbintenis. Deurdat Johannes hom daaroor bestraf het, het hy sy eie doodsvonnis geteken.
- Herodias was ’n vrou wat vir Herodus Antipas letterlik geruïneer het. Sy was ’n vrou van losse sedes en ontrouheid. Sy was wraaksugtig en het haar haat vir Johannes getroetel omdat hy haar aangespreek het, al was dit regverdige oordeel gewees. Sy het haar kans gesien om wraak te neem, maar die ergste van alles was dat sy haar eie dogter gebruik het om haar doel te bereik. Daardeur het sy haar net so ’n groot sonde laat doen as wat sy self gedoen het. Mens is eintlik sonder woorde wanneer ’n ouer sy kind gebruik om sy eie bose planne uit te voer.
- Herodias se dogter moes nog jonk gewees het, waarskynlik sestien of sewentien jaar. Sy moes absoluut skaamteloos gewees het, want dit was nie normale optrede vir ’n koninklike prinses om as ’n danseres op te tree nie. Die danse wat meisies in daardie tyd, net soos ook dikwels vandag, gedoen het, was suggestief en immoreel. Herodias het egter niks daarvan gedink om haar dogter so voor ’n klomp mans te verneder nie.
- Herodus Antipas was nie ’n uitsonderlike slegte en wrede regeerder nie, maar met hierdie gebeure het hy op ’n pad begin wat tot sy vernietiging gelei het. Ons kan drie dinge van hom hier uitlig:
- Hy was ’n man met ’n skuldige gewete. Toe Jesus begin het om bekendheid te verwerf, het hy onmiddellik gedink dat dit Johannes die Doper was wat weer lewendig geword het. Die kerkvader Origines het in ’n geskrif die moontlikheid genoem dat, omdat Johannes en Jesus bloedverwante was (Luk 1:36), dat hulle baie na mekaar gelyk het. As dit so was, kan ’n mens verstaan waarom Herodus so bevrees was. Hier sien ons weer dat ’n mens nie van jou sonde kan wegkom deur net van die persoon wat jou daarmee konfronteer, ontslae te raak nie.
- Herodus se optrede was tipies dié van ’n swakkeling. Hy kom sy dwase eed na wat hy teenoor Herodias se dogter afgelê het, maar verbreek ’n baie groter wet, net omdat hy te lafhartig is om sy fout te erken. Hy was banger vir ’n vrou se woede-aanvalle as wat hy was vir God se reaksie op die verbreking van morele wette. Hy was banger vir kritiek en bespotting van die gaste, as vir sy eie gewete. Hy kon standpunt inneem vir die verkeerde dinge, maar wanneer hy moes staan teen dit wat reg is, was hy ’n swakkeling.
- Herodus Antipas se verleiding van Herodias en sy egskeiding van sy vrou, was vir sy skoonpa, Aretas, koning van ’n antieke Arabiese Ryk, ’n groot belediging. Hy was woedend en het oorlog teen Herodus verklaar, wat hy oorweldigend gewen het. Van die begin af het Herodus se onwettige en immorele verbintenis met Herodias vir hom net moelikheid veroorsaak. Toe Herodus Agrippa jare later deur die nuwe Romeinse keiser, Caligula, as koning benoem is, was Herodias so afgunstig dat sy hom aangemoedig het om Rome toe te gaan en ook aanspraak te maak op die titel van koning. Herodus Agrippa het egter valslik ’n klag teen hom gaan lê, en hy is daarvan beskuldig dat hy teen die Romeinse Regering in opstand wou kom. Hy is toe in ballingskap weggestuur, en het sodoende sy koninkryk en sy rykdom verloor.
Hierdie is een van die beste voorbeelde van alle tye, dat sonde sy eie straf bring.
Matteus 14:13-21 Galilea was ’n baie klein landjie met ’n baie digte bevolking. Volgens Josephus, die geskiedskrywer, was daar in die tyd van Jesus meer as twee honderd dorpies in Galilea. Dit was dus baie moeilik vir iemand wat ’n bietjie alleen wou wees, om ’n geskikte plek daarvoor te kry. Aan die oorkant van die See van Galilea, was dit ’n bietjie stiller gewees. Jesus se dissipels was vissermanne en daarom was dit nie vir hulle moeilik om met een van hulle skepe na die oorkant te vaar nie. Hulle het ’n bietjie vrede aan die anderkant van die See van Galilea gaan soek. Dit is dan ook wat Jesus gedoen het, nadat Hy van die dood van Johannes die Doper gehoor het.
Jesus was volkome mens en Hy het rus nodig gehad. Hy was nooit onverskillig nie, en wou liewer onttrek voordat Hy Johannes se dood te vinnig bekend moes maak. Die kruis het ook al hoe nader gekom, en Jesus moes met sy Vader praat. Hy het dus rus vir sy liggaam en krag vir sy siel op ’n stil, afgeleë plek gesoek, maar Hy het dit nie gekry nie. Die skare kon duidelik sien waarheen die boot gevaar het en dit was vir hulle maklik om gou om die bopunt van die meer te stap en Hom daar in te wag. Hy het hulle siekes gesond gemaak en toe die aand aanbreek, het Hy vir hulle kos gegee, voordat hulle weer die lang reis terug na hulle huise toe aangepak het. Hierdie wonderwerk wat Jesus gedoen het, openbaar vir ons vier baie besondere aspekte:
- Ons sien hier hoeveel deernis en meegevoel Jesus met die mense gehad het. Hy het innig jammer vir die skare gevoel. Premanand was ’n Indiese sendeling wat onder sy eie mense gewerk het. Hy het geskryf dat Christene se boodskap aan die nie-Christen wêreld, net soos in Jesus se tyd, nog steeds moet wees dat God vir mense omgee. Jesus het nooit enigiemand soos ’n oorlas laat voel nie, al het sy hele wese uitgeroep vir ’n bietjie rus en stilte. Sy volgelinge het sekerlik ook so gevoel.
- Ons sien ook in hierdie wonderwerk hoedat Jesus daarvan getuig dat alle goeie gawes uit die hand van God kom. Die Joodse dankgebed voor etes was baie eenvoudig. Al wat hulle gesê het, was: “Geseënd is U, Yahweh, ons God, Koning van die heelal, wat vir ons brood uit die aarde voortbring.” Elke Joodse gesin het hierdie gebed voor hulle maaltyd gebid, en dit sou gewis ook wees wat Jesus gebid het. Dankbaarheid is iets wat nie baie volop is nie, maar teenoor God vir sy groot genade en goeie gawes, is dit nog skaarser.
- Hierdie wonderwerk wys ook vir ons iets van Jesus se werkswyse. Hy het die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Dit is presies hoe Hy vandag nog werk: deur die hande van sy volgelinge. Dit is so waar dat Jesus se volgelinge hulpeloos is sonder sy hulp. Dit is egter ook waar dat die Here graag deur sy volgelinge wil werk. Wanneer Jesus iets gedoen wil hê, dan het Hy mense nodig deur wie Hy kan praat of deur wie Hy dinge kan doen. Die Indiese sendeling, Premanand, vertel dat dit deur ander sendelinge se lewens, liefde, en selfverloënende opoffering was, dat hy Jesus Christus se lewe kon sien en sodoende self tot bekering kon kom. Jesus het mense nodig deur wie Hy kan werk en sy waarheid en liefde aan ander kan wys. Ons kan dalk ontmoedig word deur die omvang van so ’n groot taak, maar daar is iets in hierdie vertelling wat ons harte kan oplig. Al wat die dissipels gehad het, was vyf broodjies en twee vissies, maar in Jesus se hande was dit meer as genoeg. Al wat Hy van ons vra, is dit wat ons het. Dit wat ons het, kan Hy kragtig in sy diens gebruik. ’n Klein bietjie is altyd baie in Jesus se hande.
- Aan die einde van die vertelling in vers 20, lees ons dat die stukke brood wat oorgebly het, weer bymekaar gemaak is. Selfs nadat Jesus ’n wonderwerk gedoen het en almal oorvloediglik gevoed is, is daar niks vermors nie. Dit is iets om na op te let. Om dit wat God aan ons gee te vermors, is beslis nooit die regte gesindheid nie. God se vrygewige voorsiening en ons verantwoordelike en spaarsamige gebruik daarvan, loop altyd hand aan hand.
Hoe ons ook al die wonderwerke van Jesus benader, is daar een feit wat ons altyd in ag moet neem. Jesus se wonderwerke is nie iets wat lank gelede gebeur het nie. Dit is iets wat steeds vandag nog elke dag gebeur. Dit is nie geïsoleerde gebeurtenisse in die verlede nie. Dit is demonstrasies van die ewigdurende, werkende krag van Jesus Christus.
Matteus 14:22-27 Nadat Jesus die skare gevoed het, het Jesus sy dissipels weggestuur. Dit mag dalk vreemd klink. Maar wanneer ons Johannes se weergawe van hierdie selfde gebeurtenis lees in Johannes 6:14-15, dan sien ons dat die mense vir Jesus met geweld wou koning maak. Dit was ’n gevaarlike situasie, en Jesus se dissipels kon dit nog meer ingewikkeld maak, want hulle het ook nog aan Hom gedink in terme van aardse mag en eer. Jesus het alleen op die berg gaan bid, terwyl sy dissipels na die oorkant van die See gevaar het. Die See van Galilea was bekend vir die skielike storms wat opgekom het, en die dissipels moes sukkel teen die wind en die golwe, en het min vordering gemaak. Matteus skryf in Matteus 14:19, dat Jesus vir die mense gesê het om op die groen gras te gaan sit. Daaruit kan ons aflei dat dit lente moes gewees het, en heel waarskynlik was dit naby die Pasga-fees, want dit was in die middel van April. As ons afleiding korrek is, dan kan ons ook daaruit aflei dat dit volmaan was.
In die uur van sy dissipels se groot nood, kom Jesus na hulle toe aangeloop, en dit op die water. Hy was daar om te help. Daar is tye in elke mens se bestaan, dat die lewe ’n desperate stryd is met onsself, ons omstandighede, ons versoekings, ons hartseer en ook ons besluite. In sulke tye hoef ons nie alleen te stry nie. Jesus kom na ons toe oor die storms heen met ’n uitgestrekte hand om ons te red en met ’n kalm, rustige stem te sê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie (Matt 14:27). Hierdie gebeure vertel vir ons nie net van lank gelede nie, maar ook dat Jesus na ons toe kom wanneer die storms van die lewe ons wil oorweldig.
Matteus 14:28-33 Petrus se karaktereienskappe word baie duidelik in hierdie vertelling van Matteus uitgebeeld. Ons kan ten minste drie daarvan hier raaksien:
- Petrus was impulsief en het gereageer sonder om te dink wat hy doen. Hy het herhaaldelik die fout gemaak om nie die koste te bereken van dit wat hy doen of sê nie. In Matteus 26:33-35 lees ons hoedat hy twee maal sy onsterflike en ewige liefde en lojaliteit aan Jesus verklaar, maar dan lees ons net daarna in verse 70, 72 en 74 hoedat hy drie maal ontken dat hy vir Jesus ken. Petrus se groot probleem was dat sy optrede deur sy hart bepaal is. Die instink van sy hart was altyd liefde, wat wonderlik was, maar hy het nie gedink voordat hy gereageer het nie.
- Omdat Petrus impulsief opgetree het, het hy dikwels mislukking en hartseer beleef. Dit was egter vir Jesus baie belangrik dat mense die koste van hulle optrede moet bereken en Hy was altyd volkome eerlik met die mense. In Matteus 16:24 het Hy vir sy dissipels gesê dat elkeen wat Hom wil volg, sy kruis moet opneem en homself verloën. Een van die groot redes waarom mense in hulle Christelike lewe misluk, is omdat hulle op ’n emosionele oomblik reageer sonder om die koste te bereken,
- Petrus het egter nooit heeltemal misluk nie, want in sy oomblikke van mislukking, het hy aan Jesus vasgehou. Die wonderlike van alles is, dat Petrus elke keer wanneer hy geval het, weer opgestaan het. Sy mislukkings het hom elke keer nader aan Jesus gebring. ’n Heilige is nie iemand wat nooit misluk nie; dit is iemand wat na ’n mislukking, met die Here se hulp, kan opstaan.
Hierdie vertelling eindig met ’n ander groot en permanente waarheid. Toe Jesus in die boot klim, het die wind bedaar. Die groot waarheid is, daar waar Jesus is, word die sterkste stormwind kalm. Die dissipels het finaal besef wie Hy is: die Seun van God!
Matteus 14:34-36 Matteus vertel hier in ’n sin of twee, sonder om die storie in te kleur, ’n baie openbarende en belangrike gebeurtenis in die bediening van Jesus:
- Die mooi van hierdie gebeure is dat Jesus nooit sy hulp geweier het aan enigiemand in die skare wat om Hom saamgedrom het nie. Ons lees nie hier dat Hy gepreek of lering gegee het nie, maar net dat Hy ’n rekordgetal genees het. Hy het aan die mense gewys hoe God was en dat Hy vir hulle omgee.
- Die hartseer van hierdie gebeure is dat honderde mense Jesus se genesing begeer het, maar wanneer hulle dit ontvang het, was hulle nie bereid om verder in hulle geloofspad met Hom te gaan nie. Deur al die eeue heen was dit nog altyd so. Mense wil die voorregte van Christenskap hê, maar nie die verantwoordelikhede nie. Mense onthou vinnig van God wanneer hulle Hom nodig het, maar dan vergeet hulle weer van Hom. Ondankbaarheid teenoor God en teenoor Jesus, is een van die grootste sondes wat daar is, en tog is dit dié sonde waaraan ons so dikwels skuldig is.