’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Matteus 15:1-9 Alhoewel hierdie vreemde en moeilike verse is om te verstaan, is dit ’n baie belangrike gedeelte van die hele evangelieverhaal. Dit verteenwoordig ’n openlike botsing met die leiers van die Joods Ortodokse geloof. Sommer in die eerste sin al sien ons dat die skrifgeleerdes en Fariseërs ál die pad van Jerusalem af, spesiaal na Galilea gekom het om vrae aan Jesus te vra. Dit lyk nie asof die skrifgeleerdes en Fariseërs in hierdie stadium al kwaadwillige bedoelinge gehad het met hulle vrae nie. Dit lyk asof hulle eerlikwaar veward was. Die eintlike belangrikheid van hierdie gedeelte lê daarin dat dit nie ’n persoonlike botsing of verskil was nie, maar dat hier ’n botsing van twee sieninge van geloof in God plaasgevind het. Dit was ook baie duidelik dat daar geen moontlikheid van enige samewerkingsoorkoms of kompromie tussen hierdie twee sieninge van geloof was nie.
Om dit te verstaan, is dit belangrik om die agtergrond van die Joodse geloof te verstaan. In hierdie gedeelte gaan dit oor oorgelewerde gebruike. Dit het niks te doen met higiëne of vuil hande nie. Dit was bloot ’n seremoniële aangeleentheid. Die Jode het geglo dat hulle rein moes wees om met God te mag praat en Hom te aanbid. As hulle nie rein was nie, dan was dit nie moontlik om God te aanbid nie. So was ’n vrou wat gemenstrueer het, ook onrein. Wanneer iemand aan haar geraak het, het sy daardie persoon ook onrein gemaak.
Daar was niks moreel aan hierdie rituele nie. Die Ou Testamentiese reinheidswette het ’n baie wye aspek van die samelewing gedek en ons kan dit alles gaan lees in Levitikus 11. Baie daarvan het gehandel oor dit wat die Jode mag geëet het en wat nie. Die Here het hierdie wette aan Moses om spesifieke redes gegee, wat ons hier net kortliks kan noem:
- Sekere diere was vir die ander volke en gelowe heilig, en hulle het dit aanbid. Katte en krokodille is deur die Egiptenare as gode beskou, en dit is natuurlik om diere wat deur ander volke as afgode beskou is, as gevaarlik te beskou wanneer dit geëet word.
- Sekere diere soos hase en varke, is draers van parasiete, en is net veilig wanneer dit baie goed gaar gekook word. In ons samelewings vandag, is dit nie meer ’n groot probleem nie, maar vir die Jode van die antieke tyd was dit beter om dit nie te eet nie.
Vir die skrifgeleerdes en Fariseërs, het die nakoming van hierdie reëls en regulasies so belangrik geword, dat dit vir hulle net so erg was om ’n stukkie varkvleis te eet, as om ’n vrou te verlei en buite-egtelike seksuele omgang met haar te hê. Godsdiens het vir die ortodokse Jode so ’n vermenging van allerlei wette geword, en dit was vir hulle belangriker om mekaar dop te hou en uit te vang, as om in ’n verhouding met God te staan.
Mense kon onrein dinge probeer vermy, maar dit was prakties onmoontlik om in ’n straatjie, wat smal en vol mense was, nie aan iemand per ongeluk te raak wat dalk onrein was nie. Daar was baie nie-Jode tussen hulle, en selfs die stof waarop ’n nie-Jood sy voete neergesit het, was vir hulle onrein. Om hierdie praktiese probleme te oorkom, is daar ’n geweldige oordrewe sisteem van fisiese reinheid ontwikkel. Eers was dit nodig vir die priesters in die tempel om hulle hande op ’n spesifieke manier te was voordat hulle kon eet, maar later is dit van elke Jood wat homself as godsdienstig beskou het, verwag. ’n Baie streng, toegewyde Jood, het hierdie ritueel nie net voor ete uitgevoer nie, maar selfs ook tussen die verskillende gange van die maaltyd.
Die ortodokse Joodse leiers se vraag aan Jesus is nou: “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte?” Vir die Jode het die wet twee afdelings gehad. Daar was die geskrewe wet wat in die Bybel vervat is, en dan was daar die mondelinge wet. Die mondelinge wet het al die ontwikkelings bevat soos wat dit deur die skrifgeleerdes en die Fariseërs deur generasies heen bygevoeg is. Dit is as net so bindend as die geskrewe wet beskou, indien nie nog meer bindend nie. Vir ’n ortodokse Jood was hierdie rituele werklik godsdiens.
Jesus antwoord nie die vraag van die Fariseērs direk nie. Hy verwys hulle na ’n voorbeeld waar hulle mondelinge wet se toepassing in werklikheid in teenstelling is met die wet wat God daar gestel het (Eks 21:17). In die ooreenstemmende Skrifgedeelte in Markus 7:11, sien ons dat Markus die Griekse woord korban gebruik. Die woord het twee betekenisse:
- Dit beteken dít wat aan God toegewy is. ’n Persoon kon alles wat hy besit, amptelik aan God en aan die tempel toewy, en dit word dan korban genoem.Wanneer sy ouers dan behoeftig raak en hulp nodig het, het so ’n persoon net eenvoudig vir hulle gesê dat hy hulle nie kan help nie, want alles wat hy besit is aan God toegewy. Sodoende het sommige Jode deur ’n rituele optrede, hulle basiese verpligting van hulp en eer aan hulle ouers te gee, ontduik, en daardeur een van die Tien Gebooie verontagsaam.
- Corban het egter ook ’n ander betekenis gehad. Dit is as ’n eed gebruik. Wanneer ’n persoon wat sy besittings as corban verklaar het, later daaroor spyt was en van plan wou verander en tog sy ouers wou help, dan was hy deur ’n eed verbind en het die wet hom verbied om dit te verbreek. Hulle het Numeri 30:2 aangehaal waar daar geskryf is: “As iemand aan die Here ’n gelofte doen of met ’n eed ’n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het.” So sou ’n skrifgeleerde ’n man wat in ’n oomblik van passie ’n onverantwoordelike eed afgelê het, dwing om daarby te bly, maar in die proses die groter wet van God, naamlik liefde vir sy naaste, verbreek.
Ons sien hier wat die botsing tussen twee soorte aanbidding is. Vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs was godsdiens ’n uitwendige onderhouding van reëls, regulasies en rituele. Dit was ’n strak, wettiese uitkyk op die lewe. Vir Jesus was dit iets wat in ’n mens se hart gesetel was. Dit was iets wat meegevoel en deernis wakker gemaak het. Dit was aanbidding met ’n skoon hart en ’n liefdevolle lewe. Godsdiens kan nooit gebou word op seremonies en rituele nie. Die fondament daarvan is altyd persoonlike verhoudings tussen mense en God.
Matteus 15:10-20 Met Jesus se woorde in vers 11, het Hy nie net die skrifgeleerdes en die Fariseërs se wettiese en seremoniële godsdiens veroordeel nie, maar Hy het ook groot dele van die boek Levitikus uitgevee. Hierdie woorde van Jesus het al die voedselwette van die Ou Testament tot niet verklaar en gekanselleer. Dit is heeltemal moontlik dat hierdie wette nog geldig kan wees om gesondheids- en higiëniese redes, maar beslis nie om godsdienstige redes nie. Geen wonder dat die skrifgeleerdes en Fariseërs so geskok was nie. Die hele fondament waarop hulle godsdiens gebou was, is onder hulle uitgeruk. Hierdie stelling van Jesus was rewolusionêr. As Jesus reg was, dan was hulle hele teorie van godsdiens verkeerd. Vir hulle was godsdiens om God te plesier deur reëls en regulasies na te kom. Vir Jesus was godsdiens die toestand van ’n mens se hart. Hy sê reguit dat hulle blinde leiers van blindes is. Hulle het geen idee gehad van wie God is nie, en mense wat hulle gevolg het, het saam met hulle in die sloot geval.
As godsdiens net uit onderhouding van allerlei rituele bestaan het, dan was dit veels te maklik. Dit is baie makliker om sekere voedselsoorte uit te skakel en hande te was op ’n sekere manier, as wat dit is om sommige moeilike mense lief te hê, of om ’n persoon in nood te help ten koste van jou eie tyd, geld, gemak en plesier.
As godsdiens net uit uiterlike optredes bestaan het, dan was dit baie misleidend. Baie mense se lewens lyk van buite af so foutloos en perfek, maar innerlik is hulle vol bitterheid, bose gedagtes en eie-ek.
Jesus leer dat al wat van ’n individu saakmaak, is die toestand van sy hart. Wanneer ons eerlik ons harte ondersoek, dan kan ons maar net vra: “O God, wees my, sondaar, genadig” (Luk 8:13).
Matteus 15:21-28 Hierdie gedeelte beskryf die enigste geleentheid waarvan ons weet waar Jesus buite die territoriale gebied van die Jode was. Die groot betekenis daarvan is dat dit vir ons ’n heenwysing is van die evangelie wat na die hele wêreld geneem sou word. Dit is die begin van die einde van alle skeidsmure.
Vir Jesus was dit ’n tyd van doelbewuste sosiale onttrekking. Die einde het nader gekom, en Hy wou graag ’n bietjie stilte hê om Homself daarvoor voor te berei. Hy wou ook graag sy dissipels voorberei op die kruisgebeure en wat vir hulle sou wag. Daar was geen plek in Palestina waar Hy van privaatheid verseker kon wees nie. Waar Hy ook al gegaan het, het die skare Hom uitgesnuffel. Dit is dan waarom Hy reguit noord deur Galilea gegaan het, totdat Hy in die landstreek van Tirus en Sidon gekom het. Daar was Hy darem ten minste vir ’n rukkie onder die vyandige oë van die skrifgeleerdes en Fariseërs uit; en ook weg van die gevaarlike gewildheid wat Hy onder die Jode verkry het. Geen Jood sou dit ooit waag om Hom na ’n nie-Joodse gebied te volg nie.
Selfs in hierdie vreemde gebied, was Jesus nie gevrywaar van die eise van menslike nood wat na Hom uitgeroep het nie. Daar was ’n Kanaänitiese vrou wie se dogter baie siek was. Sy moes op een of ander manier gehoor het van al die wonderlike dinge wat Jesus vir die mense gedoen het, en sy het agter Hom en sy dissipels aangeloop, terwyl sy om hulp uitgeroep het. Die dissipels was ongemaklik daaroor en wou hê dat Hy haar moes wegstuur, omdat sy ’n oorlas van haarself gemaak het. Hulle reaksie het nie eintlik van deernis, passie en Christelike liefde gespreek nie.
Jesus daarenteen, is gevul met meegevoel en geweldige simpatie vir die vrou, maar die probleem was dat sy nie ’n Jood was nie, en ook nog boonop ’n Kanaäniet. Histories gesproke was hulle groot vyande van die Jode, en daar was deur die eeue geen positiewe gevoelens tussen die Jode en die Kanaäniete nie. Hier kom hierdie vrou nou en sy smeek en roep uit dat Hy haar genadig moet wees.
Jesus draai uiteindelik na haar en daar is vir Hom net een ding om te doen. Hy moes geloof in haar hart wakker maak. Om ’n ander persoon ’n hond te noem, was ’n ontsettende groot belediging. Die Jode het in hulle arrogansie van die heidene as “honde” gepraat, en toe later ook van die Christene. Honde was vuil straatdiere wat siektes rondgedra het, en om vir iemand so iets te sê, was nie sosiaal aanvaarbaar nie. Tog moes die vrou die liefde en meegevoel in Jesus se oë gesien het. Hy het ook die verkleiningsvorm van “hond” gebruik. Klein hondjies is as troeteldiere aangehou. Die vrou was ook Griekssprekend, en die Grieke het almal baie humor gehad. Dit is dan ook vanwaar haar vinnige antwoord in vers 27 kom.
Jesus se oë moes opgehelder het van vreugde by die aanskoue van soveel geloof, en Hy staan haar die seën en genesing toe vir haar dogter wat sy so begeer het.
Daar is ’n paar dinge van hierdie vrou wat ons moet raaksien:
- Sy het liefde gehad. Al was sy uit die heidendom, het sy daardie liefde vir haar dogter gehad wat altyd ’n weerkaatsing van God se liefde vir sy kinders is. Dit is deur haar liefde dat sy Jesus se meegevoel agter sy woorde kon raaksien.
- Sy het geloof gehad. Sy het vir Jesus “Seun van Dawid” genoem. Dit was ’n gewilde, politieke titel vir Hom. Sy het kans gesien om ’n guns te kom vra van iemand wat sy as ’n groot en invloedryke man gesien het. Sy het gekom met iets soos ’n bygeloof, maar aan die einde het sy Hom “Here” genoem. Jesus wou hê dat sy moes raaksien dat ’n versoek aan Hom, moet verander in ’n gebed tot die lewende God.
- Haar geloof het in aanbidding oorgegaan. Sy het begin deur agter Jesus aan te loop, maar sy op haar knieë voor Hom geëindig. Sy het met ’n versoek begin, maar sy het met ’n gebed afgesluit. Wanneer ons na Jesus toe kom met ’n versoek vir ons nood, dan kan ons nooit anders as om in ademlose bewondering voor sy grootheid en majesteit te buig nie.
- Sy het ’n onbedwingbare deursettingsvermoë gehad. Sy het nie toegelaat dat enigiets haar ontmoedig nie. Jesus was haar enigste hoop, en sy was dodelik ernstig. Gebed was nie vir haar ’n ritueel nie; dit was die passievolle begeerte van haar hele wese wat haar laat voel het dat sy net eenvoudig nie nee as ’n antwoord gaan aanvaar nie.
- Sy het ook ’n gawe van opgeruimdheid gehad. Ten spyte van haar hartseer en bekommernis oor haar siek dogter, kon sy nog steeds glimlag en ’n grappie maak. God het ’n blymoedige hart lief; die geloof in die oë waar daar die lig van hoop skyn.
Hierdie Kanaänitiese vrou het na Jesus gekom met ’n amper vermetele liefde en versoek vir haar dogter. Sy het ’n geloof gehad wat so vinnig gegroei het, dat dit aan aanbidding oorgegaan het en sy voor die voete van Jesus se goddelikheid neergeval het. Sy het ’n onuitblusbare deursettingsvermoë gehad en ’n vrolikheid en blymoedigheid wat Jesus nie kon weerstaan nie; en haar smeekgebed is beantwoord.
Matteus 15:29-39 Ons het reeds gesien dat Jesus na die streke van Tirus en Sidon vertrek het, sodat Hy Homself en sy dissipels kon voorberei vir die tyd wat voorgelê het. Een van die groot probleme in die Evangelievertellings, is dat dit nie vir ons ’n aanduiding gee van tye en datums nie. Al wat ons kan gebruik om dit te bepaal, is sekere aanduidings wat in die vertellings gegee word. Jesus se tyd saam met sy dissipels was waarskynlik heelwat langer as wat dit sommer so op die oog af lyk. Met die eerste voeding van die vyfduisend mense (Matt 14:15-21), het ons gesien dat die gras groen was waarop hulle gaan sit het. Dit was dus lente gewees, want daar is geen ander tyd van die jaar wanneer gras groen kon wees in ’n land met so ’n warm klimaat nie. Na Jesus se gesprekke met die skrifgeleerdes en die Fariseërs, het Hy na die streke van Tirus en Sidon vertrek, en dit opsigself was geen kort reis te voet nie. Ons lees in Markus 7:31 van Jesus en sy dissipels se terugreis, en daaruit blyk dit dat hulle eintlik met ’n ompad gereis het. Volgens Markus 7:31 het hulle uiteindelik in Dekapolis aangekom, waar die gebeure waarvan ons hier lees, plaasgevind het.
Ons volgende tydsaanduiding kry ons dan ook hier in vers 35, waar Jesus vir die mense gesê het om op die grond te gaan sit. Dit moes teen hierdie tyd al hoogsomer gewees het, want die gras is dan verdor en die aarde bar en droog. Jesus se hele noordelike reis moes dus ongeveer ses maande lank geduur het. Alhoewel ons niks weet van wat in daardie ses maande gebeur het nie, kan ons verseker wees dat dit ’n baie belangrike tyd in die lewens van die dissipels saam met Jesus was. Jesus sou hulle verseker geleer en onderrig het, sodat hulle verstand oop kon wees vir die waarheid. Dit is belangrik om te onthou dat die dissipels ses maande lank tyd in afsondering saam met Jesus spandeer het voordat die tyd vir toetsing aangebreek het.
Baie Bybelnavorsers dink dat die voeding van die vyfduisend en dié van die vierduisend, net twee verskillende weergawes van dieselfde gebeure is. Dit is egter nie die geval nie. Soos ons reeds gesien het, het die tyd van die jaar verskil, en ook die plek. Ook die mense was van Dekapolis, ’n federasie van tien Griekse stede. Daar sou dus heel moontlik hier meer nie-Jode as Jode teenwoordig gewees het. Dit verklaar dan ook sommer vir ons die vreemde woorde in vers 31. “En hulle het die God van Israel geprys.”
Daar is ook ’n ander aanduiding dat hierdie twee verskillende geleenthede was. Toe die vyfduisend mense gevoed is, is die twaalf mandjies wat gebruik is om die brokstukke in op te tel, kophinoi genoem (Matt 14:20). Hier, toe die vierduisend mense gevoed is, is die sewe mandjies sphurides genoem (Matt 15:37). Kophinos was ’n mandjie wat amper die vorm van ’n kalbas gehad het. Die Jode het graag hulle padkos daarin gedra. ’n Sphurides was meer ’n mandjie met ’n vorm soos wat ons dit ken, en die nie-Jode het dit gebruik.
Die wonder van hierdie gebeurtenisse, die genesings en ook die voeding van die honger mense, was ’n simbool en ’n voorsmakie daarvan dat God se genade nie net tot die Jode beperk was nie. Die nie-Jode sou ook kon deel in Hom wat die lewende brood is.
Die oneindige genade en goedheid van Jesus Christus is so duidelik sigbaar in hierdie vertelling:
- Hy genees die lammes, die blindes en die dowes. Hy is begaan oor die liggaamlike pyn van hierdie wêreld.
- Hy is begaan oor diegene wat moeg en gedaan is. Hy wou hulle liggaamskrag opbou voordat hulle weer die lang pad huis toe te voet moes aanpak.
- Hy gee kos vir diegene wat honger is. Jesus is net so intens begaan oor ons liggame as oor ons redding.
Hy trek mense na Hom toe sodat Hy hulle kan voed met die lewende brood wat aan ons die ewige lewe gee. Hy gee Homself, voordat Hy aanbeweeg.