STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 20

’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament

Die Evangelie van Matteus

Anita Joubert

Matteus 20:1-6 Hierdie gelykenis mag dalk klink na ’n storie wat uitgedink is, maar dit is nie die geval nie. Dit beskryf ’n gebeure wat heel dikwels in Palestina plaasgevind het. Wanneer die druiwe-oes ryp geword het aan die einde van September, dan het die reënseisoen aangebreek. Die oes moes baie vinnig ingebring word, anders kon dit groot skade kry. Daar was dus ’n geweldige gejaag teen tyd. Enige werker was welkom om te help, al kon hy net ’n uur se werk insit. ’n Denarius was die normale dagloon vir ’n dagwerker.

Die markplein was die plek waar almal wat werk gesoek het, met hulle gereedskap gaan wag het om in diens geneem te word. Die feit dat sommige tot vyf uur daar gestaan het, is die bewys van hoe desperaat hulle was om ’n bietjie geld te verdien. Hierdie huurlinge was die laagste klas werkers, en die lewe was vir hulle baie moeilik gewees. Slawe en bediendes was darem aan die families in wie se diens hulle was, verbind. Hulle was nie in gevaar om van honger te sterf nie. Met die huurlinge was dit anders. As hulle nie in diens geneem word elke dag nie, dan het hulle gesinne honger gely.

Hierdie gelykenis bevat kosbare waarhede wat diep in die hart van die Christelike geloof gesetel is:

  1. In die eerste plek was dit ’n waarskuwing vir die dissipels. Hulle het die groot voorreg ontvang om vroeg die Christelike waarheid te leer ken, reg aan die begin. Later sou daar nog baie ander ingesluit word en hulle moes nie aanspraak maak op spesiale eer, omdat hulle vir Jesus en sy genade leer ken het voor die ander mense nie. So was daar deur die eeue mense wat gedink het dat die kerk aan hulle behoort en wat met groot moeite aan die volgende geslag oorgegee het, omdat hulle alles wou voorskryf.
  2. Hierdie gelykenis was ook ’n waarskuwing aan die Jode. Hulle het geweet dat hulle God se uitverkore volk was, en daarom het hulle neergekyk op die nie-Jode. Hulle het die nie-Jode gehaat en hulle vernietiging begeer. Hierdie gesindheid het ’n geneigdheid om ook in die Christelike kerk na vore te kom.
  3. Ons sien ook hier die hart van God. Vir Hom is alle mense ewe kosbaar. Dit maak nie saak wanneer en op watter ouderdom mense na God toe draai en die vergifnis van Jesus Christus ontvang nie, hulle is almal ewe na aan sy hart.
  4. God se deernis vir mense se swaarkry kom ook duidelik na vore. Streng gesproke moet iemand wat minder werk, ook minder geld kry. Die eienaar wat die werkers in diens geneem het, het geweet dat ’n denarius nie baie geld is nie, en as die werker met minder as dít sou huis toe gaan, dan sou daar ’n baie bekommerde moeder en honger kinders op hom gewag het. Daarom oorskry hy geregtigheid en gee vir hulle meer as wat hulle verdien het.
  5. Vrygewigheid is ook een van God se baie eienskappe. Hierdie werkers het nie almal dieselfde werk gedoen nie, maar dieselfde loon ontvang. Alle werk wat ons in God se diens verrig, word ewe hoog aangeskryf. Dit is nie die hoeveelheid werk wat belangrik is nie, maar die liefde waarmee dit gedoen is. Dit wat God vir ons daarvoor gee, is in elk geval alles genade en ’n groot geskenk. Ons kan niks by Hom verdien nie.
  6. Die groot les van hierdie gelykenis, is die gesindheid waarmee ons die diens verrig. Hierdie werkers was duidelik in twee groepe verdeel. Die eerste groep het ’n ooreenkoms met die eienaar aangegaan, en hulle was begaan daaroor dat hulle so veel as moontlik geld vir hulle werk wou kry. Toe die tweede groep later in diens geneem is, was daar geen sprake van ’n kontrak nie. Hulle was maar net te dankbaar vir die geleentheid om te kan werk, en hulle het die vergoeding aan die eienaar oorgelaat.

Petrus het in Matteus 19:27 gevra: “Wat sal ons daarvoor kry?” Hy het in daardie stadium nog nie verstaan waaroor dit gaan nie. Christene werk vir die vreugde daarvan om God en ander mense te dien. Dit is waarom diegene wat eerste is, laaste sal wees, en diegene wat laaste is, eerste. Baie Christene wat gedink het dat hulle groot belonings gaan ontvang, omdat dit hulle hoofdoel was, gaan baie min daarvoor kry. Die groot teenstelling van die Christelike lewe, is dat húlle, wie se doelwit net die loon is wat hulle wil ontvang, dit gaan verloor. Diegene wat skoon van loon vergeet en alles wat hulle doen, uit liefde doen, sal dit kry.

Matteus 20:17-19 Hierdie is die derde keer dat Jesus sy dissipels waarsku dat Hy op pad is na die kruis. Die vorige kere was in Matteus 16:21 en Matteus 7:22-23. Beide Markus en Lukas het hulle eie afwerking aan die gebeure gegee om te wys dat daar ’n mate van spanning teenwoordig was, omdat almal besef het dat daar ’n tragedie aan die kom was. Markus vertel dat Jesus vooruit geloop het op pad Jerusalem toe, en dat dit die dissipels verontrus het (Mark 10:32). Lukas sê dat Jesus die twaalf opsy geneem het om vir hulle te verduidelik wat voorlê (Luk 18:31).

Jesus het geweet dat die swaarkry wat vir Hom voorlê, aan geen onreg denkbaar sal ontbreek nie. Sy vriende sou Hom verraai; Hy sou onskuldig tot die dood veroordeel word; Hy sou bespot, verneder en gemartel word; Hy sou uiteindelik gekruisig word. Hy sluit af deur te sê dat Hy op die derde dag opgewek sal word. Na die vernedering, wag die glorie en heerlikheid. Na die aardse dood, wag die ewige lewe.

Matteus 20:20-28 Hier sien ons die aardse ambisie van die dissipels in aksie. Daar is een klein verskil in die weergawes van hierdie gebeure soos vertel deur Matteus en Markus. In Markus 10:35 is dit Jakobus en Johannes self wat na Jesus toe kom met hulle versoek. Hier in Matteus is dit hulle moeder. Die rede hiervoor kan waarskynlik wees dat, omdat Matteus sy Evangelie vyf en twintig jaar na Markus geskryf het, dat hy gevoel het om nie die dissipels so skuldig te laat lyk aan aardse ambisie nie. Daarom het hy geskryf dat dit hulle ma was wat die versoek aan Jesus gerig het. Sy was die suster van Maria, Jesus se moeder, en dit mag wees dat hulle gevoel het dat hulle daarom kon aanspraak maak op ’n spesiale plek in die koninkryk.

Hierdie gebeure werp vir ons, nie net lig op die dissipels nie, maar ook op die Christelike lewe en op Jesus:

  1. Die dissipels het steeds in terme van persoonlike beloning en sukses, sonder enige persoonlike opoffering, gedink. Hulle wou hê dat Jesus ’n koninklike opdrag moes gee sodat hulle van ’n prinslike bestaan verseker kon wees. Hulle het nog nie besef dat ware grootheid lê nie in oorheersing nie, maar in diensbaarheid. Aan die anderkant sien ons ook hier die dissipels se absolute geloof in Jesus. Hulle het hierdie versoek aan Hom gerig net nadat Hy vir hulle vertel het van die kruis wat vir Hom voorlê. Hulle was egter oortuig daarvan dat die oorwinning aan Hom behoort. Hulle demonstreer ook hiermee hulle onverwrikbare lojaliteit teenoor Jesus. Al kon ons die dissipels kritiseer vir hulle aardse ambisie, moet ons nie van hulle geloof en lojaliteit vergeet nie.
  2. Jesus vra vir Jakobus en Johannes in vers 22 of hulle die lydensbeker kan drink wat Hy sal moet drink. Die lewe het hulle twee verskillend behandel. Jakobus was een van die eerste vroeë Christene wat as martelaar moes sterf (Hand 12:2). Vir hom was dít sy lydensbeker. Johannes het ’n natuurlike dood gesterf nadat hy as banneling op die eiland Patmos in kettings, baie hard moes werk. Vir hom was sy lydensbeker konstante dissipline en stryd om te volhard tot die einde toe. ’n Lydensbeker is nie noodwendig martelaarskap nie. Dit kan ook die lang roetine van ’n Christelike lewe, met sy daaglikse opofferings, versoekings, teleurstellings en trane wees. Om ’n lydensbeker te drink, beteken om Jesus Christus te volg, waar Hy ook mag lei, en om soos Hy te wees in elke situasie waarin die lewe ons laat beland.
  3. Ons sien ook in hierdie gedeelte die goedhartigheid en geduldigheid van Jesus. Dit is verstommend dat Hy nooit sy humeur verloor het of geïrriteerd geraak het nie. Ten spyte van alles wat Hy sy dissipels geleer het, kom hierdie twee en hulle ma, en kerm oor aardse posisies in ’n aardse koninkryk. Jesus ontplof nie van frustrasie nie, maar Hy lei hulle geduldig en met liefde om die waarheid te ontdek. Ons sien Jesus se absolute eerlikheid raak. Hy was baie duidelik oor die lydensbeker wat gedrink moet word, wanneer ons sy volgelinge wil wees. Niemand sal ooit kan sê dat hy onder vals voorwendsels begin het om vir Jesus te volg nie. Ons sien ook hier dat Jesus sy volgelinge vertrou het en nooit getwyfel het dat Jakobus en Johannes lojaal teenoor Hom sal bly nie. Ten spyte van hulle misplaaste ambisie, hulle blindheid, hulle verkeerde idees, het Hy geweet dat hulle die lydensbeker sou drink. Dit is só bemoedigend om te weet dat Jesus in ons glo!

Dit wat Jesus van sy eie volgelinge verwag, naamlik om diensbaar te wees, het Hy self gedoen. Hy het nie gekom om op ’n troon te kom sit nie, maar om aan ’n kruis te kom hang. Hy het gekom om sy lewe te gee as losprys vir baie. Hy het alles gegee om ons weer na God toe terug te bring, en al wat ons moet doen is om in die voetstappe te volg van Hom wat ons tot die uiterste toe liefgehad het.

Matteus 20:29-34 Hierdie is ’n baie betekenisvolle storie, omdat dit vir ons die hartsgesindheid toon wat die pad na baie van God se mees kosbare geskenke oopmaak:

  1. Hierdie twee blinde mans het op Jesus gewag, en toe die geleentheid homself voorgedoen het, het hulle dit met albei hande aangegryp. Hulle het ongetwyfeld van Jesus se wonderwerkende krag gehoor, en hulle het geweet dat, as hulle Hom sou laat verbygaan, dan was hulle kans vir altyd verby. Net so is daar baie dinge in die lewe wat, as ons nie onmiddellik die kans benut en doen wat ons kan of moet doen nie, ons nooit weer die geleentheid daarvoor kry nie.
  2. Die mans het hulle nie laat ontmoedig nie. Die skare het hulle beveel om op te hou skreeu, want hulle was lastig. Dit was die gewoonte van ’n rabbi in Palestina om sy volgelinge te leer terwyl hulle met die pad langs gestap het. Die mense kon ongetwyfeld nie hoor wat Jesus sê terwyl die twee mans so uitgeroep het nie, maar hulle het hulle nie laat keer nie. Dit was ’n kwessie van om te kan sien, of blind te bly. Ons kan onsself so maklik laat ontmoedig om die teenwoordigheid van God op te soek. Dit is hulle wat hulle nie laat keer nie, wat Hom uiteindelik vind.
  3. Hierdie twee mans het ’n verdraaide siening gehad van wie Jesus werklik is. Hulle het Hom die Seun van Dawid genoem. Hulle het aan sy Messiasskap gedink in terme van aardse mag. Hoe onvolmaak hulle geloof ook al was, dit was daar en Jesus het dit so aanvaar.
  4. Hulle was nie bang om so ’n groot versoek aan Jesus te rig nie. Geen versoek is ooit te groot vir Hom nie.
  5. Die mans was dankbaar. Nadat Jesus vir hulle ’n wonderwerk gedoen het, het hulle nie weggegaan en daarvan vergeet nie. Hulle het hom gevolg. Ondankbaarheid is sonde. Ons kan God nooit vergoed vir dit wat Hy vir ons doen nie, maar ons kan darem altyd ons dankbaarheid teenoor Hom betoon.