’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Matteus 21:1-11 Met hierdie hoofstuk, betree ons nou die laaste dramatiese tydpek van Jesus se aardse lewe. Dit was tyd vir die viering van die Pasga, en Jerusalem en die hele omliggende gebied, was oorstroom deur reisigers wat spesiaal daarvoor gekom het. Dertig jaar na Jesus se kruisiging het ’n Romeinse goewerneur ’n sensusopname gedoen en vasgestel dat daar gemiddeld twee honderd en vyftig duisend lammers elke Pasga geslag is in Jerusalem. Elke lam moes deur ’n minimum van tien feesgangers, of selfs meer, geëet word. Dit beteken dat daar ’n minimum van twee en half miljoen Jode in daardie stadium in Jerusalem was. Alhoewel die Joodse wet bepaal het dat elke manlike volwasse Jood wat in, en binne vier en twintig kilometer van Jerusalem af gewoon het, verplig was om die Fees by te woon, het Jode van die verste uithoeke van die wêreld gekom om die grootste van hulle nasionale feeste by te woon.
Al die gebeure het daarop gedui dat hierdie spesiale tyd vooraf bepaal is, en die reëlings vooruit getref is. Jesus het twee van sy dissipels vooruit gestuur na die dorpie voor hulle, om ’n donkie en haar vulletjie te gaan haal en vir Hom te bring. So het Jesus Jerusalem binne gery. Markus voeg ’n klein stukkie besonderheid by deur te vertel dat Jesus gesê het dat geen mens nog ooit op die donkie gery het nie (Mark 11:2). Hierdie feit maak die donkie geskik vir heilige gebruik. Vergelyk Numeri 19:2.
Die skare het vir Jesus soos ’n koning verwelkom. Hulle het hulle klere op die pad oopgegooi en ander het takkies van bome afgebreek en op die pad gestrooi. Dit is ook wat gedoen is toe Jehu as koning verklaar is (2 Kon 9:13).
Die mense wat voor Jeus uitgeloop het en dié wat agter Hom aangekom het, het uitgeroep en gesê: “Hosanna vir die Seun van Dawid” (1953-Afrikaanse Vertaling). Die Griekse woord hõsanna, het verlore gegaan in die 1983-Afrikaanse Vertaling. Volgens Barclay beteken die woord in werklikheid “Red ons!”. Dit was ’n volk se uitroep vir hulp en bevryding van hulle onderdrukkers.
Ons het herhaaldelik in die geskiedenis van Israel gesien dat die profete hulle profetiese uitsprake in dramatiese aksies uitgebeeld het wanneer hulle gevoel het dat woorde nie genoeg was om hulle boodskap oor te dra nie. Jeremia het jukke met skeie en stroppe gemaak, en een om sy eie nek gesit. Die ander het hy vir die koning van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur, om dit vir die volk duidelik te maak dat daar vir hulle slawerny en onderdrukking voorlê (Jer 27:2).
Dit is dieselfde wat Jesus gedoen het toe Hy Jerusalem binnegery het. Hy het Homself aan die mense kom aanbied as hulle Messias, die Gesalfde van God, op ’n tydstip, toe Jerusalem oorstroom is deur Jode, nie net van oor die hele land nie, maar van oor die hele wêreld, sodat almal dit kon sien en daarvan kon weet.
Een van die grootste rampe in die Joodse geskiedenis het plaasgevind in ongeveer 175 v.C. toe die Griekse koning Antiogus Epifanus Jerusalem beleër het. Hy wou van die Joodse geloof ontslae raak en het die tempel doelbewus ontheilig deur ’n vark op die altaar te slag en offers aan die Griekse afgod Zeus te bring. Hy het die tempelkamers in openbare bordele verander. Die Makkabeërs, onder leiding van Judas Makkabeër, het teen hom in opstand gekom en uiteindelik die land bevry, die tempel weer herstel en heringewy. Op daardie dag het die mense ook palmtakke gedra en Psalms gesing om God te loof en te dank.
Jesus het ook nou Jerusalem binnegery met die uitsluitlike bedoeling om eers God se huis te reinig, net soos wat Judas Makkabeër dit twee honderd jaar gelede gedoen het. Die profeet Maleagi het vantevore gesê dat die Here skielik na sy tempel toe sal kom (Mal 3:1). Esegiël het, in sy visioen van oordeel, gehoor dat die die Here sê: “Begin by my heiligdom” (Eseg 9:6).
Hierdie gebeure wys vir ons drie verdere aspekte wat ons kan uitlig oor Jesus se aardse bediening:
- Hy het geweldig baie moed gehad. Hy het geweet dat Hy ’n vyandelike stad binnegaan. Alhoewel die skare entoesiasties was, het die owerhede Hom gehaat en teen Hom saamgesweer om Hom uit te skakel. Tog doen Hy dit doelbewus op so ’n manier dat Hy die middelpunt van die gebeure is en almal se oë op Hom gevestig is. Sy optrede was ’n doelbewuste uitdaging aan die owerhede om te doen wat hulle wou doen.
- Jesus het baie duidelik deur sy optrede, daarop aanspraak gemaak dat Hy die Messias is, wat deur God gestuur is. As God se Gesalfde, het Hy die reg gehad om die tempel te reinig. Hy het die hoogste posisie beklee: Hy was die Koning wat sou kom. Met Jesus is dit alles of niks. Ons erken Hom as ons Koning, of anders glad nie. Daar is niks tussenin nie.
- Sy koningskap was nie vir ’n aardse troon bedoel nie. Hy wil as Koning op die troon van mense se harte sit. Hy het in eenvoud en nederigheid gekom. In die Midde-Ooste was ’n donkie egter ’n edel dier, en nie so minderwaardig soos ons dit ken nie. ’n Koning het daarop gery wanneer hy in vrede gekom het. Wanneer daar oorlog op pad was, het die koning op ’n perd gery. Jesus wou, deur op’n donkie te ry, vir die mense wys dat Hy gekom het om lief te hê.
Matteus 21:12-14 Om hierdie gebeure te verstaan, is dit belangrik om te weet hoe die plek gelyk het.Die tempel self was in werklikheid ’n klein gebou wat net die Heiligste, asook die Allerheiligste, waarin die hoëpriester net een maal per jaar tydens die groot versoendag, mag ingegaan het. Rondom hierdie gebou was daar verskeie voorhowe. Daar was eerstens die voorhof vir die nie-Jode. Dan was daar die voorhof vir vroue, waarin enige Israeliet toegang gehad het. In die voorhof vir die Israeliete het die mense bymekaar gekom vir die tempeldienste. Laastens was daar die voorhof vir die priesters, waarin net hulle mag gegaan het. Die brandoffers het daar op die altaar plaasgevind en ook die reukoffers. Die tafel met die toonbrode was daar en ook die lampstaander met sewe lampe. Die groot bronsbak met die reinigingswater was ook in die priesters se voorhof. Al hierdie voorhowe en gange, is alles saam, “die tempel” genoem. Die Romeinse skrywers het hierdie tempel as een van die wêreld se mees wonderbaarlikste geboue beskryf.
Die gebeure wat hier beskryf word, het in die voorhof vir die nie-Jode plaasgevind waarin enige persoon toegelaat is. Dit was altyd besig en vol mense, maar gedurende die Pasga-fees het reisigers van oor die hele wêreld dit oorstroom. Twee soorte handelsbedrywighede het hier plaasgevind. Daar was die geldwisselaars. Elke Jood moes tempelbelasting van ’n halwe shekel betaal, en dit moes ongeveer in die tyd van die Pasga-fees betaal word. Ongeveer ’n maand voor die tyd kon dit by spesiaal opgerigte insamelingspunte in elke dorp betaal word. As dit egter nie betyds gedoen is nie, dan kon hulle dit net by die tempel self doen. Hierdie belasting kon net in ’n sekere geldeenheid betaal word, alhoewel alle lande se geldeenhede oor die algemeen in Jerusalem aanvaarbaar was. Die geldwisselaars se taak was om die veskillende lande se geldeenhede om te ruil vir die korrekte eenheid. Die reisigers het dus nie net die belasting betaal nie, maar ook die onrealistiese kommissie wat vir die omruil van die geldeenhede gehef is. Hulle is uitgebuit en die geldwisselaars het groot winste hieruit gemaak.
Die verkoop van die duiwe as offers was nog veel erger. Vrouens moes byvoorbeeld gaan om ’n duif as reiningsoffer te bring na die geboorte van ’n kind (Lev 12:6). So ook moes iemand wat van melaatsheid gesond geword het, ’n duif offer wanneer hy gekom het om as rein verklaar te word (Lev 14:1-8; 15:14). So ’n duif moes sonder enige gebrek wees en die tempelinspekteurs het dit ondersoek. Buite die tempel kon daar ook offerdiere gekoop word, teen tot soveel as vyftien keer minder as binne in die tempel. As ’n aanbidder egter nie sy offerdier binne in die tempel gekoop het nie, is dit net eenvoudig nie goedgekeur nie. Hierdie skaamtelose bedrog en uitbuiting van die armes, het Jesus kwaad gemaak.
Hierdie gebeure is ’n demonstrasie van Jesus se woede teen diegene wat ander mense uitbuit, en dit boonop in die naam van godsdiens. God sê deur die profeet Jesaja dat sy huis ’n rowerspelonk geword het, en dat Hy kan sien wat daar gedoen word (Jer 7:11). Ons moet nooit dink dat God nie bewus is van dade wat in die duister geskied nie.
Die profeet Jesaja het gesê dat God se tempel ’n huis van gebed vir al die volke is (Jes 56:7). Predikante en ampsdraers wat deur hulle eie-ek, hulle vooropgestelde idees en selfgemaakte leerstellings en praktyke, dit moeilik maak vir mense om God te aanbid, sal skuldig staan voor Hom.
In vers 14 sien ons dat Jesus die blindes en die kreupeles gesond gemaak het. Hulle was nog steeds daar. Dit is net diegene met die skuldige gewetes wat voor die woede in Jesus se oë weggevlug het. Hulle wat hom nodig gehad het, het gebly. Jesus het nooit enigeen wat in nood was, van Hom af weggestuur nie. Sy woede het verander in liefde vir hulle wat in nood was. So gebeur dit in die lewe van elke werklike groot man en vrou. Die krag van hulle woede loop altyd hand aan hand met die genesende krag van liefde.
Matteus 21:15-17 Die leerlinge van ’n rabbi is dikwels sy kinders genoem. Daar is sommige navorsers wat van mening is dat Matteus hier van Jesus se dissipels gepraat het. Die aanhaling wat Matteus egter uit Psalm 8:2 doen, maak dit vir ons duidelik dat Matteus werklik kinders in gedagte gehad het. Daardie dag was ’n buitengewone dag in die voorhof vir die nie-Jode. Dit het nie elke dag gebeur dat die geldwisselaars uitgegooi is en die lammes en blindes gesond gemaak is nie.
Wanneer ons dink aan die vars, helder stemmetjies van die kinders se lofsange tot God, dan word ons met een groot feit gekonfronteer. Daar is waarhede wat net die eenvoudiges kan raaksien en wat vir die wyses, belangrikes en geleerdes verberg word. Die hemel is dikwels baie nader aan ’n kind as aan die slimste onder ons.
Matteus 21:18-22 Ons lees ook van hierdie gebeure in Markus 11:12-14. Daar is net een basiese verskil tussen die twee weergawes. In Matteus het die vyeboom onmiddellik verdroog, maar in Markus het daar nie dadelik iets met die boom gebeur nie. Die dissipels het eers die volgende oggend, toe hulle weer by die vyeboom verbygegaan het, gesien dat daar iets met hom gebeur het (Mark 11:20-21). Omdat Markus die vroegste van die Evangelies is wat geskryf is, kan ons aanvaar dat sy historiese feite die naaste aan korrek is.
’n Vyeboom was die gunsteling van al die vrugtebome. Die beloofde land is uitgebeeld as die land waar koring en gars, druiwe en vye, volop was (Deut 8:8). Granate en vye was deel van die skatte wat die verspieders teruggebring het om die vrugbaarheid van die land te bewys (Num 13:23). ’n Vyeboom het tot ses meter hoog geword, en was ook gewild as ’n skaduboom, maar dit het twee maal per jaar vrugte gedra. Die eerste drag was ryp in Juniemaand, en die tweede in September. Geen vyeboom het vrugte gedra in Aprilmaand, toe Jesus in Jerusalem was vir die Pasga-fees nie. Die vrugteboom was ook nie veronderstel om in Aprilmaand vol blare te wees nie. Dit is juis uniek van ’n vyeboom om vol blare en vrugte gelyktydig te wees. Hierdie boom het dus blare gehad in heeltemal die verkeerde tyd van die jaar. Jesus sou nooit die vyeboom vervloek het omdat hy nie iets gedoen het wat hy nie veronderstel was om te doen nie. Dit sou ’n kinderagtige optrede van humeurigheid gewees het. Hy sou ook nooit sy bonatuurlike vermoëns gebruik het om in sy eie behoeftes te voorsien nie. Dit is presies dieselfde ding wat Hy geweier het om te doen, toe die Satan Hom in die woestyn versoek het. Hy het geweier om klippe in brood te verander omdat Hy honger was.
Die kans is baie goed dat Jesus, soos enige goeie leermeester, vir sy dissipels iets op ’n beeldryke manier wou leer. Toe Jesus na die vyeboom toe gestap het, het Hy baie goed geweet, soos iemand wat die natuur goed geken het omdat Hy teenwoordig was toe die skepping plaasgevind het, dat Hy nie vrugte daar sou kry nie. Sy woorde in vers 19 was dus ’n blote stelling, en nie ’n vervloeking nie: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” Jesus het geweet dat die boom een of ander siekte gehad het, en dat dit sou verdroog. Iets wat toe ook al die volgende dag sigbaar was.
Jesus se optrede was ’n simboliese aksie, en bedoel om sy volgelinge iets te leer:
- Eerstens het dit geleer dat nutteloosheid op ’n ramp uitloop. Dit is ’n lewenswet. Wanneer ’n persoon of ’n nasie misluk daarin om die doel wat God met hom of haar, of met so ’n volk het, te vervul, dan stuur dit af op ’n ramp. Elkeen van ons gaan eendag volgens ons bruikbaarheid geoordeel word.
- Jesus wou ook vir sy dissipels leer dat om geloof te bely, maar dit nie in die praktyk om te sit nie, is onaanvaarbaar. Die vyeboom het blare gehad, maar geen vye nie. Dit het dus ’n vals aanspraak gemaak. Die Joodse nasie het hulle geloof in God bely, maar in die praktyk was hulle nie in staat om sy Seun, Jesus Christus te herken nie. Hulle was nooit die lig vir die nasies wat hulle veronderstel was om te wees nie. Net so is die kerk ook skuldig daaraan dat mense deur die eeue geloof bely het, maar niks daaraan gedoen het om aan ander die blye boodskap te bring nie. Daar was wel diegene wat die roeping op hulle lewens gevoel het en gehoorsaam was. Dit is waarom die kerk van die Here Jesus vandag nog steeds bestaan, en groei.
Jesus sê ook in hierdie gedeelte dat ons deur gebed berge kan versit, en dat ons, wanneer ons gelowig bid, dit wat ons vra sal ontvang. Wanneer ons hierdie woorde nie reg verstaan nie, kan dit baie hartseer en ook verwarring in ons geloofslewe veroorsaak. Geen mens kan tog fisies self ’n berg oplig en in die see gooi nie. Talle mense het deur die eeue al met passie en geloof gebid dat iets moet gebeur of dat ’n geliefde van die dood gespaar moet word, en dan het dit nie so gebeur nie. In werklikheid belowe Jesus vir ons hier sekere dinge deur gebed:
- Gebed gee vir ons die vermoë om dinge te doen. Gebed is nie die maklike uitweg nie. Ons kan nie dinge wat ons moet doen, op God afskuif, en dan verwag dat Hy dit vir ons moet doen nie. Gebed is om vir God die krag te vra om dinge te doen wat gedoen moet word. As ons net kon bid en dan wag dat God alles moet doen, dan sou ons lui en ruggraatloos gewees het. Ons moet bid, en dan opstaan en werk.
- Gebed gee ook vir ons die vermoë om dit te aanvaar, wanneer God se antwoord “nee” is. Ons kry twee groot voorbeelde in die Bybel:
- Paulus het desperaat gebid dat God sy doring in die vlees sal wegneem, maar God se antwoord was dat sy genade vir hom genoeg was (2 Kor 12:7-10).
- Jesus self het in Getsemane gebid dat die lydensbeker by Hom moet verbygaan, maar dit was nie sy Vader se wil nie (Matt 26:36-42). Gebed is nie ’n manier om weg te hardloop van ’n situasie nie; dit is bedoel om krag te ontvang om daardie situasie in die oë te kan kyk.
- Gebed gee ook aan ons die vermoë om swaarkry te kan dra. In ons menslike onvermoë, is ons swak, maar deur gebed ontvang ons die krag om verby breekpunt te gaan sonder om te breek.
Tog is daar ’n baie interessante, ware gebeurtenis wat ’n mens nie anders kan as om hier te vertel nie. Na die Tweede Wêreldoorlog was daar talle weeskinders in Japan wat deur die samelewing as so minderwaardig beskou is, dat hulle net so in die strate gelos is om dood te gaan. Talle sendelinge het tot hulle redding gekom en heelwat weeshuise is opgerig. Irene Smith was ’n sendingdame uit Engeland wat verantwoordelik was vir twee en twintig sulke weeskinders in ’n weeshuis wat naby die see gebou is. Die seeuitsig en son van die gebou was belemmer deur ’n hoë duin tussen die weeshuis en die see. Een van die kinders, ’n invalide meisie, het een aand ’n preek gehoor oor Matteus 21:21 en dat ’n mens met genoeg geloof, vir ’n berg kan sê om homself op te lig en in die see te val. Sy kon nooit die see sien vanweë haar gebrek nie, en die ander meisies het saam met haar begin bid dat hierdie berg in die see moet val.
Op ’n dag het stootskrapers van die plaaslike owerheid daar aangery gekom en begin om die sand van die hoë duin agter die kinderhuis, in die see te stoot. Die weeshuiskinders het ’n lieflike uitsig op die see gekry. Toe Irene gaan navraag doen het, het die owerhede vir haar gesê dat hulle die sand van die duin nodig gehad het om die gedeeltes waar die strande weggekalf is deur golwe, weer op te vul.
So het ’n klompie kinders tog geleer dat God hulle geloof eer en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.
Matteus 21:23-27 Wanneer ons dink aan al die uitsonderlike dinge wat Jesus gedoen het, dan is dit nie vreemd dat die Joodse owerhede vir Hom hier vra met wie se gesag Hy hierdie dinge doen nie. Jesus kon nie vir hulle in hierdie stadium sê dat Hy in werklikheid die Seun van God is en dat Hy dit in sy gesag doen nie. Dit sou die einde net voortydig verhaas. Hy moes nog dinge doen en sy dissipels moes nog dinge leer. Jesus moes alles presies op God se tyd doen.
Hy antwoord dus die Joodse owerhede met ’n teenvraag wat hulle in ’n baie moeilike situasie plaas. As hulle erken het dat Johannes se bediening van God was, dan moes hulle ook erken dat Jesus die Messias was. Johannes was ’n onbetwisbare getuie van die Messias wat sou kom. Sou hulle Johannes se bediening misken, dan sou hulle die mense se woede ontketen.
Die priesterhoofde en die familiehoofde gee aan Jesus die flouste antwoord denkbaar deur te sê dat hulle nie weet nie. Dit was hulle plig om te kan onderskeid tref tussen ware en vals profete. Hulle kon nie skuldiger voor Jesus gestaan het nie, en hulle dilemma veroorsaak vir hulle yslike vernedering.
Ons moet uit hierdie gedeelte ’n ernstige waarskuwing vir onsself neem. Daar is min dinge so erg as lafhartigheid. Ons moet eerder vra wat is die veiligste ding om te doen? Is dit om op te staan vir ’n beginsel, of om onkundig te speel uit vrees? Wanneer ons weet wat die waarheid is, en niks sê nie, dan is ons skuldig aan skaamtelose en ruggraatlose optrede. Dit is ons plig om die waarheid bekend te maak, al sou die hemel val.