STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 23

’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament

Die Evangelie van Matteus

Anita Joubert

Wanneer ’n persoon normaalweg kort van draad is en ander mense uittrap, dan dra sy woorde gewoonlik nie veel gewig nie. Met Jesus is dit presies die teenoorgestelde en daarom is sy woorde verstommend inspirerend, wanneer Hy so kwaad word vir die Fariseërs en die skrifgeleerdes. Dit sal baie help om te verstaan as ons net kortliks kyk na dít waarvoor hulle gestaan het.

Die Joodse geloof is gebaseer, eerstens op die tien gebooie, dan op die Pentateug, en dan op die wet. Die Jode was bekend as ’n volk met ’n wet. Soos enige ander nasie, het hulle ook daarvan gedroom om groot hoogtes te bereik, maar hulle geskiedenis het anders verloop. Hulle is deur die Assiriërs, die Babiloniërs en die Perse oorwin. Dit was duidelik dat dit nie deur politieke mag sou gebeur nie, en daarom het, nadat hulle teruggekeer het uit ballingskap onder Esra, ’n skrifgeleerde, daar ’n nasionale toewyding aan wetsonderhouding ontstaan (Neh 8:1-8). Van daardie tyd af het die bestudering van die wet vir hulle die belangrikste beroep geword wat daar kon wees.

Ons het reeds gesien toe ons Matteus 5:17-20 gelees het, hoedat die groot beginsels van die wet opgebreek is in duisende klein reëls en regulasies. Teen die tyd dat die skrifgeleerdes daarmee klaar was, moes dit in vyftig volumes, bekend as die Talmoed, opgeteken word. Die Fariseërs het eers na Antiogus Epifanus van Sirië se poging in 175 v.C. om die Joodse geloof uit te wis en die Griekse godsdiens en praktyke af te forseer, na vore gekom. Die naam “Fariseër” beteken “die afgesonderde een”, en hulle het hulle lewens daaraan gewy om al hierdie duisende reëls getrou na te kom. Daar was nooit baie van hulle nie; nooit meer as ses duisend op een gegewe tydstip nie. Hulle moes hulleself regtig afsonder met baie groot erns, en daarom was ’n Fariseër een van twee soorte mense:

  1. Hy was ’n wettiese, skynheilige persoon wat homself as verhewe bo ander mense beskou het.
  2. Hy kon ook iemand gewees wat ’n brandende begeerte gehad het om toegewyd aan God te lewe.

Volgens die Talmoed kon die mense sewe verskillende soorte Fariseërs onderskei. Dit is nie net baie interessant nie en beskrywend nie, maar ook heel komies. Die sewe verskillende soorte word hier net kortliks bespreek:

  1. Daar was die “Skouer Fariseërs”. Hulle was meedoënloos in hulle wetsonderhouding; en het hulle goeie werke op hulle skouers rondgedra vir almal om te sien.
  2. Die “Wag-’n-bietjie Fariseërs” het altyd ’n verskoning gehad waarom hy so ’n bietjie moes wag voordat hy ’n goeie daad verrig. Hulle het baie gepraat, maar min gedoen.
  3. Die “Gekneusde en bebloede Fariseërs” was so vroom dat hulle dit nie kon waag om net toevallig ’n vrou op straat raak te sien nie. Hulle het met toe oë deur die strate geloop en hulleself natuurlik verwond deur in alles vas te loop.
  4. Die “Boggelrug Fariseërs” was só nederig, dat hulle krom gebuig deur die strate geloop het. Hulle het nie hulle voete behoorlik opgetel nie en het met ’n skuifelstappie teen alles wat voorgekom het, vasgeloop en daaroor geval.
  5. Daar was ’n groep wat voortdurend besig was om ’n balansstaat op te stel tussen hom en God, sodat hy vir God in die skuld by hom kon kry. Hulle was die “Altyd-uitreken Fariseërs”.
  6. Die “Vresende Fariseërs” was voortdurend bang vir goddelike straf. Sy lewe was ’n vreesaanjaende ontvlugting van God se oordeel.
  7. Laastens was daar ook “Godvresende Fariseërs”, wat God werklik opreg liefgehad het. Hulle het absolute vreugde daarin gevind om gehoorsaam te wees aan die wet van God, hoe moeilik dit ook al was.

Matteus 23:1-11 Ons moet nie vir een oomblik dink dat Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs hier komplimenteer vir al hulle reëls en regulasies nie. Hy sê hier vir die mense dat hulle die groot beginsels van die wet wat Moses van God ontvang het, soos wat dit aan hulle geleer word deur die skrifgeleerdes en die Fariseërs, moet gehoorsaam. In Matteus 5:17-20 het ons gesien wat hierdie beginsels is. Al tien gebooie is gebaseer op twee baie groot beginsels:

  1. Eerbied vir God; vir sy Naam; vir sy dag; vir die ouers wat Hy vir ons gegee het.
  2. Respek vir ’n ander mens se lewe; vir sy besittings; vir sy huwelik; sy goeie naam.

Hierdie beginsels is bindend en vir ewig geldig, en solank as wat dit vir die mense geleer word, moet hulle luister en gehoorsaam wees. Deur egter duisende reëls op mense te laai, maak hulle godsdiens ’n ondraaglike las. Dit is ’n goeie toets vir enige geloofsiening. Die vraag is of dit ons oplig, of veroorsaak dit vir ons ’n ondraaglike las? Ons geloof in Jesus Christus se genade en liefde vir ons, gee aan ons altyd vreugde en dankbaarheid wat ons graag met ander mense wil deel.

Die geloof van die Fariseërs het niks anders as ’n vertoon van hulle eie vroomheid en heiligheid geword nie. Hulle wou net deur die mense raakgesien word. In Eksodus 13 lees ons dat die Here aan Moses gesê het dat die volk moet voortgaan om elke jaar die Pasga te vier en dat dit vir hulle soos ’n teken op die hand en ’n merk op die voorkop sal wees om hulle te herinner dat die Here hulle met groot mag uit Egipte gered het (Eks 13:16). Om hierdie opdrag uit voer, het die Jode begin gebedsbande te dra. Om hulle pols het hulle ’n band met ’n klein leerdosie gedra waarin daar Skrifgedeeltes opgeskryf was. Die volgende Skrifgedeeltes was daarop geskryf: Eksodus 3:1-10; 11-16; Deuteronomuim 6:4-9; 11:13-21. Om aandag op hulleself te vestig, het die Fariseërs besondere breë bande met buitengewoon groot leerdosies daaraan vasgemaak, gedra.

Hulle het ook tossels aan hulle klere vasgewerk. Ons lees daarvan in Numeri 15:37-41 en in Deuteronomuim 22:12. Die Fariseërs het ook daarvan gehou om die belangrike sitplekke by elke feesmaal te kry, aan die linker- of regterkant van die gasheer. Hulle het ook graag heel voor in die sinagoge gesit. Die agterste sitplekke was vir die kinders en die onbelangrike mense bedoel. Die mees geëerde sitplekke was dié van die ouderlinge wat omgedraai was sodat hulle na die gemeente kon kyk. Almal kon sodoende sien wie daar is.

Die Fariseërs het ook baie daarvan gehou om as rabbi aangespreek te word. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle belangriker is in elke mens se lewe as sy eie ouers. Sy ouers het aan hom net die fisiese lewe gegee, maar sy rabbi gee aan hom die ewige lewe.

Jesus sê in vers 8 dat sy volgelinge net een Leermeester en een Vader het. Enige geloofsiening wat in mense se harte trots, verwaandheid, eie-ek en spoggerigheid veroorsaak, is vals. Volgelinge van Jesus is bewus van hulle eie tekortkominge en kan maar net in dankbaarheid voor Hom kniel.

Matteus 23:13-27 ’n Bekende teoloog van die vorige eeu, het gesê dat ons in hierdie verse die dreigende donder van Christus se woede baie duidelik hoor. Dit is soos weerligstrale wat niks ontsien nie, maar ook alles verlig terwyl dit tref.

Jesus begin sewe van sy uitsprake, vers 29 ingesluit, met die woorde: “Ellende wag vir julle ...” Die woord “huigelaars” kom hier telkemale voor. Die Griekse woord wat met “huigelaars” vertaal is, hupokritēs, beteken eintlik “akteur” of iemand wat voorgee om te wees wat hy of sy nie is nie. Vir Jesus was die Fariseërs en skrifgeleerdes mense wat voortdurend ’n rol gespeel het. Hulle hele godsdiens het bestaan uit die dra van buitensporige gebedsbande en tossels, en die meedoënlose nakom van reëls en wette. In hulle harte was daar egter bitterheid, jaloesie, trots en verwaandheid.

Wat het Jesus bedoel met die beskuldiging in vers 13: “Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe?” Ons het reeds gesien in Matteus 6:10, dat om die koninkryk van God te laat kom, is om sy wil volmaak te doen op aarde soos wat dit in die hemel gedoen word. Om ’n burger van God se koninkryk te wees, en om God se wil te doen, is dieselfde ding. Die Fariseërs het geglo dat hulle God se wil doen met hulle onderhouding van kleinlike moets en moenies. Wanneer mense probeer het om God se koninkryk te vind, het die Fariseërs hulle hieraan bekend gestel. Dit was net so goed asof hulle die deur in hulle gesigte toegemaak het. Daar is niks so gevaarlik as wanneer ’n persoon wat iemand anders leer, sy eie idees as die waarheid van God voorhou nie. Deur hulleself te mislei, mislei hulle ook ander mense.

Die antieke wêreld het ’n weersin gehad in die Joodse geloof. Daar was seker geen volk wat meer gehaat is as die Jode nie, want hulle afgesonderdheid en selftevredenheid het die ander nasies vyandig teenoor hulle gemaak. Tog was daar ook ’n vreemde aantrekkingskrag aan die feit dat daar net een God is. Die Joodse etiese en morele lewenstandaarde het die mensdom, veral vroue, wat só in immoraliteit vasgevang was, bekoor. Die gevolg was dat baie nie-Jode aangetrokke tot Judaïsme gevoel het.

Daar was die “Godvresende” nie-Jode wat die gedagte van een God aanvaar het en ook die Joodse morele wette, maar nie die seremoniële wette en die besnydenis nie. Dit was die doelwit van die Fariseërs om hierdie “Godvresendes” in proseliete te verander. Die Griekse woord daarvoor is prosēlutos, en beteken “die een wat naby gekom het.” So ’n proseliet het die Joodse geloof ten volle aanvaar met al die wette, reëls en regulasies en besnydenis in die volle sin van die woord. Dit het dikwels gebeur dat so ’n bekeerde meer fanaties toegewyd was aan die Joodse wet as die Jode self.

Jesus beskuldig die Fariseërs in vers 15 eintlik daarvan dat hulle sendelinge vir die duiwel is. Hulle het nie mense na God toe gelei nie, maar na hulle eie sekte. Geen kerk of denominasie het ’n monopolie op God nie. Dit is ons taak om die waarheid van God se Woord aan soekende mense te bring, ongeag van watter denominasie onsself afkomstig is.

Ons het reeds in Matteus 5:33-37, gesien dat die Jode absoluut gekonfyt was in allerlei verskillende metodes om ’n eed te ontduik. Die enigste eed wat hulle verplig was om na te kom, was dié waarin die Naam van God gebruik is. Die gedagte daaragter, is dat God as ’n vennoot in die transaksie beskou is, en wanneer so ’n eed verbreek is, is dit nie net ’n vertrouensbreuk met ander mense nie, maar dit was ook ’n belediging vir God.

Die wetenskap van ontduiking, was van hoogstaande gehalte onder die Jode gewees. Jesus maak eintlik hier ’n bespotting van die absurditeit van die Joodse metodes, en Hy wys daarop dat die hele manier waarop hulle ’n eed ontduik, is eintlik gebore uit hulle diepgewortelde valsheid en skynheiligheid. Ware gelowiges sal nooit, wanneer hulle ’n eed aflê, dit doen met die voorbedagte beplanning om die nakom daarvan te ontduik nie.

Vir Jesus was die saak eenvoudig. God hoor elke woord wat ons sê, en Hy sien die bedoelinge van ons hart. Daarom behoort die aflê van ’n eed vir elke Christen, met sy oop eerlikheid en opregtheid, ’n saak van groot erns te wees.

In verse 23 en 24 sien ons dat die Fariseërs so vreeslik nougeset was in die gee van hulle tiendes, dat hulle selfs tiendes van kruisement, anys en koljander gegee het. Dit is kruie wat in die kookproses gebruik is, en die opbrengs daarvan was so klein, dat die Jode nie verplig was om daarvan ook ’n tiende te gee nie. Die Fariseërs het dit egter nougeset gedoen, maar hulle het geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid nagelaat.

Net so kry ons vandag nog baie Christene wie se geloofslewe vol goeie werke is, vir al die mense om hom om raak te sien, maar intussen is sy huwelik aan flarde, of sy kinders word so afgeskeep dat hulle problematiese kinders word.

In vers 24 gebruik Jesus ’n baie beeldryke, maar ook ’n lagwekkende, illustrasie. Muggies en kamele is albei as onrein beskou, en moes nie geëet word nie. Wanneer ’n persoon egter met groot moeite ’n muggie uit sy wyn skep, maar so ewe ’n kameel saam met sy wyn afsluk, dan kry ons ’n prentjie van ’n persoon wat geheel en al sy sin vir balans in die lewe verloor het.

Die gedagte van onreinheid het ook voortdurend na vore gekom. Hierdie was nie liggaamlike onreinheid wat ter sprake was nie. ’n Persoon was byvoorbeeld onrein wanneer hy aan ’n lyk geraak het, of met ’n nie-Jood in aanraking was. ’n Vrou is as onrein beskou wanneer sy gemenstrueer het, en enige voorwerp was onrein wanneer so ’n onrein persoon daaraan gevat het. Die wet wat hulle saamgestel het om so ’n onrein voorwerp weer te reinig, was belaglik ingewikkeld.

Net so kan dinge vandag nog in kerke uit verband geruk word. Gemeentes het al in twee geskeur oor die kleur van ’n mat of die vorm van die Nagmaalkelkies. Dit is tragies dat sake van geen belang, dikwels soveel Christene se vrede steel.

In verse 27 en 28 kry ons weer ’n prentjie wat elke Jood sal verstaan. Daar was baie grafte in Palestina langs die paaie waar reisigers te voet gereis het. Ons het reeds gesien dat enigeen wat met ’n dooie liggaam in aanraking was, as onrein beskou is (Num 19:16). Enigeen wat dus aan ’n graf geraak het, was dus ook outomaties onrein. Gedurende die tyd voor die Pasga-fees, in die maand van Adar, moes al die grafte langs die paaie met wit kalk geverf word sodat dit duidelik sigbaar was. Sodoende kon die reisigers dit duidelik sien en nie per ongeluk daaraan raak nie.

Die grafte het dan spierwit in die sonlig uitgestaan, maar binne was dit vol droë bene en verrotte liggame. Dit is presies die prentjie wat die Fariseërs geskep het. Van buite af was hulle toegewyde godsdienstige mans, maar binne was hulle harte vol huigelary, sonde en minagting vir die wet van God.

Matteus 23:29-36 Jesus sê hier vir die Jode dat hulle voorgeslagte met moord besmet was en dat hulle nog steeds dieselfde besmetting dra. Hulle hou die grafte van die profete in stand en maak daarop aanspraak dat, as hulle in daardie tyd geleef het, hulle self nooit die manne van God sou doodmaak nie. Tog is dit presies dieselfde ding wat hulle nou wil doen.

Waarom sou Jesus vir Abel en Sagaria uitsonder wanneer Hy sê dat die Jode verantwoordelik sal wees vir die bloed van die vromes wat op die aarde uitgestort is? Ons weet almal dat Abel deur Kain vermoor is en dat dit die eerste moord is wat op aarde gepleeg is (Gen 4:8). Die moord van Sagaria is nie so bekend nie. Ons lees daarvan in 2 Kronieke 24:20-22. Lees dit gerus. Ons sien daar dat Sagaria die seun van die priester Jojada was. Daar is geen ander verklaring vir die feit dat hy hier in Matteus die seun van Berekja genoem word, as dat die Evangelieskrywer ’n fout begaan het nie.

Ons weet dat Genesis die eerste boek van die Bybel is, maar die volgorde van die Hebreeuse Ou Testament, verskil van dié van ons Bybel. Daar is 2 Kronieke die heel laaste boek. Ons kan dus sê dat, van die begin tot die einde, is die geskiedenis van Israel ’n verwerping van hulle wat deur God gestuur is.

Jesus het geweet dat Hy gaan sterf en dat sy volgelinge, in die nabye toekoms, en ook deur die eeue daarna, verwerp en doodgemaak sou word. Dit is inderdaad ’n tragedie, dat die volk wat God uitgekies en lief gehad het, teen Hom gedraai het, en dat hulle dag van afrekening moes kom.

Dit laat ’n mens dink. As ons verlede beoordeel sou word, wat sou die uitspraak wees? Sou ons teenstanders of helpers van God wees?

Matteus 23:37-39 Ons sien hier die pynlike hartseer van verworpe liefde. Jesus praat nie hier as die streng Regter van die wêreld nie, maar as die liefhebber van mense se siele. Hierdie beskrywing wys vir ons hoe baie van die Evangelieverhaal ons nie ken nie. Volgens die vier Evangelies, was Jesus nog nooit in Palestina voordat Hy na hierdie laaste Pasga-fees gekom het nie. Jesus sou nie die woorde in vers 37 gesê het, as Hy nie herhaaldelik in Jerusalem was en die mense tot bekering opgeroep het nie. Ons sien ook hier vier groot waarhede:

  1. God het oneindige geduld. Jerusalem het die profete en die boodskappers van God doodgemaak; tog het Hy op die einde sy Seun gestuur. Ons sien dat God oneindige geduld en liefde vir mense het, en hulle nie sommer afskryf nie.
  2. Jesus se appèl op ons lewens is altyd uit liefde. Hy forseer ons nooit. Hy staan met uitgestrekte arms en wag, maar laat die verskriklike verantwoordelikheid aan ons oor om dit te aanvaar of te verwerp.
  3. Mense kyk na die glorie van Jesus en hoor sy roepstem, en nog steeds verwerp hulle Hom, met oop oë en ’n geslote hart.
  4. Die verskriklike gevolge daarvan om Jesus te verwerp, kan ons hieruit lei. Skaars veertig jaar het verby gegaan, en Jerusalem is verwoes.