STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 24 (Vervolg)

’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament

Die Evangelie van Matteus

Anita Joubert

Matteus 24:9-10 Die profetiese rede: rampe en vervolging 

In hierdie woorde lees ons die absolute eerlikheid, sonder enige doekiesomdraai, waarmee Jesus sy volgelinge geleer het. Hy het nooit aan hulle ’n maklike pad belowe nie. Hy het hulle gewaarsku dat hulle swaarkry, vervolging en selfs die dood te wagte kan wees. Die ware kerk sal altyd, tot die einde toe, ’n vervolgde kerk wees. Daar is verskeie redes daarvoor:

  1. Jesus verwag van ons ’n nuwe lojaliteit wat groter moet wees as enige aardse verbintenisse. Die vroeë Christene was gehate mense in die samelewing omdat hulle huisgesinne en families verdeel het deurdat een lid van ’n gesin dikwels tot bekering gekom het en die ander nie. Christene moet aan Jesus Christus die eerste plek in hulle lewens gee, en dit bots baie keer met menslike standaarde.
  2. Jesus bied aan ons ’n nuwe standaard. Daar is baie gebruike en tradisies wat vir die wêreld mag reg lyk, maar dit is nie aanvaarbaar volgens dit wat die Bybel ons leer nie. Die vreemde gevoel van weerstand wat Christenskap by nie-Christene veroorsaak, is dat diegene wat nie wil verander nie, dit weerstaan en diegene wat dit wel doen, haat.
  3. Jesus stel deur Christene ’n nuwe voorbeeld aan die wêreld voor. Omdat daar iets mooi in ons lewens is, laat dit ander se lewens sleg lyk. Ons is die lig van die wêreld; nie deurdat ons ander moet kritiseer en veroordeel nie, maar omdat ons aan ander ’n Christusgevulde lewe voorhou.
  4. Jesus gee aan mense ’n nuwe gewete. Geen Christen of kerk, kan lafhartig stilbly wanneer dit nodig is om die Christelike gewete van die samelewing te wees nie.
  5. Jesus word deur die duiwel gehaat, en daarom haat hy ook vir ons wat Hom volg. Daarom sal ons verseker swaarkry en vervolg word.


Matteus 24:3-5, 11-13,
Die profetiese rede:rampe en vervolging 

Matteus 24:23-26 Die profetiese rede:die groot verdrukking 

Hierdie Skrifgedeeltes handel almal oor die twee groot gevare wat die kerk van die Here Jesus bedreig en waarteen Hy sy dissipels gewaarsku het. Dit was reeds ’n probleem in die vroeë kerk, maar soos wat die tyd verby gegaan het en ons al hoe nader aan die eindtyd gekom het, het dit toenemend ’n baie groot probleem geword.

  1. Die eerste gevaar is dié van vals leraars en leiers. Vals leiers is mense wat hulle eie weergawe van die waarheid aan die mense voorhou, in plaas van die waarheid soos deur Jesus aan sy dissipels geleer is. So ’n vals leraar probeer ook altyd om mense aan homself te laat vaskleef, in plaas daarvan om hulle te help om hulle oë op Jesus Christus te vestig. Sulke vals leraars veroorsaak verdeeldheid, in plaas van eenheid. Die toets vir enige leier is dat hy soos Jesus, die minste, moet wees.
  2. Die tweede gevaar is dat mense moedeloos en mismoedig word. Daar is baie wie se liefde vir Jesus afkoel weens die toenemende wetteloosheid en afvalligheid in die wêreld. ’n Ware Christen is iemand wat vashou aan dit waaraan hy glo, al is die omstandighede ook hoe moeilik. Dit is ook iemand wat, al lyk die omstandighede ook hoe duister, weier om te glo dat God se arm te kort is om te help of dat sy krag nou skielik minder geword het.

Matteus 24:3; 24:14 Die profetiese rede:rampe en vervolging 24:27-28 Die groot verdrukking

Hierdie verse verwys almal na Jesus se wederkoms. Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament na Jesus se terugkoms aarde toe verwys, is parousia. Dié woord is oor die algemeen gebruik om die aankoms van ’n goewerneur in sy provinsie aan te kondig, of die besoek van ’n koning aan sy onderdane.

Uit hierdie paar verse, kan twee baie groot feite afgelei word:

  1. Ons kan weet dat Hy wat gekruisig is, weer gaan terugkeer om te kom regeer as Here en Koning van almal.
  2. Ons kan ook weet dat die geskiedenis êrens heen op pad is. Somtyds dink mense dat die wêreld net al hoe dieper in chaos en sonde verval. Soms dink hulle ook dat die geskiedenis homself net herhaal en dat dieselfde dinge altyd net weer oor en oor gebeur. Die Stoïsyne was ’n Griekse filosofiese denkrigting wat geglo het dat daar sekere vasgestelde tydperke is, en aan die einde van elkeen daarvan word die wêreld vernietig, en dan begin alles weer van vooraf in die fynste detail. Ons as Christene, se eindtydverwagting, gee aan ons die versekering dat dit nie so is nie. Ons weet dat daar ’n begin is, en ’n einde van hierdie wêreld soos ons hom ken. Jesus se terugkeer na hierdie wêreld is ’n essensiële waarheid wat vir Christene deur die afgelope eeue net ’n veraf gebeure was wat nog êrens in die toekoms moes plaasvind. In die tyd waarin ons vandag leef, weet ons dat dit werklik baie naby is.

 

Matteus 24:32-35 Die profetiese rede:Die voorbeeld van die vyeboom

Dit lyk asof hierdie verse in die volgende gedeelte, verse 36 tot 44, mekaar weerspreek. In verse 32 tot 35 lees ons dat ons kan weet, net soos wat dit moontlik is deur die tekens wat ons in die natuur kan sien, dat die somer aan die kom is. Net so kan ons deur die tekens in die wêreld rondom ons, sien dat die wederkoms van Jesus Christus naby is. Iets wat, met alles wat vandag rondom ons gebeur, nie baie moeilik is om raak te sien nie.

In vers 34 sê Jesus iets wat dalk vir ons vreemd kan klink en nie maklik verstaanbaar is nie: “Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.” Die Evangelieskrywers van Markus en Lukas het ook albei hierdie woorde van Jesus in hulle Evangelies aangehaal (Luk. 21:32 en Mark. 13:30). Albei van hulle het dit ook so saam met die voorbeeld van die vyeboom vertel. Bybelnavorsers het deur die eeue verskillende interpretasies aan hierdie woorde van Jesus gegee, maar die mees aanvaarbare is dat wanneer al die tekens sigbaar is, kan ons weet dat dit alles in die leeftyd van ’n eindtydgeslag sal plaasvind. Wanneer die gebeure van die eindtyd begin, sal dinge baie vinnig gebeur. Ons het ’n baie lang tydperk van genade gehad, meer as tweeduisend jaar, maar dit is nou feitlik verby. Wanneer die tyd vir God se oordele finaal aanbreek, sal dit alles baie vinnig plaasvind. Ons vind ook hierdie gedagte in ander Skrifgedeeltes soos Matteus 24:22, waar Jesus gesê het: “As dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef het nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.”

In 1948 het Israel, na baie eeue waarin die land onontwikkeld en verwaarloos was, en deur vreemdes bewoon is, weer ’n staat geword. Die profeet Esegiël het ’n profesie daaroor uitgespreek in Esegiël 37:8 tot 12. Die volk Israel se teenwoordigheid in die land wat God aan hulle gegee het, is ’n noodwendigheid vir die regering van die antichris. Alles is dus al reeds vir die afgelope drie en sewentig jaar, die eindtydgenerasie, besig om in gereedheid te kom vir die finale sewe jaar waarin die antichris gaan regeer, voordat Jesus Christus sy regmatige plek as Koning gaan inneem.

Matteus 24:36-44 Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms

Uit hierdie verse kan ons sekere belangrike waarhede oor die wederkoms van Jesus Christus aflei:

  1. Die dag en die uur van hierdie groot gebeurtenis, is net aan God alleen bekend. Ons taak is om te sorg dat ons gereed is en om daarop te wag.
  2. Dit gaan ’n aardskuddende skok wees vir diegene wat aan hulle aardse besittings verknog is en net leef vir hierdie lewe. Noag het homself voorberei vir die vloed wat sou kom, terwyl dit nog alles kalm en rustig was. Toe dit begin reën het, was alles gereed. Die res van die mensdom om hom, was verlore in hulle geëet en gedrink. Hulle het getrou en is in die huwelik uitgegee, en was geheel en al onbewus van wat besig was om om hulle te gebeur. Hierdie verse is vir ons ’n baie ernstige waarskuwing dat ons nooit so verstrengel moet raak met aardse aangeleenthede nie, dat ons vergeet dat daar ’n God is wat met ons in ’n verhouding wil staan. Ons moet nooit vergeet dat die lewe en dood in sy hande is nie, en dat wanneer Jesus kom, of dit nou ook al watter tyd van die dag of nag is, dat ons gereed moet wees nie.
  3. Dit gaan ook ’n tyd van skeiding en oordeel wees, wanneer Jesus almal wat aan Hom behoort, gaan bymekaar maak.

Diewe stuur nie aan ’n huiseienaar ’n brief waarin hy hom meedeel dat hy by sy huis gaan inbreek nie. Die verrassingselement is ’n inbreker se grootste wapen. Daarom moet die huiseienaar sy waardevolste besittings voortdurend bewaak. Net so moet ons voortdurend op die uitkyk wees vir Jesus se koms wat enige tyd kan plaasvind. Die enigste groot verskil is dat ons nie vir sy koms hoef bang te wees nie, maar met gretige verwagting daarna kan uitsien, omdat dit ’n gebeurtenis van vreugde en heerlikheid gaan wees.

Matteus 24:45-51 Die profetiese rede: die getroue en die ontroue slaaf

Om te dink dat daar nog baie tyd is en dat ons maar later op sy koms kan voorberei, is die sekerste manier om op ’n ramp af te stuur. Hierdie gelykenis beklemtoon vir ons die gevaar daarvan om toe te laat dat die duiwel ons op hierdie wyse mislei. Daar bestaan ’n verhaaltjie waarin vertel word dat Satan drie van sy ondergeskikte demone opgelei het. Hy het vir hulle gevra hoe hulle beplan om die mensdom te vernietig. Die eerste een het geantwoord dat hy vir hulle gaan vertel dat daar geen God is nie. Die Satan het geantwoord dat dit nie genoeg mense sal mislei nie, want die meeste mense weet goed dat daar ’n God is. Die tweede demoon se plan was dat hy vir die mense sou sê dat daar geen hel is nie. Die Satan het geantwoord dat dit ook nie genoeg mense sal mislei nie, want die meeste mense weet ook goed dat daar ’n hel as straf vir hulle sonde is. Die derde demoon het gesê dat hy vir die mense sal sê dat hulle nie bekommerd moet wees nie; daar is nog baie tyd. Satan se antwoord aan hom was: “Mooi so! Gaan! Jy gaan daardeur miljoene mense mislei en hulle in die hel laat beland.” Een van die gevaarlikste dinge in enige mens se geestelike lewe, is om te dink dat daar iets is soos die dag van môre. Niemand van ons weet wat die dag van môre inhou nie. Vandag is die dag waarop ons dinge met die Here en met ons medemens moet regmaak.

Jesus wil ons aan die werk kry wanneer Hy terugkom. Die slaaf wat aan die werk is wanneer sy eienaar terugkom, is gelukkig en hy sal vir sy getrouheid vergoed word. Al wat ons moet doen, is ons plig. Dit maak nie saak hoe eenvoudig daardie plig is nie, die dag wanneer Jesus kom, sal daar vreugde wees saam met Hom. Die slaaf wat ontrou geword het, is doodgemaak en het die lot van huigelaars gedeel. Dáár waar daar gehuil word, en op die tande gekners word.