STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 4:11-12

’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament

Anita Joubert

Jakobus 4:11-12   Moenie kwaad praat nie

Die Grieks-Afrikaanse Interliniêre Bybel vertaal vers 11 so: “Broers, moenie slegpraat van mekaar nie.” Die Griekse woord is katalalein. Dit beteken om slegte en lelike dinge van iemand te sê wanneer hy nie teenwoordig is om homself te verdedig nie. Dit is dieselfde woord wat Paulus gebruik in sy brief aan die Romeine wanneer hy ’n lys van ongeregtighede noem waaraan die goddeloses hulleself skuldig maak (Rom. 1:30). Ook Petrus veroordeel hierdie sonde in 1 Petrus 2:1. Mense besef nie altyd dat daar min sondes is, wat so ernstig deur Bybelskrywers veroordeel word, as juis die sonde van onverantwoordelike skinder met kwade bedoelinge. Jakobus veroordeel dit veral om twee fundamentele redes:

  1. Dit is verbreking van die koninklike wet dat ons mekaar moet liefhê soos wat ons onsself liefhet. Ons kan mekaar mos nie liefhê wanneer ons van mekaar sleg praat nie. Wanneer ’n persoon ’n wet doelbewus verbreek, dan beskou hy homself as verhewe bo die wet. Hy maak dan van homself ’n regter van die wet.
  2. Om van ons naaste sleg te praat, is om hom te veroordeel. Geen mens het die reg daartoe nie, net God mag oordeel.

Jakobus 4:13-17 Afhanklikheid van God

Die Jode was die groot handeldrywers van die antieke tyd. In die tyd van Jesus en net daarna, is daar baie stede gevestig en die Jode is dikwels gratis burgerskap aangebied omdat die stadstigters geweet het dat hulle geld en handelsvermoëns ’n aanwins vir die stad sou wees. Hulle het dan vir ’n tyd lank daar gaan bly, goed geld gemaak, en dan teruggekeer na Jerusalem. Dit is met hierdie mense wat Jakobus hier praat.

Die onsekerheid van die mens se toekoms was deur alle eeue deel van die mens se gedagtewêreld. Die Spreukeskrywer het gesê: “Moenie roem oor wat jy more verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie” (Spr. 27:1). Jesus het ’n gelykenis vertel van die ryk, maar dwase man wat vir hom ’n fortuin bymekaar gemaak het, maar vergeet het dat sy lewe van hom af weggeneem kan word (Luk. 12:16-21). Vir Jakobus is die onsekerheid van die lewe ’n motivering om ons algehele afhanklikheid van God te besef. Mense soos Paulus, wat die erns daarvan besef het, het hulle planne in afhanklikheid van God gemaak. Hy skryf aan die Korintiërs: “Maar binnekort sal ek na julle toe kom, as die Here wil, ...” (1 Kor. 4:19). Jakobus sluit in vers 17 af deur in der waarheid te sê dat hy die waarheid nou aan sy lesers voorgelê het, en dat hulle nou gewaarsku is. Hulle sal nooit kan sê dat hulle nie geweet het nie.