STUDIE- HANDLEIDING – 1 PETRUS

’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Petrus in die Nuwe Testament

Anita Joubert

Inleiding tot 1 Petrus

   Van al die sendbriewe van die apostels, is 1 Petrus die mees bekende en geliefde brief en dit is ook deur die eeue, die meeste gelees. Die verwagting van Jesus se wederkoms is op die voorgrond van Petrus se gedagtes in hierdie brief. Vir hom is dit die motief waarom Christene standvastig moet lewe, en met volharding en deursettingsvermoë die swaarkry moet verdra.

   Dit is ook betekenisvol om daarop te let dat dít wat Petrus sê in 1 Petrus, is presies dieselfde leerstellinge wat ons vind in die eerste hoofstukke van Handelinge. Dit is dus presies dít wat die vroeë Kerk aan die lidmate geleer het. Die vroeë Kerk se lering was op vyf hoofgedagtes as boublokke gebaseer:

  1. Die Messiaanse tydperk het aangebreek en die uitverkorenes van God word opgeroep om by hierdie nuwe gemeenskap aan te sluit.
  2. Hierdie nuwe tydperk het aangebreek deur die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus. Hierdie gebeure is alles die direkte vervulling van die profesieë van die Ou Testament en is daarom die resultaat van die definitiewe plan en voorkennis van God.
  3. Deur die opstanding, is Jesus verhoog tot die regterhand van God en is Hy die Messiaanse Hoof van die nuwe Israel.
  4. Hierdie Messiaanse gebeure sal binnekort sy vervulling bereik met die terugkeer van Jesus Christus in al sy heerlikheid, waarna die oordeel van die lewendes en die dooies sal plaasvind.
  5. Hierdie feite doen ’n beroep op mense om hulleself te bekeer, God se vergifnis, die Heilige Gees en die belofte van die ewige lewe te ontvang.

Bybelnavorsers het deur die eeue die feit dat Petrus, ’n Galilese visserman, die briewe geskryf het, bevraagteken. Hulle het gesê dat hy nie die briewe in sulke goeie en afgeronde Grieks kon skryf nie. Die brief gee egter self vir ons die antwoord op hierdie vraagstuk in 1 Petrus 5:12, waar Petrus sê dat Silvanus vir hom die kort briefie op skrif gestel het. Silvanus is na alle waarskynlikheid dieselfde persoon as die Silas in Handelinge (Hand. 15:32). Silas is die verkorting vir die naam Silvanus. Hy was ’n profeet (Hand. 15:32); hy was ook deel van die geselskap wat saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe gestuur is (Hand. 15:22). Paulus het vir Silas gekies as sy reismetgesel op sy tweede sendingreis (Hand. 15:40). Aangesien Silas ’n Romeinse burger was, is die kans baie goed dat hy oor geleerdheid beskik het wat nooit vir Petrus beskore was nie. Hy het dus, heel waarskynlik, Petrus se Grieks afgerond en in sy eie styl aangepas.

Die ontvangers van hierdie brief was die nuwe bekeerlinge wat verspreid gewoon het, regdeur Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. Ons weet glad nie waarom hierdie spesifieke streke uitgesoek is nie, maar een ding is seker, dit dek ’n baie groot area met ’n baie groot bevolking. Die feit dat dit alles genoem word, is verseker een van die grootste bewyse van die ontsaglike sendingbedrywighede van die vroeë Kerk, afgesien van dié streke wat Paulus met sy sendingreise bereik het.

   Dit is duidelik uit die inhoud van die brief, dat sy ontvangers hoofsaaklik nie-Jode was. Daar word nêrens melding gemaak van enige kwessie oor die wet nie. Dit is ’n probleem wat maar altyd na vore kom wanneer mense ’n Joodse agtergrond het. Die mense vir wie Petrus skryf, was vroeër nie ’n volk nie, maar nou is hulle ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom (1 Pet. 2:10).

Hierdie brief is geskryf in ’n tydperk toe vervolging reeds ’n ernstige bedreiging was. Aanvanklik het die Romeinse Regering die Christene as ’n Joodse sekte gesien, en hulle nie eintlik aan hulle gesteur nie. Die groot verandering het in die tyd van die Romeinse keiser, Nero, gekom. In 64 n.C. is Rome afgebrand. Die vuur het drie dae lank gebrand. Die Romeinse bevolking was oortuig daarvan dat die keiser die oorsaak daarvan was. Nero het ’n obsessie oor bouwerk gehad, en hulle het geglo dat hy dit geïnisieer het sodat hy die stad kon herbou. Daar het verslae behoue gebly waarin mense geskryf het dat hulle verhinder is wanneer hulle die vlamme probeer blus het. Hulle het selfs gesien dat mense dit weer aangesteek het.

Die mense was verbitterd teenoor Nero en hy moes ’n sondebok kry. Hy het die Christene van sy eie misdaad beskuldig. Dit was nie moeilik om dit reg te kry nie, want hulle is alreeds van verskeie oortredings beskuldig. Anti-Semitisme het alreeds begin opvlam en die Christene het ’n konneksie met die Jode gehad. Hulle is van kannibalisme beskuldig omdat hulle die nagmaal gebruik het en iemand se bloed gedrink het en sy vleis geëet het. Hulle het glo familieverhoudings vernietig, en ook gepraat van ’n tyd wat sou kom waarin alles in vlamme sou opgaan.

Na hierdie gebeure, was Christene in lewensgevaar. Die eerste brief van Petrus is dus nie geskryf om dwaalleer te bestry nie; dit is geskryf om mense se geloof te versterk wat heel moontlik vir hulle geloof sou moes sterf.

Daar is dikwels deur Bybelnavorsers beweer dat Petrus nooit sou skryf dat sy lesers hulle aan die menslike owerheid moet onderwerp nie (1 Pet. 2:13). Dit is egter presies dieselfde siening wat in Romeine 13:1-7 ook beklemtoon word. Die hele lering van die Nuwe Testament, behalwe Openbaring, waarin Rome veroordeel word, is dat Christene lojale burgers moet wees en die vals beskuldigings teen hulle as vals moet bewys deur hulle goeie gedrag (1 Pet. 2:15).

Barclay is oortuig daarvan dat hierdie eerste brief van Petrus, sy eie handewerk is en dat hy dit geskryf het kort na die brand in Rome in 64 n.C. Sy bedoeling daarmee was om die Christene van KleinAsië te bemoedig om vas te staan in hulle geloof, en nie toe te laat dat die vervolging hulle van die ewige lewe beroof nie.