STUDIE- HANDLEIDING – 1 PETRUS 1

’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Petrus in die Nuwe Testament

Anita Joubert

Die eerste brief van Petrus

1 Petrus 1

1 Petrus 1:1-2 Inleidend

Dit gebeur dikwels in die Nuwe Testament dat die grootheid van ’n gedeelte nie met die eerste oogopslag sigbaar is nie. Die diepte van wat regtig gesê word, lê dikwels in die oortuigings wat agter die woorde skuil. So is dit ook in hierdie gedeelte. Dit is duidelik dat die brief geskryf is vir nie-Jode. Wat hier uitstaan, is dat woorde en begrippe wat voorheen oorspronklik net op Jode van toepassing was, die uitverkore volk, nou ook gebruik word om die nie-Jode te beskryf. Die nie-Jode het voorheen geglo dat hulle buite die genade van God is. Die Jode het geglo dat God net vir Israel, van al die nasies in die wêreld, lief was. Hulle het graag gesê dat die heidene bedoel is om brandstof vir die hel te wees.

  1. Petrus noem die mense aan wie hy skryf, nou in vers 1: “die uitverkorenes van God.” Eens op ’n tyd was dit ’n titel wat net aan Israel behoort het. “Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is” (Deut. 7:6). Die Here sê ook deur die profeet Jesaja: “Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel, wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ’n eretitel ...” (Jes. 45:4). Die Jode het misluk in die taak wat God vir hulle gehad het. Toe Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het, het hulle Hom verwerp en gekruisig. Toe Jesus die gelykenis van die boere en die wingerd vertel het, het Hy gesê dat Israel se erfenis van hom af weggeneem sal word, en aan ander gegee sal word (Matt. 21:41; Mark. 12:9; Luk. 20:16).
  2. Die groot Nuwe Testamentiese idee van die Christenkerk, is dat dit die ware Israel is (Gal. 6:16). Al die voorregte wat eens aan Israel behoort het, is nou aan Jesus se Kerk gegee. Daar kan geen groter kompliment en voorreg in die wêreld wees, as om deur God uitverkore te wees nie. Maar dit bring egter ook ’n uitdaging en ’n verantwoordelikheid mee. God kies ons altyd om diensbaar te wees. Die eer wat ons van Hom ontvang, is om vir sy doel gebruik te word.
  3. In vers 1 lees ons ook dat Petrus sy brief rig aan die

“vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon ...” Die 1953-Afrikaanse Vertaling noem die ontvangers van die brief “die vreemdelinge van die verstrooiing ...” Die Jode het om verskeie redes hulle land verlaat en in die vreemde gaan woon. Sommige het dit gedoen ter wille van goeie besigheidsgeleenthede, maar ander is deur ballingskap weggevoer en het nooit weer teruggekeer nie. Hulle is die

Diaspora genoem. Eens op ’n tyd was die mense wat anders was as die ander, die Jode. Nou is dit die Christene wat anders is as die res van wêreld. Hulle is die volk wie se Koning God is, wie se tuiste die hemel is en wat ballinge in hierdie wêreld is. Terwyl ons hier is, moet ons nie aan hierdie wêreld behoort nie. ’n Tydelike inwoner in ’n ver, vreemde land, is in Grieks ’n paroikia genoem. Dit was iemand wie se gedagtes altyd terug verlang het na sy vaderland. So is Christene ook mense wie se oë, waar hulle ookal is, altyd na God gedraai is en wie se lojaliteit altyd by Hom lê. Die skrywer van die Hebreërsbrief skryf: “...want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige” (Heb. 13:14). Omdat Christene dinge in die lig van die ewigheid sien, is hulle die beste inwoners van enige land, want hulle kan die ware waarde van dinge sien.

In vers 2 word ons ook gekonfronteer met drie groot feite van die Christelike lewe:

  1. ’n Christen word uitverkies ooreenkomstig die voorkennis van God ons Vader. Die Christenkerk se oorsprong lê dus in die ewige doel en plan van God. Wanneer ons mismoedig word, dan kan ons onsself daaraan herinner. Daarom kan die Kerk, solank dit getrou bly aan God, nooit misluk nie.
  2. ’n Christen is uitgekies om deur die Heilige Gees geheilig te word. Daarom is die Heilige Gees vir ons onontbeerlik in elke deel van ons Christenlewe. Dit is die Heilige Gees wat in ons ’n verlange wakker maak om God en sy goedheid te ken. Dit is die Heilige Gees wat ons van sonde oortuig en ons na die kruis van Jesus lei om vergifnis van sonde te kry. Dit is die Heilige Gees wat ons bevry van sondes wat ons vasbind en verhinder om vrugte te dra. Dit is ook die Heilige Gees wat ons die versekering gee dat ons sondes vergewe is en dat Jesus Christus die Here is.
  3. ’n Christen is uitgekies vir gehoorsaamheid en vir besprinkeling deur die bloed van Jesus Christus. Daar word in die Ou Testament drie maal van besprinkeling met bloed melding gemaak:
    1. ’n Persoon wat melaats was en gesond geword het, moes met die bloed van ’n voël besprinkel word (Lev. 14:1-7). Die handeling was simbolies van reiniging. Deur Jesus se offer, word Christene ook gereinig van sonde.
    2. Toe Aäron en sy seuns as priesters afgesonder is, moes hulle ook met bloed besprinkel word (Eks. 29:21). Dit was dan ook simbolies daarvan dat iemand afgesonder is vir besondere dienswerk. Christene word ook so afgesonder vir God se dienswerk in die wêreld.
    3. Die belangrikste prentjie van besprinkeling het sy oorsprong in die verbondsverhouding tussen die volk Israel en God. God het uit genade met Israel ’n verbond aangegaan. Daardie verhouding was afhanklik daarvan dat die Israeliete die voorwaardes vir die verbond moes nakom en die wet gehoorsaam. As ’n teken van hierdie verhouding van gehoorsaamheid tussen God en sy volk, moes Moses die helfte van die bloed van ’n offer neem en dit op die altaar sprinkel, en die ander helfte van die bloed op die mense (Eks. 24:1-8). Deur die offer van Jesus Christus, is Christene geroep om in ’n nuwe verhouding met God te tree. Daarin word hulle sonde van die verlede vergewe, maar hulle word tot gehoorsaamheid verplig in die tyd wat daarna kom.

Dit is dus deur God se doel en plan dat ons as Christene geroep word. Dit is deur die werk van die Heilige Gees dat ons lewens aan God toegewy word. Dit is deur die besprinkeling van die bloed van Christus dat ons gereinig word van ons sondige verlede en toegewy word vir toekomstige gehoorsaamheid aan God.