GEBED VIR DIE NAWEEK

Here, ons leef in ʼn gemeenskap wat aan geen mens aanstoot wil gee nie, maar nie skroom om U aanstoot te gee nie. Hulle weet nie weet Wie U is nie! Gevolglik dank ons U vir medegelowiges wat U ken en eer en wat aan U glo soos aan die son daarbuite, nie omdat hulle U sien nie, maar omdat hulle in U lig leef.

Maak ons liefdevol teenoor liefdelose mense en vergewensgesind teenoor hulle wat nie wil vergewe nie. Roep ons deur u Gees tot selfverloëning op sodat ons nie onsself sal verhef en die eie ek ten toon stel nie. Seën ons met ʼn vaste geloof wat stewig op die grond staan en in die rigting van die hemel loop.

Verhoed o Here, dat ons wil leef asof geld en gemak die hoofdoel van die lewe is. Laat ons eerder vir die dinge ywer wat nie met geld gekoop kan word nie; dinge van die ewigheid wat ons hemelwaarts wink en ons siele met die nuwe lewe in Christus laat opbruis. Mag u grootheid hierdie week in ons nederige afhanklikheid van U skitter!

Amen