Dankie Here vir die voorreg om U op hierdie Maandagoggend in gebed te mag aanroep en te weet dat gebed die grootste koordlose skakeling denkbaar is. Al beland ons in die diepste put styg ons gebede tot in die hoogste hemel op omdat geen afstand so kort is soos dié tussen ons en U nie.
Gebed is die asem van ons siel waarsonder ons nie kan leef nie. Wanneer ons bid, is dit soos ʼn hek wat na die hemel oopgaan en ons op hoër geestelike grond plaas. Laat ons nooit vergeet om vir mekaar te bid nie, ook vir ander mense as ons niks anders vir hulle kan doen nie.
Verfris ons siele met die lewensgeur van gebed en laat ons ons seëninge met dankbaarheid omsoom sodat dit nie uitrafel en ons u hand nie meer daarin gewaar nie. Laat die blydskap oor ons verlossing in Jesus Christus soos goddelike grimering op ons gesigte wees en laat die sonlig van u goddelike beloftes hierdie week oor ons doen en late skyn.
Amen