Here, dankie vir die gawe van die lewe. U is die Lener en ek die ontvanger daarvan. U Woord is duidelik dat daar ʼn dag kom dat ek dit moet teruggee en verslag daarvan aan U sal moet doen. Gee dat ek nooit vergeet dat alles wat ek is en het, net genade is nie. Maak my derhalwe nederig sodat u grootheid in my nederigheid sal skitter en van my hart die mooiste tempel vir U maak.
Seën my met lewensvreugde en leer my dat vreugde ʼn vrug van die Gees en nie ʼn byproduk van stoflike welvaart is nie. Herinner my om voortdurend bly te wees oor die redding van my siel en laat my blydskap nooit van omstandighede afhang nie.
Laat my geloof in U soos die son wees wat opkom en my mooi dinge rondom my laat raaksien. Seën my so Here, dat my lewe ook vir ander tot seën sal wees. Maak my lewe vry van haat; my gedagtes vry van kommer en laat ek meer gee en minder verwag.
Reinig my lewenspad deur u Woord en Gees sodat ek ʼn goeie voorbeeld vir ander sal wees en nooit ʼn wrede waarskuwing word nie. Laat my reinheid ander se onreinheid soos waarskuwingsligte laat brand.
Amen