GEBED VIR DIE WEEK

Dankie Here vir die voorbeeldige lewens van my ontslape geliefdes. Gee my die genade dat ek na my eie dood net soos hulle onthou sal word.   Laat goedheid en geloof my karakter kenmerk en soos ʼn goue ketting wees wat mense liefdevol aan mekaar bind. Gee dat my lewe ’n fontein van vreugde sal wees wat alles om my verfris en sonskyn in baie mense se lewens bring.

Laat niks my teen die bose beskerm soos om goed vir mense te wees nie. Maar dan ook nie bloot goed nie, Here, maar goed omdat ek uWoord gehoorsaam en in u weë wandel.

Dankie dat my lewe nie altyd verloop soos wat ek wil hê nie, maar soos wat U, Here, dit voor die grondlegging van die wêreld beplan het. Laat my derhalwe nooit ʼn vraagteken plaas waar U ʼn punt gesit het nie. Reinig my lewe so, dat ek nooit ʼn slegte voorbeeld en ʼn wrede waarskuwing word nie. Laat môre se blomme die saad sal wees wat ek vandag saai!