Anita Joubert
Wonder jy soms of Jesus werklik bestaan het? Daar word gesê die Bybelverhale is mites wat deur mense uitgedink is.
Die Christus-mite?
Die feit dat Jesus se letterlike, fisiese bestaan in ons tyd ontken word, het as die “Christus-mite” bekend geword. Volgens Ellen Johnson, president van die Amerikaanse Ateïstiese Vereniging, bestaan daar nie een enkele sekulêre bewys dat daar ooit ‘n Jesus Christus geleef het nie. Volgens haar is Jesus ‘n samevoeging van ander gode wat dieselfde oorsprong en dood as die mitologiese Jesus Christus gehad het. Net jammer dat sy nooit die moeite gedoen het om die ware feite te soek nie.
Die vraag is hoe ons ‘n mitologiese karakter van ‘n werklike persoon onderskei. Wanneer ons byvoorbeeld na die lewe van Alexander die Grote kyk, dan is die vraag, watse bewyse het historici oortuig dat hy werklik geleef het? Hy en Jesus word albei as sterk leiers beskou, albei het kort loopbane gehad en in hul dertigerjare gesterf. Alexander was ‘n man van oorlog wat deur sy swaard regeer het, maar Jesus was ‘n man van vrede wat deur liefde regeer het.
Alexander die Grote
Alexander die Grote het in 336 v.C. koning van Masedonië geword. Sy geskiedenis is verkry vanuit net vyf antieke bronne wat geskryf is 300 jaar en meer na sy dood. Daar bestaan nie een enkele getuienis wat deur ‘n ooggetuie van sy lewe neergeskryf is nie. Tog glo historici dat hy werklik bestaan het. Sy bestaan is verder bevestig deur die impak wat hy op die wêreld se geskiedenis gehad het, asook deur argeologiese opgrawings. Ons moet dus na bewyse van Jesus se bestaan op dieselfde maniere soek.
Jesus
Vroeë Romeinse historici het hoofsaaklik oor mense en gebeure geskryf wat van groot politieke belang was vir die Romeinse Ryk. Omdat Jesus nie van onmiddellike politieke of militêre belang was vir Rome nie, het hulle nie só baie oor Hom geskryf nie. Tog het twee Romeinse historici, Tacitus (55-120 n.C.) en Suetonius (69-130 n.C.) geskryf van ‘n Christus wat tydens die regeringstyd van Tiberius geleef het en onder Pontius Pilatus gely het. Ook dat Hy gekruisig is en dat sy lering ver in Rome versprei het.
Romeinse regeringsamptenare het briewe geskryf waarin daar van Jesus en vroeë Christene wat Hom as ‘n God aanbid het, melding gemaak is. Die een was Plinius die Jonge, ‘n magistraat in die regeringstyd van keiser Trajan. Hy het in 112 n.C. aan keiser Trajan geskryf van sy pogings om Christene te dwing om Christus, wat hulle as ‘n God aanbid het, te verwerp. Keiser Trajan, wat vanaf 56 tot 117 n.C. geleef het, het self ook briewe geskryf waarin hy van Jesus en die Christene melding gemaak het. Keiser Hadrian (76-136 n.C.) het oor Christene as volgelinge van Jesus geskryf.
Verskeie vroeë heidense skrywers het voor die einde van die eerste eeu kortliks in hul skrywes van Jesus of van die Christene melding gemaak. ‘n Totaal van nege buite-Bybelse skrywers het binne 150 jaar na Jesus se dood, van Hom melding gemaak en Hom as ‘n werklike persoon erken. In hierdie skrywes wat behoue gebly het, daar mag nog baie meer gewees het, het die volgende feite oor Jesus na vore gekom: Jesus was van Nasaret; Hy was ‘n wyse man en is gekruisig onder Pontius Pilatus; sy dissipels het geglo dat Hy drie dae later uit die dood opgestaan het; sy dissipels het vroom lewens gelei en hulle het Hom as ‘n God aanbid.
Flavius Josefus
Josefus was ‘n aristokratiese Jood van Jerusalem wat in ‘n stadium aan die Fariseërs behoort het. Toe die Romeine Israel in 66 n.C. ingeval het, is hy aangestel as militêre leier om Galilea te beskerm. Hy is toe gevange geneem en het na die Romeinse kant oorgeloop. Hy het ‘n werkstuk, Testimonium Flavianum, geskryf, onafhanklik van die Nuwe Testament, waarin hy vertel het van ‘n wyse man, Jesus, van sy sukses-volle prediking, sy verhoor en sy kruisiging en sy volgelinge wat na sy dood aan Hom getrou gebly het.
Vroeë Christene
Vroeë Christene het letterlik duisende briewe, preke, kommentare en geloofsbelydenisse oor Jesus geskryf, so vroeg as net vyf jaar na sy kruisiging. Duisende volledige of gedeeltelike nie-Bybelse geskrifte, waarvan sommige uit die eerste eeu, is met die loop van die jare ontdek. Hierdie geskrifte sou, met uitsondering van enkele verse, die hele Nuwe Testament kon vorm. Elkeen van hierdie skrywers het oor Jesus geskryf asof Hy ‘n werklike mens was.
Selfs nie-Christelike historici beskou die antieke kopieë van Nuwe-Testamentiese manuskrifte wat gevind is, as konkrete bewyse dat Jesus werklik bestaan het. Die argeoloog, Sir William Ramsey, het verklaar dat Lukas ’n historikus uit die boonste rakke is. Volgens hom behoort Lukas se naam as historikus tussen die grootste van alle tye geplaas te word, aangesien sy weergawe die toets van betroubaarhed geslaag het.
Weergawes oor Alexander die Grote is geskryf 300 jaar na sy dood. Afskrifte van manuskrifte van die Bybel wat in die 19de en 20ste eeu deur argeoloë ontdek is, het bewys dat daar veel vroeër oor Jesus geskryf is. William Albright het die Nuwe Testamentiese boeke tussen 50 en 75 n.C. gedateer. John A.T. Robinson van Cambridge is oortuig daarvan dat alle Nuwe Testamentiese boeke tussen 40 en 65 n.C. geskryf is.
Kopieë van Nuwe Testamentiese manuskripte
Die hoeveelheid manuskripte van die Nuwe Testament is enorm. Meer as 24 000 volledige of gedeeltelike afskrifte van manuskripte bestaan. Geen ander antiek-historiese persoon, godsdienstig of sekulêr, se bestaan word deur soveel dokumentasie gerugsteun as dié van Jesus Christus van Nasaret nie.
Jesus se invloed
Wanneer ons na die geweldige invloed kyk wat Jesus se bestaan op die geskiedenis van die wêreld gehad het, dan sien ons die volgende:
- Meer boeke is oor Jesus Christus geskryf as oor enige ander persoon in die geskiedenis.
- Nasies het Jesus se woorde gebruik as die kern van hul regerings. Volgens Durant was die oorwinning van Christus die begin van demokrasie.
- Jesus se Bergprediking het ’n nuwe model vir morele en sedelike waardes daar gestel.
- Skole, hospitale en baie ander humanitêre instellings het in sy Naam tot stand gekom. Meer as 100 groot universiteite, insluitend Harvard, Yale, Princeton, Dartmouth, Columbia en Oxford, is deur sy volgelinge gestig.
- Die nuwe, verbeterde posisie van die vrou in die samelewing van Westerse kulture, kan teruggevoer word na Jesus se lering. In Jesus se tyd is vrouens as minderwaardige en baie onbelangrike, ondergeskikte wesens beskou. Vandag nog word vrouens in die Moslem en Hindoe-kulture, in die naam van godsdiens, mishandel en onderdruk.
- Slawerny is ook uiteindelik in Engeland en Amerika verbied na aanleiding van Jesus se lering dat elke mens waardevol is.
Verstommend is dat hierdie invloed uitgeoefen is deur ’n bediening wat net drie jaar geduur het. Toe die bekende skrywer en wêreldhistorikus, H.G.Wells, gevra is wie die grootste nalatenskap aan, en invloed op die wêreld se geskiedenis gehad het, het hy geantwoord: “Jesus staan eerste.”
Bronne
BRUCE, F.F., The New Testament Documents: Are they reliable?, Grand Rapids 1997.
BRUCE, M.M., The Text of the New Testament. New York, 1992.
CHAPMAN, L. Y-Jesus Magazine, Was Jesus a real Person?, http://jesusonlineministries.com/resources/products, 2012. 2015.07.27
DURANT, W., Caesar and Christ. The story of Civilization, vol 3. New York, 1972.