Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Verbly jou o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring – Prediker 11.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (2)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Met sy saalsakke oor sy skouers gegooi, die een teen sy rug vol ponde en die een aan die voorkant met een wapen en ammunisie, die laaistel in ‘n ander sak en die tweede pistool in sy gordel gedruk, loop Jan deur se kant toe. Net voordat hy buitekant is, vang sy oog iets in die venster. Dis ‘n breë, plat houtkissie, uitgevoer in blou fluweel, met messe, vurke en lepels in die gleuwe gepak. Jan vat die kissie, maak dit toe en kyk na die naam wat in die deksel gegraveer maar uitgekrap is op ‘n baie kru manier. Tog, as hy dit kissie teen die lig hou, kan hy nog sy ma se voorletters daarop sien: “A.W. V.”
Jan was nog nooit geseën met ‘n lydsame humeur nie en hy is onmiddellik weer woedend. Ephraim het aan die manier waarop hy omdraai en naderloop gesien daar is groot moeilikheid. Hy klap die kort deurgangsflap van die toonbank oop en hardloop agtertoe, waar hy hoop hy veilig gaan wees. Voordat hy egter twee tree beweeg het, gryp Jan hom aan sy kraag en ruk hom vloer toe. Met sy linkerhand op die Jood se keel en sy linkerbeen oor sy maag en onderlyf, druk hy hom op die grond vas.
“Nee, nee, Miesta Jan Verwey!”
En dan oor sy skouer roep hy na sy dogter:
“Sarah, gaan roep die konstabel!”
Jan skreeu nie, maar kners so hard op sy tande, dat sy kakebeen seerkry. Wanneer hy praat, val fyn spoegdrupppels op Ephraim se gesig.
“Waar het jy hierdie gekry!?”
“Dit was ‘n ônest deal Jan, ônest op my moeder se graf!”
“By wie, jou skelm Israeliet?”
“Ek onthou nie mooi nie, ek sweer!”
Jan het met sy regterhand die fris Greener Howdah pistool uit sy gordel getrek, die lope oopgeknak en druk ‘n vet rondte in elkeen van die lope. Met ‘n rukbeweging van sy gewrig klap hy die pistool toe, druk die regterloop in Ephraim se mond en sleep sy wang kant toe, totdat hy die tweede loop ook in die man se mond het. Hy trek die swaar hane agertoe, tot hulle die een na die ander ‘n klikgeluid maak.
“Jy het een kans om die waarheid te vertel, jou stinkgesig bliksem, dan blaas ek jou harspan oor die hele stuk vloer. Verstaan jy my?”
Ephraim se oë is so groot dat Jan vir ‘n oomblik bang is hulle val uit die kaste. Ephraim knik stadig met sy kop, terwyl sy oë op Jan gerig bly. Daar is drie redes waarom hy nie sy kop vinnig beweeg nie – hy is bang die voorste visier druk sy vierde laaste bo-tand uit, die feit dat sy wange so wyd gesper is en derdens omdat hy bang is die geringste vinnige beweging sal die pistool laat afgaan. Jan voel hoe iets teen sy linkerbroekspyp se onderkant nat en warm word. Hy kyk met afkeer na die urine wat Ephraim laat gaan het soos sy blaas se brieke gly.
“Sies man! Wie was dit? Ek gaan die pistool uit jou bakkies trek, en dan praat jy! En ek sal weet as jy vir my lieg, hoor!”
Ephraim knik weer versigtig. Jan trek die pistool uit die man se mond en vee vies die spoeg van die loop teen die ou se baard af.
“Dit was Hans Koster. Hans, ek sweer dit!”
Sarah het intussen aangekom met die konstabel, wat half besluiteloos staan en kyk wat aangaan. Wanneer Jan opstaan, kom hy versigtig nader. Hy weet immers nie of die man beserker geraak het nie en as hy die grootte van die pistool se tromp-opening sien, huiwer hy verder.
“Wat gaan hier aan? Gaan iemand verduidelik?”
“Luister, jou mak snotneus hanslam, hierdie man het my familie se erfgoed gesteel. Vat daardie kissie en dan kyk jy hoe hy my ma se voorletters uitgekrap het, nadat hy dit gesteel het.”
Konstabel Beyers vat die kissie en kyk na die deksel.
“Nee, Konstabel, ek sweer…”
Jan kyk hom weer kwaai aan en haal die regterhaan van die pistool, wat hy intussen laat sak het, weer oor.
“Konstabel, ek sweer ek het dit by Hans Koster gekoop! Hy het die krapwerk gedoen, nie ek nie!”
“Het u geweet dat die deksel beskadig is en dat die ware indentiteit van die eienaar…”
“Ja, Sakkie Beyers, hy het geweet.”
Jan sien nou dat onder binne die onderbaadjie se sak ‘n horlosie is, waarvan die kettinkie ‘n boggel maak oor die effense boepens en dan aan ‘n knoop vas is.
“Gee daardie horlosie hier!”
“Nou wat…?”
Jan haal die ander haan ook oor, Ephraim haal vinnig die horlosie uit en gee dit aan. Daar is egter ‘n uitdrukking van triomf in sy oë.
“Bewys dat dit joune is, Miester Jan Verwey!”
Jan knip die goue sakhorlosie oop. Aan die dekseltjie se binnekant is ‘n verbleikte foto, wat hy weet sy ma se gesig is. Hy kyk ‘n oomblik daarna, laat sak die pistool se hane en steek die wapen weer in sy gordel. Wanneer die konstabel mik om nader te kom, sien hy die kyk in Jan se oë en weifel.
“Slim van jou, Sakkie.”
Met sy wysvinger se nael haal hy die foto af, dis immers van ‘n ligte soort staal gemaak, en dan sien hy die ingegrafeerde voorletters van sy pa in versierde skrif: “P.A.V”. Hy gee woordeloos die horlosie aan die konstabel, wat dit vlugtig ondersoek en dan versigtig vir Jan teruggee.
“Wie is PAV?”
“Jy het my pa geken, het jy nie?”
“Ja, ek het.”
“So?”
“Ek glo jou.”
Omdat die handelaars van die dorp vir konstabel Sakkie Beyers ‘n salaris betaal, weet hy dat hy tussen die duiwel en die diep blou see is. Gee hy aan Jan gelyk, sal Ephraim dalk nie sy deel van die salaris betaal nie, maar as hy Eph se kant vat… Jan gee hom ‘n kwaai kyk en sit sy hand op die pistool se greep.
“Meneer Epstein ek vermoed dat u ingeloop is deur een van u kliënte.”
“Hans Koster!” sê Ephraim.
“Ja, meneer Koster, lyk dit. Tog glo ek dat die goed die besittings is van meneer Verwey hier en ek versoek u om dit onmiddellik aan hom terug te gee.”
Jan vat ‘n wilde kans.
“Konstabel, ek dink jy moet sommer gaan kyk of my ma se silwer skinkborde, suikerpot en melkbeker en teestel nie ook hier agter in die stoor is nie.”
“Dis nie nodig nie, Miester. Dis wel hier. Ek gaan haal dit.”
“Ek is jammer meneer Epstein, maar ek sal u moet arresteer en prosedeer vir diefstal.”
“Maar konstabel Beyers…”
“Meneer Epstein, diefstal of die besit van gesteelde goedere is ‘n ernstige misdaad.”
“Maar wat van iets soos goedertrou? Ek het tog betaal vir die goeters.”
Beyers dink lank en diep.
“Ek sê u wat. Indien meneer…”
“Verwey. Jan Verwey.” antwoord Jan.
“Indien meneer Verwey en u ‘n gelyk kan besleg en hy nie ‘n amptelike klag lê nie, sal ons dit kan oorsien. Hierdie keer slegs.” Natuurlik sien Sakkie Beyers ook vir hom nie net ‘n uitkoms nie, maar ook iets om oor Ephraim se kop te hou.
“Maar net te goed, Konstabel! As u ‘n paar minute vir my en meneer Verwey hier kan gee?”
Sodra Sakkie buite en nie binne hoorafstand nie, draai Jan na Ephriam toe. Hy is steeds kwaad, maar hou die woede onder beheer.
“Praat tog, Israeliet!”
“Meneer Verwey, u staan tog nie op trou en het nie ‘n vrou nie, soveel weet ek van jou?”
“Ja, maar wat het dit met die prys van eiers te doene?”
“Prys van eiers? Ek verstaan nie.”
Jan sug. “Dit het niks te doen met wat hier aangaan dat ek nie ‘n vrou het nie.”
“O, maar ek verskil, Meneer!” Ephraim het nou ‘n bietjie van sy selfvertroue herwin en hy sien dalk net ‘n uitkoms.
“Jy sien, meneer Jan, jy het nie werklik die silwerware nodig nie. Nie nou nie altans. Ek kan jou ‘n ruil gee, wat jy baie handig kan gebruik. Later, as jy ‘n vrou vat en ek het nog die eetgoed hier, kan ons daaroor onderhandel.”
Jan se regterhand neig na die pistool toe, maar Ephraim hou albei hande in die lug.
“Nei, Nei, Miesta,” val hy terug na sy gewone spraak. “Ek het hier ‘n ding, net die regte een vir jou wat vir jou baie kan help. Dis baie meer werd as die silwer, en as jy vir my nog een pond kan bysit uit dié wat ek jou gegee het…”
Die uitdrukking in Jan se oë is glad nie wat hy op gehoop het nie.
“Wat ek bedoel, Miesta, is dat ek baie sal betaal vir ivoor, leeuvelle, luipaardvelle, buffelhorings en renosterhorings. Nou weet ek jy het gewere, maar as dit by olifante kom, het ek net die regte ding. Wag net ‘n wyle hier, ek gaan haal gou.”
Jan wag ongeduldig vir ‘n volle ses minute. Ephraim kom terug met ‘n lang, breë houtkis. Hy knip dit oop en daarbinne lê die mooiste wapen wat Jan nog gesien het.
“Hierdie het ‘n week terug hier aangekom. Dis ‘n Holland&Holland dubbelloop vierboor geweer. Dit skiet ook met doppe, soos daardie Howda en Snider, maar het baie… chutspa – krag, as jy verstaan. Kyk, hier is die patrone.”
Die dik, bronsdoppe van die massiewe rondtes staan in netjiese rye in die kartonne wat Ephraim uitgehaal het. Dis egter die geweer self, wat Jan se oë laat glinster. Ephraim staan regop, sy hande oor sy boepensie gevou en hy glimlag selfvoldaan.
“As jy nou net daardie horlosie en ‘n pond bysit?”
Jan het die geweer se drie dele uit die kas gehaal, waar dit in groen fluweel lê en na ‘n oomblik se huiwering pas hy die loop in die aksie en knip die hout vooreinde vas. Hy haal die hane oor en mik na die hoek, waar die dakbalke en die muur bymekaar kom. Hy laat sak die hane, druk met sy duim die sluitknip oop en sit twee van die massiewe patrone in die lope, waar dit met ‘n gladde slipgeluid ingly. Hy knip dit toe, haal die hane weer oor en mik dan na Ephraim se voorkop. Die Jood se oë lyk weereens of dit wil uitpeul van skrik.
“Dis goed, Miesta Verwey. Ons roep dit quits!”
Jan sê nie ‘n woord nie, ontlaai die geweer, haal dit uitmekaar en plaas dit terug in die kas. Sonder ‘n woord maak hy sy besittings bymekaar en loop by die deur uit, waar hy dit in die voorste wa se wakis sit. Alles, behalwe die twee pistole.
As hy op die wa klim, en die touleier die sweep klap, sien hy ‘n man by die landdroskantoor uitloop. Op hierdie afstand lyk dit half na Hans Koster, maar dit kan nie wees nie, want die man is netjies aangetrek, en aan sy arm loop die mooiste vrou wat Jan nog gesien het. Sy is nie lank nie, korter as die man by haar, maar slank en met ‘n dun middeltjie, anders as baie van die vroue wat Jan ken en dit is skielik vir hom die begeerlikste ding wat hy nog ooit gesien het, selfs beter as die geweer. Die vrou lag, haar kop skud effens en die bolla wat agter haar nek is, gaan los. Die vosbruin hare wat soos ‘n waterval oor haar skouers val, blink in die oggendson.
‘n Uur later ry Jan by die dorp uit. Natal is baie ver.