WAT VAN DIE GRYS GEBIEDE?
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
Ongelowige mense probeer nie om in die lig van God se waarheid te leef nie. Dalk steur hulle hul wel aan wat reg en verkeerd is, maar hiervoor gebruik hulle hul eie maatstawwe.
Met gelowiges is dit egter anders gesteld. Hulle soek lig en leiding in die Woord van God. In hierdie opsig het hulle egter 'n probleem. Omdat die Bybel meer as 2000 jaar gelede geskryf is, en die situasie waarin die gelowiges vandag leef aansienlik verander het, kom die gelowige vandag soms voor probleme te staan wat nie in die Bybelse tye bekend was nie. Hier dink ons aan vraagstukke soos die genadedood, kernbewapening, seks voor die huwelik, stakings, die rookgewoonte en vele ander. Hierdie vraagstukke noem ons die 'grys gebiede' aangesien daar onsekerheid oor die saak bestaan en selfs gelowiges dikwels uiteenlopende menings oor die saak het. Wat staan hulle nou te doen?
Dis in hierdie verband dat Jesus destyds 'n belangrike belofte aan sy dissipels gegee het. Ons lees daarvan in Johannes 16:12-13. Hier sê Hy: "Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei." Daar was destyds ook nie tyd vir Jesus om die dissipels op alles voor te berei wat in die toekoms sou opduik nie. Daarom gee Hy hierdie wonderlike, tydlose, belofte aan sy dissipels.
As die godsdienstige mens voor 'n probleem te staan kom, sê hy vir homself: "Maar God heers mos oor alles. Wat sal sy opinie van hierdie en daardie saak wees?" In die proses stel die godsdienstige mens reëls op, of lei hy dit af uit die een of ander heilige boek. Dis ook wat die Fariseërs in die tyd van Jesus gedoen het met die Ou Testament. Hulle het tot in die fynste besonderhede reëls uitgewerk van wat in bepaalde omstandighede gedoen en nie gedoen mag word nie. So het hulle ook byvoorbeeld talle reëls opgetrek om te verduidelik wat dit beteken as God in die Tien Gebooie sê: "Jy mag nie doodslaan nie," of "Jy mag nie egbreuk pleeg nie."
Daar is egter 'n gevaar aan hierdie metode verbonde. Dit kan mense "wetties" maak. Dit beteken dat hulle hulle uiteindelik daarop sal toelê om hulle eie mensgemaakte wette na te kom, terwyl hulle God se doel met die gebooie uit die oog verloor. Soms kan dit gebeur dat hulle dan selfs hulle wette gebruik om die eintlike gebod van God te omseil. Die opstel van sulke wettiese reëls en regulasies hou dus die gevaar in dat dit die menslike gewete van sy verantwoordelikheid kan onthef.
Dit is wat dan ook dikwels gebeur het. So byvoorbeeld het die Fariseërs geleer: "Jy mag nie doodslaan nie," maar hulle het hulleself oorgegee aan haat, wantroue, slegte gevoelens, skinderveldtogte, ensovoorts. Hulle het die wet misbruik om bloot hul eie selfsug te laat botvier. Dit is een van die hoofredes waarom hulle vir Jesus oorgegee het om gekruisig te word.
Dis dan ook die probleem met elke godsdienstige stelsel van reëls en regulasies. Dit kan die mens se gewete onthef van die plig om die dieper bedoeling daarmee te eerbiedig. So raak reëls wat bedoel is om liefde te bevorder, uiteindelik 'n verskoning om te haat.
Deur die wyse waarop Jesus met die wet van die Ou Testament omgegaan het, leer Hy ons een ding, naamlik dat die gewete opgeskerp moet word. Die toets vir elke handeling is die vraag of ek my naaste so liefhet soos myself. Daarom sê Jesus: "Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur." Matt 5:22. Om die gebod "Jy mag nie moord pleeg nie," na te kom beteken ten diepste dat ek die lewe wat God aan my en my naaste gegee het met alle mag en van harte sal probeer beskerm en verbeter.
Hoe die wet in besonderhede en in elke omstandigheid uitgevoer moet word, word nie gesê nie. Tog beloof Jesus leiding in hierdie opsig as Hy sê: "Die Gees... sal julle in die HELE waarheid lei." Wat bedoel Jesus hiermee? Hy verduidelik verder: "Hy (die Gees) sal My (Jesus) verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig." So bly Jesus self deur die Gees by sy dissipels, 24 uur per dag, om hulle in die waarheid te lei.
Hierdie waarheid is nie 'n stel reëls – soos die Moslems se Koran of die Jode se Talmoed – nie. Dis ook nie 'n waarheid in dieselfde sin as wat 2 x 2 gelyk is aan 4 nie. Dis iets wat in elke nuwe situasie tot stand kom, iets wat 'gebeur'. Dit is iets waarvan jy bewus raak deur die persoonlike teenwoordigheid van Jesus. Dit is die Gees wat jou laat vra: "Wat sou Jesus in hierdie situasie gedoen het?" Dis nie 'n waarheid waaroor jy kan beskik nie, want as jy dit gevind het, dan beskik dit oor jou, want dit kom uit die mond van Jesus.
'n Bejaarde leraar vertel eendag van 'n predikant wat aan sy kerkraad gesê het: "Ek het lidmaat X nou al soveel jaar bearbei – sonder sukses. Ek gaan hom nou regtig nie meer besoek nie." Die kerkraad sou dit ook so aanvaar het, as dit nie was nie dat 'n eenvoudige ouderling opgestaan het en gesê het: "Die predikant is heeltemal reg en ons kan almal verstaan hoekom hy so sê, maar as dit die Here Jesus was, dan het Hy weer gegaan." So lei die Gees.
Dit was ook die ervaring van die kerk deur die eeue. Ná die eerste 'sinode-sitting' te Jerusalem sou die vergadering 'n brief skryf met die woorde: "Die Heilige Gees en ons het besluit..." Hand 15:28.
Dikwels het die kerk voor die moeilikste vraagstukke te staan gekom maar nooit het Hy teleurgestel nie. Daarom kan Paulus ook skryf: "...ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie." 2 Kor 4:8.
Wat staan 'n gelowige te doen indien hy voor 'n moeilike keuse staan, of 'n oordeel moet vel met betrekking tot een van die 'grys gebiede'?
- Gebruik Jesus se reël as vertrekpunt en vra jouself die vraag: Hoe kan ek my naaste in hierdie opsig net so liefhê soos wat Jesus vir my aan die kruis gehad het?
- Onthou dat jy nie alleen met hierdie saak worstel nie. Die waarheid wat God gee, is nie iets waaroor 'n mens as enkeling kan beskik nie. Jy sal in gesprek met ander gelowiges en saam met die universele kerke die waarheid moet soek, anders sal jy dit nooit vind nie.
Om hierdie rede bid Paulus vir die gemeente in Efese: "Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek." Ef 3:18. Namate jou lewe toenemend onder beheer van die Heilige Gees kom, leer jy ook om saam met ander gelowiges die waarheid te soek. - Laastens: Moenie ophou soek voordat jy weet wat die Here vir jou in jou spesifieke situasie wil sê nie. Dalk kan jy regtig nie 'n antwoord vind nie, en moet jy in die hitte van die oomblik 'n keuse maak wat jy later weer in heroorweging sal moet neem, maar deur sy Gees wil God ons gewetens steeds opskerp sodat ons in die situasies waarmee ons worstel die regte beslissing kan maak. " ...wat Hy (die Gees) van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig," sê Jesus. Gelowiges weet dat Hy dit vandag nog doen.