OPPAS VIR VERLEIERS!
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
Johannes skryf met 'n dringendheid, 'n gevoel dat die wêreld enige oomblik tot sy einde kan kom: "Kinders dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste". ( 1 Joh 2:18).
Met die koms van Christus het die mens besef dat daar iets eenmaligs aan die gebeur was, dat die wêreldgeskiedenis sy beslissende fase betree het. Die teenstand van die Christendom sou hulle net meer hiervan oortuig. Jesus, en die profete voor hom, het die gelowiges van die begin af gewaarsku dat hulle teenstand sou kry.
As ons vandag na die wêreldhorlosie kon kyk sou ons dalk skrik as ons sien hoe naby ons wêreld aan sy einde is. Die kort uurwyser kon dalk al byna sy volle sirkel voltooi het. Ons weet nie wanneer alles in vervulling gaan nie maar dat daar 'n laaste dag kom, 'n laaste uur en laaste minuut, is seker.
Die ongeveer tweeduisend jaar sedert Johannes sy woorde geskryf het, was moontlik maar 'n vlietende oomblik in God se tydsberekening. Jesus en die Profete het egter gesê dat die laaste tyd herkenbaar sou wees aan die verskyning van antichriste wat sal probeer om die kerk te vernietig.
'n Mens is geneig om aan die antichriste te dink as booswigte wat van buitekant kom om die kerk te vervolg en te vernietig. Tog skryf Johannes: "Hulle het... uit ons geledere voortgekom" (1 Joh 2:19).
Daar is vandag ook so 'n aanslag teen die kerk aan die gang en dit word al hoe hewiger. In baie lande van die wêreld word die Christelike godsdiens aan bande gelê – soms deur diktators, soms deur die politici wat bedreig voel deur gelowiges, en soms deur aanhangers van goddelose ideologieë.
In Suid-Afrika is ons geneig om die kommuniste as die antichriste te sien. En tog, as ons dit doen, is ons eintlik besig om hulle 'n te groot kompliment toe te swaai. Dan maak ons hulle sterker as wat hulle werklik is. Van een ding kan ons seker wees: Die antichriste is veel magtiger as die kommuniste.
Johannes leer ons dat die antichriste in die eerste plek nie die kerk van buite aanval nie maar van binne. Hulle is "vyfde kolonne" binne die kerk, besig om die kerk van binne uit te hol. So matig is die antichriste dat hulle kans sien om die kerk van binne af te takel.
Hoe sal mens hulle uitken? Johannes sê dat hulle aan hulle leer herkenbaar is. Binne die kerk is daar twee soorte mense – die skyn-gelowiges en die ware gelowiges.
Die skyn-gelowiges
Mense kan sondige lewens lei – in sekere sin is ons almal sondaars en tot die bose geneig – maar dit is nie wat Johannes in gedagte het as hy van die antichriste praat nie,. Die antichriste se werk kom nie na vore in die algemene sondigheid nie maar in 'n subtiele verdraaiing van die leer van die kerk.
Hulle het in die kerk ingekom maar het innerlik nooit werklik deel geword van die kerk nie. Hulle kon dalk selfs aktief meegeleef het met baie dinge in die kerk maar hulle het nie tot die uitverkorenes behoort nie. Hulle was in die kerk vir ander sake. Hulle was daar, nie om God se doelstellings te bevorder nie maar eerder dié van die opposisie.
Die ware gelowiges
Die ware gelowiges is deur Christus (die Gesalfde) self met die Heilige Gees gesalf. Daarom ken hulle die waarheid. Dit het sekerlik nie beteken dat hulle alles geweet het wat in die Bybel staan nie, of dat hulle alles kon verklaar nie, maar eerder dat hulle die kernwaarheid van die Bybel gesnap het. Hierdie waarheid is natuurlik nie iets wat geleer kan word nie; dis iets wat begryp moet word.
Op 'n byeenkoms van predikante het 'n leraar eendag gesê dat hy eers in sy derde jaar begin begryp het wat sy professor eintlik aan sy studente wou sê. Alle predikante ervaar soms dat hulle preek en preek en dat mense vir jare daarna kan luister sonder om te begryp. Waar die Gees kom, word die waarheid gesnap. Waar die Gees nie kom nie, is daar ruimte vir 'n valse leer.
Die valse leer
Wat die valse leer in Johannes se tyd was, kan ons aflei uit 1 Joh 2:22: "Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie."
Wat sou die ontkenning van Jesus as die Christus presies beteken het? Hulle kon nie aanvaar dat die mens Jesus in alle opsigte die Gesalfde, die Messias, die Christus was nie. Hulle het vermoedelik 'n sekte aangehang wat begin leer het dat Jesus eers die Heilige Gees na sy doop ontvang het en dit weer voor sy kruisdood prysgegee het. Slegs gedurende daardie tyd was Jesus die Christus, die Seun van God, het hulle beweer.
Dit kom daarop neer dat hulle hul glad nie kon indink dat God sy Seun aan 'n kruis sou laat sterf nie. Volgens die Griekse Godsbegrip kon 'n god per definisie nie ly nie. In 'n Griekse drama verskyn daar byvoorbeeld twee niksnutte op die verhoog wat beide voorgee om dieselfde god te wees. Die toets wat afgelê moes word om uit te vind wie van hulle die bedrieër is, was om hulle beide 'n loesing te gee; die een wat werklik 'n god was sou geen pyn voel nie.
Volgens die dwaalleraars sou die hoë God homself nooit so verneder as om sy Seun aan 'n vervloekte kruishout te laat sterf nie. Só het hulle gemeen kon hulle God se eer red van mense wat dit deur die modder wou sleep. Maar sodoende het hulle juis die radikaliteit van die Christelike boodskap ondermyn. Daardeur het hulle juis die diepte van God se liefde vir sondaarmense onderskat. Hulle het maar net getoon dat hulle geen benul het van wat die woord 'genade' beteken nie.
Vandag nog staan ons voor die geweldige tragiek dat kerkmense die genade van God nie begryp nie, en daarom 'n bedenklike rol in die kerk speel. Wie nie die genade begryp nie –
1. meen dat hy iets het om op te roem in die kerk;
2. dink aan die kerk as 'n stuk mensewerk;
3. soek bevestiging vir die geloof in randverskynsels;
4. pas die envangelie aan om sy eie doeleindes te dien.
Die uiteinde hiervan is 'n roem in die vlees, werkheiligheid en kerkskeuring.
As daar destyds dwaling in die kerk was, hoeveel te meer sal daar nie nou wees nie? Ons is dankbaar vir elkeen wat tot die kerk behoort, of wat ten minste nog graag aan die kerk wíl behoort. Jesus se sondaarsliefde en sy soeke na die afgedwaalde skape, word vandag nog deur die kerk voortgesit. Tog is dit ook 'n hartverskeurende feit dat daar onder laasgenoemdes "wolwe in skaapklere" kan wees vir wie die saak van die kerk nie werklik van belang is nie. Mense wat uiterlik deel is van die kerk, maar wat innerlik nooit tot die uitverkorenes behoort het nie. Johannes sê hulle is mense wat uit ons geledere sal uitgaan en eendag teen ons sal getuig en ons voor die howe sal sleep en ons sal vervolg. Hulle is mense wat nou reeds, omdat hulle die genade verloën, die kerk terughou van sy ware roeping.
In hierdie omstandighede is daar twee dinge waaraan die ware gelowiges moet vashou:
- Hulle moet vashou aan die oorlewering. 1 Johannes 2:24-25 beskryf dit só: "Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly, En dit is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe."
Die gelowige moet steeds vashou aan dít wat die kerk aangaande Christus oorgelewer het. Via die Gereformeerde Vaders, gaan ons tradisie terug tot die vroeëre kerkvaders en die apostels en uiteindelik tot Jesus Christus self. Gaan bestudeer maar wat die kerk deur die eeue bely het, en jy sal vind dat dit die waarheid is: dat God werklik mens geword het in Jesus Christus; dat Hy as Seun van God aan die kruis gesterf het om sondaars hulle sondes te vergewe – niks meer nie, maar ook niks minder nie. - Hulle moet vashou aan die leiding van die Heilige Gees. Baie mense ken Jesus se heilsdade uit hulle hoof maar hulle begryp nie werklik wat dit beteken nie. Dit is slegs die Heilige Gees wat dit aan mens kan openbaar. Open jou hart vir die Heilige Gees, soek sy leiding. Jesus, deur die Gees, klop aan die deur van ons harte. As mense vir Hom oopmaak, gaan Hy in en maak sy woning daar. Hy lei jou in die volle waarheid.
"Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles..." (1 Joh 2:27). Wie aan hierdie woorde vashou, sal nie maklik deur die verleiers op sleeptou geneem word nie.