DIE BYBEL (22)

Lees reeks by DIE BYBEL

STEDE

Dr JP Botha

Stede met mure en poorte

Daar was verskeie groot stede in die ou tyd in Palestina, waarvan Jerusalem die belangrikste was.  Vir beskerming is gewoonlik ‘n muur om groter Joodse stede gebou, met enkele torings en poorte.  Poorte is so gebou dat daar ‘n soort saal binne in die poort was.  Daarin kon vreemdelinge wat vir die aand in die stad wou oorbly, veilig vir die nag toegesluit word.  So weier die stad nie gasvryheid vir die vreemdelinge nie, maar laat ook nie sommer vreemde mense, wat miskien vyande kon wees, in die stad toe nie.  Verder was die poort die plek waar daar deur die dag vergaderings en selfs hofsittings gehou is.

Joodse stede was nie toonbeelde van goeie beplanning nie

Kom ‘n mens in veral groter stede, wys krom en deurmekaar straatjies dat mense huise sonder veel beplanning gebou het.  Dit was anders met die Romeinse stede; hulle was gewoonlik goed beplan.  Jerusalem in Jesus se tyd het al baie soos ‘n Romeinse stad gelyk.  Daar was selfs luukse huise en teaters.  Tog was daar nog groot arm gedeeltes. Verskeie verdiepings is dikwels bo-op mekaar gebou.  Daar is selfs huise aan die binnekant van die muur gebou;  net waar mense plek kon kry.  Elke stukkie spasie is benut.

Die sanitasie was nie so goed nie en die brandgevaar was hoog.  Soms is vuil water sommer by die venster uitgegooi.  As dit op iemand geval het, kon hy die persoon wat dit uitgegooi het, laat beboet.  Die strate is met water skoongemaak.

Water en kos was altyd ‘n prioriteit

Water was natuurlik altyd ‘n probleem.  In Jerusalem kry ons byvoorbeeld die poel van Siloam, ‘n fontein wat die hele stad van water moes voorsien.  Daar is selfs ‘n tonnel in die agste eeu vC deur die rots na die fontein toe uitgekap, bekend as Hiskia se tonnel.  Verder is daar ook groot reservoirs uit die rots gekap. Al die reënwater is daarin versamel en gestoor.  Daar moes ook genoeg stoorplek vir kos wees.

Die toppunt van luuksheid in die ou tyd

Romeinse stede was weer deegliker beplan.  Hulle dorpe was ook in buurte opgedeel.  In die buurte was daar dan blokke (net soos ons straatblokke) met huise wat tot op die straat gebou is.  Gewoonlik was daar binnepleine wat deur die huise gedeel is.  Sommige van hierdie huise was baie luuks en het mosaïekvloere en pragtig geskilderde mure gehad.

Openbare baddens met water van verskillende temperature was algemeen.  Hulle het slegs openbare toilette gehad met lopende water (wat uit die openbare baddens gekom het.)  Hulle het ook warm lopende water by baie geboue gehad.

Daar was dan ook gewoonlik ‘n sentrale parkplein met winkels, ‘n sport-arena en natuurlik baie tempels vir die verskillende gode.

Die bouers was nie dom nie

Die vaardigheid van die mense uit daardie tyd verstom ‘n mens nog steeds.  Sonder die moderne implemente van vandag, kon hulle groot blokke rots sny en selfs rondbeweeg.  Hulle het nie sement gehad nie en moes sorg dat die manier waarop hulle die rotsblokke pak, so is dat die muur stewig en dig is.  Daarom was dinge soos hoekstene en fondamente belangrik.  Dit was gewoonlik die stukkie rots wat in sentrale posisies geplaas is en waarop die ander rotse gesteun het om die konstruksie solied te maak.  Hulle kon ook nie fondamente met sement gooi nie, want hulle het nog nie sement gehad nie.  Gewoonlik het hulle groot rotsblokke baie stewig in die grond geanker en dan die ander rotse en klippe daarop gepak. As die fondamentrots skuif, skuif die hele gebou. Daar word gesê dat van die rotsblokke wat vir die tempel gebruik is, tot 10 000 kilogram geweeg het. Fondamente en hoekstene is dikwels gebruik om die stewigheid van die Christelike geloof uit te druk.

‘n Mens moet egter nie die indruk kry dat alles orals dieselfde gelyk het nie.  Huise , stede en geboue het net soveel verskil soos ons huise en geboue vandag.