Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
DIE VERHAAL VAN DIE OU TESTAMENT (1)
Die Ou Testament dek ‘n lang periode wat vertel watter pad die Here met mense geloop het. In die Bybelse tyd is dit baie moeilik, dikwels onmoontlik om vaste datums vir gebeurtenisse te bepaal. Eers na die eerste millennium vC (na 1 000 vC) raak dit moontlik om in breë trekke ‘n chronologie van Bybelse gebeurtenisse te bepaal. Maar selfs in die geval van belangrike, dateerbare gebeurtenisse verskil geleerdes met tussen twee en vyf jaar oor die presiese datum. Sommige skat die val van Jerusalem byvoorbeeld in 587 vC en ander in 586 vC. Dis ook onmoontlik om ‘n datum vir die uittog uit Egipte te bepaal, al het farao Merenptah “Israel” reeds in 1 200 vC ‘n verowerde Palestynse volk genoem.
Voorgeskiedenis
Die verhale wat Juda tydens en ná die Babiloniese ballingskap versamel en neerskryf, bevat verhale oor die oergeskiedenis (Gen 1-11). Die twee afsonderlike verhale oor die skepping (Gen 1:1-2:4 en 2:44-25), die mens se val in sonde as verduideliking hoekom die wêreld so stukkend is.
(Gen 3), die groot vloed wat baie mense se lewe kos as die Here se reaksie op sonde (Gen 6) en die toring van Babel (Gen 11) kan hoegenaamd nie gedateer word nie. Die bedoeling van die verhale is ook nie om geskiedenis weer te gee nie, maar om teologiese verduidelikings te bied vir die doel met die mens op aarde en die gebroke werklikheid waarin die wêreld hom bevind. Soortgelyke verhale is ook deur omringende volke vertel. So is vloedverhale in Mesopotamië ontdek wat uit die periode 2000-1400 vC dateer.Aartsvaders
Die aarsvadertydperk omsluit die lewe van Abraham, Isak en Jacob. Dié verhale word in Genesis 12-50 vertel. Navorsers meen dat die aartsvaderverhale in die Bybel die gebruike en toestande reflekteer wat iewers in die tweede millennium (in die Bronstydperk, 2000-1500vC) in die lande noordoos van Palestina geheers het. Baie van die gebruike het mettertyd in onbruik verval, maar geslag na geslag het daarvan vertel totdat dit later in Genesis opgeneem is.
Die enigste twee eksterne gebeurtenisse waarvan in die Bybel vertel word en wat kan help om die aartsvaderperiode te dateer, is die militêre veldtog waarin vier konings vyf ander aangeval het (Gen 14) en die vernietiging van die stede op die plein (Gen 19). Nie een van die konings van Gen 14 kan met ‘n historiese figuur gebind word nie, alhoewel verskeie van die name in die periode bekend was en in dokumente gebruik was.
Uit vondste weet ons dat sterk alliansies tussen strydende groepe van stadstate in Mesopotamië en Sirië in die periode 2000-1700 vC gesluit is. 'n Brief is by Mari ontdek wat sê : "Daar is nie ‘n koning wat op sy eie die sterkste is nie. Tien of vyftien konings volg Hammurabi van Babilon, dieselfde getal volg Ibal-pi-El van Eshnunna, dieselfde getal volg Armut-pi-El van Qatna en twintig konings volg Yarim-Lim van Yamkhad." En geen datering is moontlik vir die verwoesting van Sodom en Gomorra nie. Die stede is nie opgespoor nie. Volgens oorlewering lê dit onder die Dooie See.
Die mense in hierdie wêreld het wyd en ver gereis. Abraham reis in sy leeftyd van Ur van die Galdeërs tot in Egipte, waar hy gaan skuiling soek as droogte Kanaän kasty. Jakob reis na Haran en terug en later na Egipte. Daar het waarskynlik duidelike handelsroetes bestaan waarop ‘n mens kon reis.
Die Bybelse prentjie oor die aartsvaders se Godsdiens toon dat hulle ‘n God aanbid het wat persoonlik aan hulle verskyn het. Hulle het tot Hom gebid en offers aan Hom gebring. Seuns is kort na geboorte besny as teken dat hulle in ‘n verbondsverhouding met God staan. Die aartsvaders was bewus daarvan dat God by hulle is en vernoem plekke en kinders na sy voorsiening en ingrype in hul lewe. Elke patriarg het sy eie naam vir God wat daarop kan dui dat elkeen in ‘n unieke verhouding met God gestaan het. Isak praat van “Vrees” of “Beskermer” en Jacob van die “Almagtige”. Wanneer ‘n aarsvader meen dat hy die wil van God onderskei, doen hy dit heelhartig en neem sy hele familie saam met hom. So beland die nageslag van Abraham in Egipte.
Uittog uit Egipte
Volgens Eksodus 12:40-41 bly die Hebreërs vir 430 jaar in Egipte en word uiteindelik deur hulle gasheer verdoem tot slawediens in die farao’s se groot bouprojekte aan voorraadstede.
In die laat vyftiende eeu het mense van veertien “lande” , “bergstreke” en “dorpe” weggetrek uit die Hetitiese koninkryk se grondgebied en hulle in die land van Isuwa gaan hervestig, volgens die Verdragproloog van Suppilulium. Die magtige Hetitiese koning Suppilulium het later die weglopers gaan vang en teruggebring om as slawe vir hom te werk. Dit was dus nie onmoontlik dat ‘n uittog van Hebreërs uit Egipte sou plaasvind nie.
Wat uniek is aan die Israelitiese uittog is die godsdienstige dimensie wat daaraan verleen word deur die skrywers wat later dië gebeure neerskryf. Jahwe roep iemand in Midian, wat reeds die nodige voorbereiding het om aan die Egiptiese farao se hof op te tree, om sy volk te verlos. En as die farao weier, dwing Jahwe hom om sy volk te laat trek. Hy vernietig die Egiptenare wat die Israeliete met geweld wil terugneem en lei sy volk tot in die beloofde land, al is dit met ‘n lang ompad vanweë hul sondige opstandigheid.
Wanneer vind die eksodus (die woord beteken “uittog” ) plaas? Die Hebreërs bou volgens die Bybelse teks die stede Pitom en Raámses. Raámses was Egipte se Deltahoofstad wat vernoem is na en hoofsaaklik gebou is deur Rameses II. Hy regeer van 1290 tot 1224 vC en volg sy pa Sethos I (1302-1290vC) op. Raámses is by die hedenhaagse stede Tanis en Qantir, en in albei gevalle dui opgrawings op ‘n boutyd van Sethos I en Rameses II. Voor die tyd het geen farao in die Delta ‘n groot stad gebou nie. Op grond hiervan kan die uittog in die periode tussen 1300 en 1250 vC gedateer word.
Die Merneptahstede word in farao Merneptah se vyfde jaar gedateer, wat rondom 1220 vC moet wees. Hierin beskryf die farao hoe hy verskeie Palestynse stadstate onderwerp het, waaronder Israel. Sommige navorsers meen dat die farao maar net spog oor hoe goed hy is en nooit self in Palestina was nie. Enkeles meen dat die farao hiermee eintlik verwys na die verdwyning van Israel uit sy land. Indien dit wel die geval is, kan die uittog iewers tussen 1224 en 1220 vC gedateer word. Indien Merneptah wel Palestina binnegeval en Israel se oeste afgebrand het, was Israelitiese stamme reeds voor 1220 vC in die beloofde land. ‘n Goeie datum vir die uittog kan dus gestel word as tussen 1290 en 1240vC.