DIE BYBEL (24)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Die verhaal van die Ou Testament  (2)

Intog in die beloofde land

Bybelse rekords toon dat Israel 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf het voor hulle die beloofde land ingegaan het.  ‘n Geslag is as 40 jaar gereken en die geslag tydens die uittog moes hul straf uitdien deur rond te swerf tot almal wat opstandig was, dood is.  Deuteronomium 2:14-15 stel voor dat die 40 jaar in dié terme bekou moet word.

Tydens die verblyf in die woestyn ontvang Moses die wet van die Here op Sinaï (of Horeb). Israel het die grootste deel van Eksodus 20-40, as ook Levitikus, Numeri en Deuteronomium as oorlewering van die wet beskou wat Moses ontvang het en wat Israel se nasionale, godsdienstige en regslewe moes lei.

In die ystertydperk vanaf 1300 vC ontstaan verskeie koninkryke in Palestina, soos Edom en Moab.  Indien Israel ná 1300 vC  intrek, kon hulle die vakuum wat in die land ontstaan, benut om grond in die hande te kry. Enkele Palestynse stadstate toon tekens dat dit in die tweede helfte van die 13e eeu verwoes is.   Sulke stede is Tell Beit Mirsim (dalk die Bybelse Debir/Kirjat-Sefer), Lagis, Bet-El en en Hasor.  Tablette wat by Tell el –Amarna ontdek is, vertel van Habiru/Apiru wat rondom  1350 vC in Palestina was, besig om omringende stadstate aan te val.  Die naam “Habiru/Apiru” word egter in dokumente uit die periode 1800-1150 vC gebruik om na verskeie ander groepe te verwys,  van Mesopotamië en Sirië tot Klein-Asië en Egipte.  ‘n Moontlike datum vir die intog kan in die periode tussen 1240 en 1200 vC wees.

Die tyd van die rigters

As die tog deur die woestyn 40 jaar geduur het, koning Dawid 40 jaar regeer het en Salomo se eerste drie regeringsjare afgetrek word van die totaal van 480 jaar van die intog tot Salomo se vierde regeringsjaar (I Kon 6:1, die jaar waarin Salomo die tempel begin bou het), kom ‘n mens by 397 jaar uit.  Hiervolgens is dit die tyd wat Josua, die rigters en Saul oor Israel regeer het.  Indien Israel teen ongeveer 1240vC Palestina binnegekom het, was daar ongeveer 230 jaar tot die datum wat Dawid heel moontlik aan bewind gekom het, in 1010 vC.  Die Josua- en Rigtersboek stel egter voor dat dié periode minstens 470 jaar moet wees as die regeringstye van die individue bymekaargetel  word.  Die antieke Midde-Oosterse mens het egter anders somme gemaak as ons wanneer hulle oor die geskiedenis gedink het.  Datums is nie as opeenvolgend beskou nie.  Natuurlik was daar nog nie ons manier van datering – vanaf  (wat aanvanklik gemeen is)  Christus se geboorte – nie. En Antieke konings se lyste konings was nie altyd histories korrek nie.  Lyste regeerders is nie met mekaar versoen nie.  Dit was nie die doel van die skrywers nie.  Die periode waarin die rigters regeer, strek moontlik van 1200 tot 1050 vC.

Instelling van die koningskap

Geen eksterne gebeure word verbind aan Saul se bestyging van Israel se troon waaraan die gebeurtenis gedateer kan word nie.  Handelinge 13:21 beweer dat Saul vir 40 jaar regeer het. Maar dan moet bygevoeg word dat Dawid en Salomo ook elkeen 40 jaar regeer het (I Kon  1:37-2:11).  Die getal 40 het vir die antieke mens ‘n simboliese betekenis gehad.  Saul sterf waarskynlik as hy 60 jaar oud is.  Dan kon hy in ongeveer 1050-1045 vC op die troon gekom het.  Dawid regeer van ongeveer 1010-970 vC en Salomo van ongeveer 970-940 vC.

Die verhale van die instelling van die koningskap in Israel en die regering van Saul, Dawid en Salomo word in twee afsonderlike geskiedenisse vertel.  Die Samuel- en Koningsboeke vertel dieselfde geskiedenis as die Kroniekeboeke, maar elk gebruik ‘n ander invalshoek en skryf vir ‘n ander rede.  Die res van die verhaal van die koningskap in Juda en Israel word ook so gelyklopend in die twee historiese werke vertel.

Verdeling in twee koninkryke

Die skeuring van die Israelitiese ryk in die Noordryk onder koning Jerobeam en die Suidryk onder leiding van Salomo se seun Rehabeam vind waarskynlik rondom 931/930 vC plaas.  Die datum wat gebruik word om terug te reken na die skeuring in die ryk, is die jaar waarin Agab dood is,  dieselfde jaar waarin die slag van Qarqar plaasvind.  Ahasia kom ook op die troon daardie jaar in Israel, in 853 vC.  Jehu volg Joram as koning op in 841vC.

Dit is ook  moontlik om by die val van Samaria te begin, wat in 722/721 vC plaasgevind het, en uit te werk hoe die konings regeer het.  Navorsers verskil oor hoe die koningslyste gesinchroniseer moet word en sommige meen die skeuring van die ryk het in die twintiger- eerder as in die dertigerjare van die tiende eeu plaasgevind.

Die verhale van die konings van Israel word deurgaans deur die skrywers as negatief beoordeel. En die rede:  Hulle het gedoen was verkeerd was in die oë van die Here.  Hulle het nie hul trou en lojaliteit aan die Here alleen toegesê nie, maar hul vertroue ook op ander gode en politieke magte gestel.  Sommige van die konings van Juda word positief beoordeel.  Die maatstaf is of hulle leef volgens die voorbeeld wat koning Dawid gestel het. Party ander konings het nie die toets geslaag nie.

Die val van Samaria (721 vC)

Israel en sy konings se sonde lei tot die straf wat die Here oor sy volk uitspreek.  Verskeie profete waarsku die Noordryk: Agija in die dae van koning Jerobeam; Elia in die tyd van koning Agab; Elisa in die tyd van koning Joram en Jona, Amos en Hosea in die tyd van koning Jerobeam II.

Menahem regeer vir tien jaar oor Samaria, hoofstad van die Noordryk (751-742 vC), waarin hy belasting aan Tiglat-Pileser III, koning van die Assiriërs betaal.  Sy seun, Pekahia sterf in ‘n staatsgreep en Peka kom op die troon.  Hy en die inwoners van sy land kom in opstand teen Assirië, deur te weier om hul belasting oor te betaal, en die Assiriërs beleer Samaria tussen 725 en 722vC.

Salmaneser V is die Assiriese koning wat die stad oorwin, alhoewel koning Sargon II in sy verslae eis dat dit hy was wat die Israeliete in ballingskap weggevoer het.  In 721 vC word die Israeliete in ballingskap weggevoer.  Sargon spog op ‘n pilaar: “Ek het Samaria beleër en oorwin, 27 270 van sy inwoners as buit weggevoer en het tussen hulle 50 strydwaens geplaas en die oorblywende bevolking hul sosiale posisies laat hou.  Toe het ek oor hulle ‘n offisier van my aangestel en die belasting van die vorige koning op hulle afgedwing.  Ek het Samaria en die hele Omriland (Samaria) beset en oorwin.” Hy voer die Israelitiese ballinge na Sirië, Assirië en Babilonië, waar hy hulle hervestig.

Oor die opbou van Samaria skryf Sargon:  “Die stad het ek herbou beter as wat vantevore bestaan het en daarin het ek mense geplaas van lande wat ek self oorwin het.  Ek het ‘n offisier van my oor hulle aangestel en hulle aan belasting onderhewig gemaak soos vir enige Assiriese burger geld.”

Koloniste van ander provinsies het in Samaria hervestig.  Mettertyd ondertrou die koloniste sodat hele volke ophou bestaan, waaronder die Israeliete.  Samaria word deel van die Assiriese provinsie “Oorkant die Rivier.”

In dié tyd hervestig heelwat vlugtelinge uit Samaria hulle in Jerusalem en omstreke.

‘n Groepie van die oorspronklike inwoners bly in die stad agter en behou hul godsdienstige gebruike.  Dié mense word later Samaritane genoem.  Die Samaritane ontstaan in die 5e eeu as ‘n priester uit Jerusalem verdryf word. In Jesus se tyd word hierdie inwoners steeds Samaritane genoem.