Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Die Ou Testament in breë trekke (4)
Die koloniale tydperk na ballingskap
Die Persiese Ryk bereik sy politieke en geografiese hoogtepunt met die aanbreek van die vyfde eeu. Kores heers oor die grootste ryk wat nog ooit in dié deel van die wêreld ontstaan het. Kores se seun en opvolger, Kambuses, oorwin Egipte in 525 vC en brei op sy koninkryk nog verder uit. Darius Histapes regeer vanaf 525 tot 486 vC. Hy is ‘n waardige opvolger vir Kores (Sirus of Cyrus) en ‘n goeie regeerder. Sy ryk strek van die Indusvallei tot die Egeïese See en van Libië tot in Europa noord van die Donau. Hy stel 20 goewerneurs aan, elk met ‘n semi-outonome regeerder wat plaaslik selfstandig regeer. Die stelsel balanseer sentrale gesag en ‘n mate van plaaslike selfstandigheid. Die Perse gebruik Aramees as amptelike taal. Dit is die taal waarin die “amptelike” dokumente in Esra en Nehemia voorkom. Dit is ook die taal van Daniël 2 tot 7. Juda is ‘n Persiese provinsie en betaal belasting aan die oorheerser.
Darius is bekend vir verskeie prestasies: die kanaal wat hy laat bou tussen die Nyl en die Rooisee, uitgebreide wetlike hervormings en ‘n gestandaardiseerde muntstelsel. Slegs in een opsig is die magtige ryk onsuksesvol: dit kan Griekeland nie onderwerp nie.
Darius vord opgevolg deur sy seun Xerxes (486-464 vC), wat baie minder indrukwekkend voorkom. Sy regering begin met die onderdrukking van ‘n opstand in Egipte en in 482 vC met ‘n opstand in Babel. Xerxes onderwerp Babel hardhandig. Hy breek die mure af, brand die tempel af en smelt die standbeeld van Mardoek. Hierna probeer Xerxes sy pa se onvoltooide werk verder voer deur Griekeland te onderwerp. Hy verower Atene en brand die Akropolis af, maar net sodat ‘n derde van sy vloot naby Salamis vernietig word. Xerxes laat generaal Macedonius in Griekeland agter, maar dié word in 479 vC by Plataea verslaan. Xerxes sterf in 464 vC in ‘n sluipmoordaanval, en sy jonger seun, Artaxerxes I Longimanus, beset die troon op ‘n onregmatige wyse. Hy regeer tot 423 vC. In dié tyd onderdruk hy ‘n opstand in Egipte en word hy deur voortdurende aanvalle deur die Grieke in die gesig gestaar.
Makkabeërtyd
Juda staan in die tweede eeu vC voor die grootste krisis van sy geskiedenis sedert die ramp van 587 vC. Die geskiedenis van hierdie periode is opgeteken in 1 en 2 Makkabeërs, twee apokriewe boeke (lees dit by Apokriewe Boeke). Antiogus IV Epifanes word in 176 vC koning in Palestina. Die bynaam “Epifanes” verwys na Antiogus se siening dat hy “die verskynsel van God” is.
Antiogus stel ‘n nuwe Joodse hoëproester aan wat lojaal teenoor hom is, Die hoëpriester vra toestemming om in Jerusalem ‘n gimnasium te bou. As jy aan ‘n gimnasium behoort, erken jy Griekse gode. Griekse modes en kleredrag vord ingevoer. Jong priesters versaak hul pligte ter wille van die spele wat gereeld aangebied word waar deelnemers naak is. Die besnydenis word gestaak om die spot van die Griekse deelnemers aan die spele vry te spring. Die Grieke het die besnydenis as ‘n soort kastrasie beskou.
In 169 vC versprei ‘n storie onder die Jode dat Antiogus sy lewe in Egipte verloor het en opstandige Jode beset Jerusalem. Antiogus is woedend en konfiskeer die tempel in Jerusalem se heilige voorwerpe, meubels en goud. Net die volgende jaar kom die Jode weer in opstand. Dié opstandigheid lei tot die eerste slagting in die Joodse geskiedenis.
Vroeg in 167 vC val Antiogus se magte Jerusalem op ‘n Sabbat binne. Talle Jode sterf en ander word as slawe gevange geneem. Die stad word geplunder en die stadsmuur afgebreek. Op dieselfde plek as Dawid se paleis, suid van die tempel, word ‘n versterkte kasteel opgerig, die Akra. Hiervandaan bewaar Siriese soldate die vrede in die stad.
Die tempel word as die heiligdom van die stadstaat beskou. Die hele stad word as Griekse eiendom beskou, insluitend die tempel. Judaïsme word geherorganiseer as ‘n Siro-Hellenistiese kultus waar Jahwe met Zeus geïdentifiseer word. Plek word in die tempeldiens gemaak vir die koninklike kultus van Zeus Epifanes. Daniël 9:27 en 12:11 se “ding wat ‘n gruwel vir God is”, verwys na die kultus van Zeus Olimpos, wat in die tempel afgedwing word.
Die ontwyding van die tempel lei tot erge opstand en opposisie en hieruit vloei Antiogus se laaste en vernietigende maatreëls. Hy skort die gereelde offers op. Hy verbied die onderhouding van die Sabbat en die viering van die godsdienstige feeste. Hy beveel dat alle kopieë van die Tora vernietig word. Die blote besit van ‘n kopie is strafbaar met die dood. Hy verbied die besnydenis van kinders en gee opdrag dat daar heidense altare in die land opgerig word en dat onrein diere daarop geoffer word. Hy verplig selfs Jode om varkvleis te eet.
Hy stel in Desember167 vC die kultus van Zeus Olimpos in die tempel in en rig ‘n altaar vir Zeus op en offer varkvleis daarop. Hy verplig Jode om aan die fees van Dionisios of Bacchus deel te neem. Hulle moet ook maandeliks ter viering van die koning se verjaarsdag offers in die tempel bring. Antiogus verdien onder die Jode die bynaam Epimanes (“malman”) in plaas van Epifanes.
Die koning se amptenaar daag op ‘n dag in die dorpie Modein op en beveel priester Mattatias om ‘n offer aan die heidense god te bring. Toe hy weier, staan ‘n ander inwoner op om dit te doen. Mattatias steek hom met sy versteekte swaard dood en daarna ook die amptenaar. Dan roep hy almal wat getrou aan die wet van Moses is om in opstand teen Antiogus en die Seleukiede te kom. Tydens die guerillaoorlog behaal hulle een oorwinnng na die ander. Hulle vernietig heidense altare wat in opdrag van Antiogus IV in die Judese grondgebied opgerig is en dwing Joodse moeders om hul kinders te besny.
Mattatias sterf vroeg in 166 vC, en sy seun Judas Makkabeus (Makkabeus beteken “Hamer”) volg hom as leier op. Hy is ‘n moedige vegter en goeie leier. Hy stap Jerusalem oorwinnend binne en reinig die tempel. Die altaar word afgebreek, getroue priesters word aangestel en ‘n nuwe stel tempelvoorwerpe word gemaak.(Meer hieroor by APOKRIEWE BOEKE (3))
Presies drie jaar na die ontheiliging van die tempel, in Desember 164vC, word die tempel opnuut toegewy. Die Jode vier die fees van Chanukka (toewyding”) elke jaar om dit te herdenk. Hierdie fees word in verband gebring met die legende dat Judas Makkabeus ‘n houer met olie gesoek het om lig in die tempel te verskaf en slegs ‘n klein houertjie gevind het met net genoeg olie vir een dag.
Dié olie het vir agt dae die lamp laat brand Daaom hou die Jode ‘n fees vir agt dae lank. Op die eerste dag steek hulle een kers aan. Op die tweede dag word ‘n tweede kers aangesteek, totdat daar op die agste dag agt kerse brand. Vir die Jood is dit ‘n teken van oorwinning, bevryding en toewyding.