DIE BYBEL (27)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Die Nuwe Testament  (1)

Die tyd was ryp
Die ballingskap het die geskiedenis van Israel en die wêreld heeltemal verander.  Die Jode het hulle land en tempel verloor.  Hulle is as slawe van vreemde konings na Babel en die Perse weggevoer (die gebiede waar die huidige Irak lê; dit is ook die omgewing waar Abraham oorspronklik vandaan gekom het). Dit was nie vir hulle maklik om so in ‘n vreemde land as slawe sonder hulle tempel en vryheid te leef nie.  Hulle het maar die hele tyd bly droom oor hulle tempel in Jerusalem wat hulle wou gaan herbou en die vryheid wat die volk destyds onder koning Dawid gehad het.  Hulle het begeer om dit terug te hê.  Hulle het gewonder wat en wanneer God gaan wys dat Hy die magtige Een is en hulle gaan terugneem na die beloofde land.

In die tyd tydens die ballingskap het van die profete ook begin profeteer oor die redding wat God in die toekoms gaan bring: “Die ‘dag van die Here’ is aan die kom. Dan sal God weer sy volk uit hulle slawerny kom haal en terugvat na hulle land. Hy sal hulle heersers maak oor al die volke.  Die konings en koninginne wat sy volk nou so verslaaf, sal self hulle kroon voor sy volk kom neerlê en as kinderoppassers vir hulle kom werk.  God sal die vyande uitwis en die tempel sal weer herbou word sodat die volk hulle God kan dien.  Die Kneg van die Here, sy Messias, sal dit alles kom doen, en so sal God weer wys Hy is Koning van die konings.”  Hulle is toe weer toegelaat om ná die ballingskap terug te gaan na Palestina en hulle tempel te gaan herbou.  Daarvan lees ons in boeke van die Bybel soos Nehemia en Esra.

Hulle verblyf in die beloofde land as vry mense sou egter nie baie lank duur nie.  Alexander die Grote, die jong dinamiese Griekse generaal, het teen die einde van die vierde eeu vC die beloofde land ‘n Giekse kolonie gemaak.  Weer was die Jode onder die heerskappy van vreemdes, hoewel hierdie keer in hulle eie land.

Vir ‘n kort rukkie in die eerste en tweede eeu vC, het die Jode weer in die Makkabeërtyd ‘n bietjie vryheid gesmaak.  Hulle het die Grieke uit die land verdryf.  Ook dit sou nie lank hou nie, want teen die middel van die eerste eeu vC het die Romeine Israel binnegeval.  Weer is hulle oorspoel, eers deur die Grieke en toe deur die Romeine.  Aan hierdie onderdrukking sou God ‘n einde maak, daarvan was hulle seker.  Hy sou weer kom wys dat Hy die Koning van die konings en die Here van die Here is.

Die volk het dit verwag en hiervoor gewag.  Hulle het geweet die tyd is ryp dat die Here sy beloftes van verlossing gaan vervul.

Die Messias kom
In hierdie tyd is daar ‘n Seun gebore met die naam Jesus. Toe Hy ongeveer 30 jaar oud was, het Hy die goeie boodskap begin verkondig. Die tyd het aangebreek; die koninkryk van God kom weer!  God se spesiale Gesalfde, sy Messias, is hier om sy koningskap te verkondig.

Die Jode het hoofsaaklik ‘n politieke messias verwag  Hy moes die Romeinse onderdrukkers uit die beloofde land kom uitjaag en die Jode polities weer kom bevry. So sterk moes hierdie nuwe politieke heerser volgens die profete wees dat al die konings van die aarde uiteindelik voor hom sou moes kom buig.

Jesus het egter nie naastenby in dié politieke prentjie ingepas nie.  Hy het nie ‘n oorlogsmantel gedra of  met ‘n swaard vooraan ‘n leër soldate teen die vyand uitgetrek nie.  Hy was anders en dit kon ‘n mens hoor as Hy begin praat het.  Hy het van God se sorg en liefde, van vergiffenis en vriendskap gepraat, so anders as wat van die politieke messias verwag is.

Jesus Christus se boodskap was egter duidelik: God se nuwe heerskappy waarvan die profete gepraat het, het gekom.  Die Evangelies vertel vir ons dat  Hy nie alleen soos die eerste Moses die reëls van die nuwe koninkryk van die berg af verkondig het nie (die bergrede), maar dat Hy ook gewys het dat Hy werklik van God af kom deur wonders te doen.  Die kragtige wonders het gewys dat Hy nie sommer ‘n gewone mens is nie.  God die Almagtige se krag het deur Hom gewerk.

Dit was nie ‘n koninkryk wat mense wou doodmaak en regeerders wou uitdryf nie.  Dit was ‘n koninkryk wat teen ‘n ander vyand geveg het, naamlik die duiwel, die groot opponent van God.  Nie die aardse konings nie, maar hierdie vors van die wêreld moes verslaan word.  Daarom het Jesus nie ‘n swaard gebruik nie, maar ‘n sagte woord wat blindes se oë laat oopgaan en dowes se ore laat hoor het.  Hy het nie die trone van die heersers gaan omgooi nie, maar die tafels van die geldwisselaars, wat God oneer aangedoen het.  Hy het nie soldate bymekaar gemaak om die vyand te verslaan nie, maar dissipels om duiwels uit te dryf en mense gesond te maak.

Die vyand lyk ook anders
Baie mense het Jesus gevolg en sy boodskap aanvaar.  Dit was vir die Joodse owerhede van daardie tyd nie goeie nuus nie.  Hulle was baie skrikkerig vir die Romeinse owerheid.  As groot groepe mense so agter Jesus aanloop, sou die Romeine maklik kon dink dat hulle ‘n politieke opstand organiseer.  Dit sou vir die Romeine genoeg rede gee om die Jode aan te val.

As ons luister wat die mense geskreeu het toe Jesus die laaste maal in Jesusalem ingekom het, kan ‘n mens nogal die Joodse owerhede se vrese verstaan.  Luister net:  Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Jesus het toe op ‘n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het , soos daar geskrywe staan:  “Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom en Hy ry op ‘n donkie” (Joh 12:13-15).

Hulle het Jesus as politieke messias verwelkom en so het Hy ‘n bedreiging vir die politieke vrede begin word.  Dit het veroorsaak dat die Joodse leiers besluit het om van Hom ontslae te raak.  Boonop was Hy ook vir hulle ‘n verleentheid, want die Joodse leiers kon nie hulle oppervlakkigheid en huigelary vir Hom wegsteek nie.

Die Joodse leiers het toe planne begin maak om Hom te vang en dood te maak.   Die kans het tydens ‘n paasfees gekom.  Een van Jesus se eie volgelinge, Judas , het Hom verraai deur vir die polisie te gaan wys waar Jesus daardie betrokke nag gaan slaap het.