DIE BYBEL (31)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

DIE BOEK GENESIS  (1)

Kernsake in Genesis:

God se skepping is ‘n merkwaardige aanduiding van God se almag.  Alles wat bestaan word geskep deur bloot ‘n woord te spreek.

Mense word hier beskryf soos wat hulle is: die kroon van die skepping maar ook die ergste sondaar.

Die mens se onverklaarbare geneigdheid tot die kwaad word hier baie duidelik en dit is ontstellend dat hierdie geneigdheid dikwels die vorm van opstand teen God aanneem.

Die sensitiewe bespreking van die mens se rol en funksie binne die tuin as mikrokosmos van  die skepping.

Die vloed as die omkering;  alles keer terug na ‘n toestand soos voor die skepping.

Die toring van Babel wat ‘n letterlike teken is van die mens se opstand teen God.

Die verbondsbeloftes aan Abraham en die lang en moeilike proses wat die vervulling daarvan geverg het.

Abraham se gehoorsaamheid wat selfs bereid was om sy eie seun, die vervulling van die nageslagbelofte, te offer.

Jakob as die vernuftige aartsvader wat dikwels self die inisiatief neem en uiteindelik met God worstel.

Josef is die dromer wat sy wysheid by God kry en sy eie familie en Egipte help tydens ‘n ernstige droogte.

Aan die einde van Genesis is die nageslagbelofte vervul, maar die landsbeslofte nog nie.

Die voorgeskiedenis

Genesis 1-11 help ons om ons lewe en wêreld beter te verstaan.  Die voorgeskiedenis konfronteer die leser met bekende aspekte van menswees;  hoogmoed, verleiding en opstand aan die kant van die mens en die genadige inisiatief wat God neem met die skepping en onderhouding van die wêreld en alles wat bestaan.

Twee verhale hou verband met die skepping:  Genesis 1:1-2:4 en 2:4-25.     Hierdie twee verhale vul mekaar goed aan en bied verskillende perspektiewe op die skepping van die mens en alles wat rondom die mens bestaan.  Albei verhale lê klem op die feit dat dit God is wat as die Skepper van hemel en aarde, en dus ook die mens bely word.

In die begin  (1:1-2:4)

Die eerste skeppingsverhaal is tydens die Babiloniese ballingskap (586-539 vC) geskryf.  In Babilonië was daar omvattende skeppingsverhale waarteen die Joodse ballinge standpunt moes inneem.  Daarom kan mens verwag dat die Bybelse skeppingsverhaal kritiek uitspreek teen die Babiloniese skepingsverhale wat toe in omloop was, byvoorbeeld die eerste vers verklaar kort en kragtig dat dit God is wat die hemel en aarde geskep het.

In die tweede vers, wat vertel hoe dit voor die skepping was, sweef die Skeppergees oor die chaos van die donkerte en diep waters.  Die skeppingsproses is gereed om te begin.  Die outonome skepping deur God staan in kontras met al die Babiloniese verhale se verklarings waar die skepping vandaan kom

Die skepping  (1:1-2:4)

Die eerste dag begin met die skepping van lig.  Daar was op hierdie stadium nog nie eers sprake van ‘n ligbron nie.

Op die tweede dag word die waters van mekaar geskei om die hemel te vorm.

Op die derde dag word die aarde en die see geskep, waarmee die ruimte vir die res van die skepping voltooi word.  Hierna word groen plante en vrutebome geskep, waarmee die ruimte wat reeds geskep is, geleidelik gevul kan word.

Eers op die vierde dag word die son, maan en sterre gevorm.  Die skepping van die son, maan en sterre maak die onderskeid tussen dae, seisoene en jare moontlik.

Vanaf die vyfde dag word die verskillende soorte diere geskep.  By herhaling word beklemtoon dat hulle krioel het.  God skep nie net nie, Hy skep oorvloedig!  In noue samehang hiermee word dit bevestig dat God hierdie diere geseën het en dat hulle baie vrugbaar was.

Uiteindelik breek die sesde dag aan.  Eers word die landdiere volgens drie groepe geskep: mak, wilde en kruipende diere.

Dan skep God die mens as sy verteenwoordiger en beeld.  Dit is duidelik dat die mens ‘n unieke plek in die skapping bestee.

Die mens word as God se verteenwoordiger en beeld geroep om oor die diere, visse en voels te heers, om vrugbaar te wees en om die aarde te bewoon en te bewerk.  Hiermee word daar byna koninklike status aan die mens toegeken om namens God verantwoordelikheid vir die skepping te neem.

Die mens, man en vrou, is na die beeld van God geskape.  Die mens kan slegs saam, as man en vrou, beelddraers van God wees.

Aan die einde van die sesde dag kyk God na alles wat Hy gemaak het en sien dat dit baie goed was teenoor die goed van die vorige dae.  So word dit opnuut bevestig dat daar geen fout of gebrek in die skepping was nie.

Die eerste skeppingsverhaal eindig nie met die skepping van die mens nie, maar gaan voort met die beskrywing van hoe God op die sewende dag gerus het.  Dit is of die skepping op die sewende dag voltooid is toe God gerus het na al die werk wat Hy in die voorafgaande ses dae gedoen het.

Die Hebreeuse woord vir rus is shabat en dui daarop dat die Here opgehou het met werk en nie soseer dat Hy moeg was en rus nodig gehad het nie.  God sonder die sewende dag af as ‘n gereelde rusdag waarop die mens moet rus soos God gerus het.  Die viering van die sewende dag as rusdag is nie ‘n verskoning om niks te doen nie. Dit is ingestel om in God te rus, om in Hom te vertrou as Skepper en Onderhouer van die skepping.

Aan die einde van die eerste skeppngsverhaal staan daar ‘n samevattende onderskrif: dat dit die geskiedenis van die hemel en die aarde is toe dit geskep is.