DIE BYBEL (32)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Genesis  (2)

Die tuinverhaal

Die tweede skeppingsverhaal speel af in ‘n tuin en die skeppingsproses wod verduidelik aan die hand van voorbeelde uit die landbou.  Waar die eerste skeppingsverhaal eers op die sesde dag die skepping van die mens beskryf, word die skepping van die mens in die tweede skeppingsverhaal  voorop gestel.

In die begin is daar volgens die tuinverhaal geen plante nie weens gebrek aan reën en geen mens om die grond te bewerk nie.  Daarom gaan die Here onmiddellik oor tot die skepping van die mens.  Die Here skep die mens uit die stof van die aarde en hy word lewendig as God lewensasem in sy neus blaas.

Na die skepping van die mens lê God die tuin van Eden aan as die plek waar die mens moes woon.  Eden word beskryf as ‘n tuin. Eden was waterryk en ‘n rivier ontspring daar, wat later in vier ander riviere vertak, naamlik die Tigris, die Eyfraat, die Pison en Gihon.

By herhaling word gemeld dat God die mens in die tuin laat woon het om dit te bewerk en op te pas.  Hier is nie sprake van heers oor die skepping nie en die mens word soos ‘n tuinier of landbouer opdrag gegee om die tuin te versorg.  Benewens die versorging van die tuin beveel die Here die mens om nie van die boom van alle kennis te eet nie omdat die gevolge daarvan dodelik sal wees.

Naamgewing van plekke of dinge was in antieke tye die voorreg van konings.  Die mens het vir die diere name gegee.  Hierdeur verkry die mens soos in die eerste skeppingsverhaal, ‘n koninklike karakter.

Hierop volg die skepping van die vrou, omdat dit nie goed is vir die mens om alleen te wees nie.  Dan volg ‘n belangrike omskrywing dat die vrou iemand is wat die man kan help en wat sy gelyke is.  Nadat daar ‘n diep slaap oor die man gekom het, word die vrou uit die ribbebeen van die mens geskep.  Wanneer die man die vrou vir die eerste keer sien, word sy reaksie in digvorm aangebied – die eerste gedig van die Bybel!  Die gedig besing die vrou as iemand wat uit die man gemaak is en wat soos hy is. Daarom word die vrou in Hebreeus isha genoem, wat ten nouste verband hou met die Hebreeus vir “man” (ish). Ook hier is geen sprake van minderwaardigheid of onderdanigheid van die vrou nie.

‘n Rabbynse siening van die vrou:  Dit is betekenisvol dat die vrou uit die ribbebeen van die mens gemaak is.   As die vrou uit die voete of die hoof van die man gemaak was, kon sy op getrap word of op die man se kop sit.  Sy is egter uit die ribbebeen gemaak om naby aan die hart van die man te wees.

Die intieme band  tussen man en vrou het ook ‘n impak op die sosiale samelewing.  Daarom moet die man die hegte eenheid van sy ouerhuis verlaat en ‘n nuwe eenheid saam met sy vrou vorm.

Met die eerste skeppingsverhaal het God gesê dat alles “baie goed” was; aan die einde van die tweede skeppingsverhaal is die band tussen man en vrou só intiem dat daar geen sprake van skaamte was nie.  Alles is volmaak in die tuin van Eden.