DIE BYBEL (34)

 Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Genesis  (4)

Kain en Abel

Die bose kringloop wat deur die eerste sonde in werking gestel is gaan van kwaad tot erger met die beskrywing van Kain se moord op sy broer Abel.

Die geboorte van Kain word so beskryf dat dit aan die aanvanklike skepping van die mens herinner, met dié kwalifikasie dat Eva dit met die hulp van die Here gedoen het.

Die geboorte van die tweede seun Abel word kort en bondig beskryf met die verwysings na die feit dat hy Kain se broer was en dat die oudste ‘n veeboer en die jongste ‘n saaiboer was.  Hiermee is die toneel vir die tragiese drama opgestel:  twee broers met verskillende maniere om hulle brood te verdien.

Na verloop van tyd bring albei broers vir die Here ‘n offer.  Kain se offer bestaan uit die opbrengs van sy saailande, sonder enige aanduiding dat hy wel die beste van die oes geoffer het.

Abel bring van die eertelinge van sy kudde en dit word nader omskryf as vetgedeeltes.  Hiermee is Abel gehoorsaam aan die wette wat later in Levitikus vervat is en wat vereis dat die eerstelinge en die vet van vleis as brandoffers aan die Here gebring word.

Kain word woedend as die Here nie sy offer aanvaar nie en doen nie eers die moeite om na te dink of daar nie dalk goeie rede vir die verwerping van sy offer was nie.

Die verwerping van Kain se offer het niks met die rigting van die offerrook te make soos sommige ou kinderbybels en illustrasies wou suggereer nie.  Dit is ook onwaarskynlik dat die latere konflik tussen vee- en saaiboere as agtergrond vir hierdie verhaal veronderstel moet word.  Abel se offer het beter voldoen aan die latere vereistes van hoe ‘n offer aan die Here gebring moet word.

Ten spyte van die Here se waarskuwing vermoor Kain vir Abel.  Hierop vra die Here vir Kain waar sy broer is en Kain se onbeskofte antwoord is dat hy nie sy broer hoef op te pas nie.  Dan konfronteer die Here vir Kain met die vergieting van sy broer se bloed.  Kain word vervloek volgens die vergeldingsleer wat destyds gegeld het.  Na aanleiding van die bloed van Abel wat op die grond gestort het, sal die aarde nie meer opbrengs aan die saaiboer Kain gee nie en sal hy ‘n doellose swerwer word.

Die vergeldingsleer:  Sonde en ongehoorsaamheid bring ‘n wanbalans in die skepping wat deur die straf herstel moet word.  Daarom word daar elemente van die oortreding in die straf  herhaal.  Kain stort Abel se bloed op die grond en daarom behels die straf dat die grond deur die gestorte bloed onvrugbaar gemaak word.

Ook vir die moordenaar Kain is daar ‘n tikkie genade by die Here.  Wanneer Kain kla dat sy straf te swaar is, belowe die Here hom dat enige iemand wat hom wil doodmaak, swaar gestraf sal word.

Vir die eerste keer word daar nou ‘n kort geslagsregister of genialogie gebruik om aan te toon dat die Here wel sy belofte om Kain te beskerm, gestand gedoen het.

Dit is opvallend dat die Ou Testament dikwels ‘n geslagsregister invoeg wanneer daar gevaar bestaan dat daar nie ‘n nageslag gaan wees nie.  Sodoende word die geslagsregister ‘n aanduiding dat daar tog ‘n nageslag was.

By die geboorte van Adam en Eva se derde seun Set  (“Gegee”)  word daar iemand in die plek van die vermoorde Abel gegee.  Daar word ook vermeld dat die mense van daardie tyd die Naam van die Here begin aanroep het... Hoop breek deur!

Die nageslag van Adam tot by Noag

Hier word ‘n merkwaardige geslagsregister vanaf Adam, oor Set, tot by Noag opgestel.  Na ‘n kort samevatting van hoe God die mens na sy beeld geskape het, word die verskillende geslagte en hulle  (dikwels hoë) ouderdomme genoem.

Hoë ouderdomme

Dikwels word Metusalag se 969 jaar betwyfel en beweer dat hulle in antieke tye ‘n ander soort kalender gebruik het.  Maar daar moet wel in ag geneem word dat hoë ouderdom deur priesters as ‘n seën van die Here beskou is.  Die hoë ouderdomme is dus aanduidings van sy seën  Van Genesis 6 word die ouderdomme van sy mens na 120 verminder om die sterflikeid van die mens aan te toon.  Henog het naby God geleef en nie gesterf nie, “want God het hom na Hom toe weggeneem.”