DIE BYBEL (35)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Genesis  (5)

Voorspel tot die sondvloed

As inleidng tot die sondvloedverhaal, word daar kortliks verwys na hemelwesens wat met mooi dogters van mense getroud is en wat reuse as nageslag opgelewer het.

Hierdie gedeelte pas in by die beskrywing van toenemende geweld na die eerste sonde.  Die vervaging van die  grense tussen die wêreld van gode en mense vorm deel van die toenemende geweld wat nie die grense eerbiedig wat tydens die skepping gevorm is nie.

Oorsake van die sondvloed

Die verhaal van die sondvloed volg nou en is deur die sondige verdorwenheid van die mens ontlok.   Dit behels die hartseer wat die Here ervaar wanneer Hy die slegte dinge sien wat die mens sy hele lewe lank bedink.  Die Here as die Skepper behou die reg voor om sy skepping tot ‘n einde te bring indien dit nie meer aan sy doel beantwoord nie.

Nadat daar geskryf is dat Noag ‘n regverdige man was wat naby God gelewe het, word daar verwys na die korrupte aarde wat vol geweld was.  Die “goeie skepping” word nou deur sonde gekenmerk  ...  en die sondvloed volg.

Die sondvloed

Die sondvloed sentreer rondom die gedagte dat God aan Noag en die diere gedink het.  Dit suggereer dat God nie van sy skepping vergeet het nie en dat Hy dit steeds in stand wil hou, want Hy dink aan hulle.

Daar is in die Ou Nabye-Ooste talle voorbeelde van skeppingsverhale. Die Bybelse sondvloedverhaal verskil van die heidense as volg:  Die oorlewendes van die sondvloed, Noag en gesin, word nie onsterflik nie..  Die oorsaak van die sondvloed is die sonde van die mens en nie die oorbevolking soos die ou verhale voorgee nie.  Aan die einde van die sondvloed word Noag opdrag gegee om die aarde weer te bevolk.

Die eerste deel van die verhaal begin by God wat besluit om die aarde te vernietig, met die uitsondering van Noag en sy uitgebreide gesin.  Die aanvang van die vloed word dramaties beskryf, hoe dit begin reën en hoe die waters styg.

Die simmetriese opbou van die verhaal:

* God besluit om die aarde te vernietig.

* Noag bou die ark.

* Noag gaan in die ark in.

* Die begin van die sondvloed.

* Die waters styg op.

* God besluit om nie die aarde te vernietig nie.

* God dink aan Noag en die diere.

* Die waters trek terug.

* Die einde van die sondvloed.

* Noag gaan uit die ark.

* Noag bou ‘n altaar.

Die keerpunt waar God aan die diere en Noag dink vind plaas wanneer die waters die skepping skynbaar onomkeerbaar laat terugkeer het na chaos.  Die straf  behels die uitwissing van die mense wat God tydens die skepping gestel het en die waters bedek weer die aarde soos voor die skepping.

Die tweede deel van die verhaal beskryf hoe die waters terugtrek en die sondvloed tot ‘n einde kom.  Toe Noag die ark verlaat, bou hy ‘n altaar vir die Here en dit gee aanleiding tot God se besluit om nie die aarde te vernietig nie.