DIE BYBEL (37)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Abraham se verhale

Die verhale oor Abraham vind aansluiting by die Voorgeskiedenis aan die hand van die geslagsregister in Genesis 11 wat die afstamming vanaf Sem tot by Abraham aandui.  Waar Genesis 11 die toenemende invloed van die sonde op die lewe van mense dramaties aantoon, gaan dit in die Abrahamsverhale om die geleidelike verwesenliking van die aanvanklike land-  en nageslagbeloftes wat in Genesis 12 uitgespreek word.

Aartsvaders

Die aartsvadertydperk omsluit die lewe van Abraham, Isak en Jakob.  Die Bybelprentjie oor die aartsvaders se godsdiens toon dat hulle ‘n God aanbid het wat persoonlik aan hulle verskyn het.  Hulle het tot Hom gebid en offers aan Hom gebring.  Seuns is kort na geboorte besny as teken dat hulle in ‘n verbondsverhouding met God staan.   Die aartsvaders was bewus daarvan dat God saam met hulle is en vernoem plekke en kinders na sy voorsiening en ingrype in hul lewe.  Elke patriarg het sy eie naam vir God wat daarop kan dui dat elkeen in ‘n unieke verhouding met God gestaan het.  Isak praat van “Vrees”of “Beskermer” en Jakob van die “Magtige”.  Wanneer ‘n aartsvader meen dat hy die wil van God onderskei, doen hy dit heelhartig en neem sy hele familie saam met hom.

Roeping van Abraham en die gelofte

Abraham, oorspronklik van Ur (naby die Persiese Golf) en nou in Haran (noordweste van Mesopotamië), word deur die Here beveel om sy land en familie te verlaat en na ‘n onbekende land te gaan wat Hy vir hom sal aanwys.  Die Here belowe ook dat die kinderlose Abraham en Saraï ‘n “groot nasie” gaan word wat geseën sal wees. Meer nog, in Abraham sal al die volke van die aarde geseën word.

Abraham

Jode beskou Abraham as die vader van baie nasies, ook die Joodse nasie.  Tradisie beskou Hebron as die stad waar Abraham, Isak en Jakob begrawe is.  Geen opgrawings kon nog bevestig wanneer Abraham geleef het nie, maar dit was moontlik aan die begin van die tweede millennium vC tussen 1900 en 1600 vC.

Daar word beskryf hoe Abraham gehoorsaam die opdragte van die Here uitvoer.  Daar was genoeg redes vir Abraham om te twyfel aan die uitvoerbaarheid van die Here se beloftes, soos die onvrugbaarheid van Saraï, sy eie gevorderde ouderdom (75); die beloofde land was nie onbewoon nie.

Maar Abraham twyfel nie.  Sy aanvaarding van God se opdragte loop uit op ‘n verskyning van God aan hom.  Ter bevestiging van sy toewyding aan die Here bou Abraham ‘n altaar wanneer die Here aan hom verskyn.

Nie lank nie of die land van belofte kan nie meer vir Abraham sorg nie as gevolg van ‘n swaar droogte, en hulle trek Egipte toe om ‘n heenkome te vind.  Abraham is by voorbaat versigtig dat Saraï se skoonheid die Egiptenare aanleiding sal gee om hom dood te maak.  Daarom versoek hy haar om voor te gee dat sy sy suster is.

Hoe oud was  Abraham en Saraï?

Volgens 17:17 was Abraham 100  en Saraï 90 jaar oud.  Indien Abram in 12:4 reeds 75 jaar oud was, moes die beelskone Saraï tydens hul besoek aan Egipte minstens 65 gewees het.

Die verhaal het talle ironiese elemente:  Abraham wat in die eerste verhaal as die bron van seën aangewys is,  word nou die bron wat die vervulling van die belofte belemmer deur sy bedrog oor Saraï se ware huwelikstatus.  Farao tree telkens heel voorbeeldig op.  Hy beloon eers vir Abram vir die voorgenome huwelik met Saraï en later, wanneer dit bekend word dat Saraï wel Abram se vrou is, laat hy Abraham toe om Egipte te verlaat.

Abraham en Lot

Abraham se broerskind was ook iemand met baie kleinvee en beeste.  Hoewel rykdom en baie besittings as ‘n gevolg van die beloofde seën van die Here gesien kan word, lei dit tot twis en tweedrag in Abraham se familie.  Hulle besittings was so baie dat die land nie in staat was om hulle saam te onderhou nie.

Ten einde die onenigheid in die familie op te los, stel Abraham voor dat sy en Lot se paaie letterlik moes skei.  Teen alle antieke konvensies in oor die prioriteit van die ouer persoon, bied Abraham aan Lot die eerste keuse om te kies waar hy wil gaan woon.  Lot laat ook nie die gulde geleentheid onbenut verbygaan nie en kies dan die beste gedeelte van die land; die waterryke en vrugbare streek langs die Jordaanrivier wat selfs met die tuin van Eden en Egipte vergelyk word.

Soos die tuin van Eden ‘n slang gehad het, het Lot se vrugbare land die goddelose Sodom en Gomorra wat baie teen die Here gesondig het.  Hoewel Abraham met die minder vrugbare gedeelte tevrede moes wees, het die Here opnuut weer bevestig dat hierdie land aan Abraham en sy talryke nageslag gegee word.