DIE BYBEL (40)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Geloof sonder twyfel

Hierdie hoofstuk 22 uit Genesis bestaan uit twee dele:  Die eerste vertel van die toets waarvoor Abraham se geloof te staan kom, naamlik om sy seun te offer vir God, en die ander van die berig van sy broer se nageslag.

Die skrywer verhoog die spanning rondom die offer dramaties deur die lang rit te beskryf en te vertel hoe die seun die offerhout dra.  Abraham bly stil omdat hy bang is vir sy seun se vraag.  Wanneer die seun dan die vraag stel na die offerlam, antwoord  hy dat die Here self die offerlam sal voorsien.  God doen dit dan ook wonderbaarlik.

Abraham leer dat geloof meer is as om ja te sê op God se beloftes.  Geloof vereis ook ‘n ja vir God se eise.  In antwoord op Abraham se radikale gehoorsaamheid, herhaal die Here sy beloftes aan Abraham:  ‘n Groot nageslag, ‘n eie land, ‘n oorwinning oor vyande en seën vir al die volke van die wêreld.

Intussen het Abraham se broer Nahor twaalf seuns.  Die aartsvader wat die belofte ontvang het van ‘n groot nageslag, se gesin het klein gebly.  Tog sien Abraham die Here se plan stadig ontvou.

Twee beloftes

Sara sterf en haar begrafnis word in besonderhede vertel.  Die probleem is Abraham is nie ‘n grondbesitter nie.  Daarom koop hy nou ‘n stukkie grond in die land wat die Here vir hom en sy nageslag belowe het,  Hy betaal ten duurste vir ‘n stukkie van die grond wat uiteindelik alles aan sy nageslag gaan behoort.

Abraham koop ‘n graf en betaal agt maal meer vir die stukkie grond waarop sy grafkelder is as wat Dawid later betaal vir die grond waarop hy ‘n altaar vir die Here bou.  En Jeremia betaal 24 keer minder as Abraham vir die stuk grond wat hy in opdrag van die Here koop.

Die verhaal van ‘n vrou vir Isak

Dit bestaan uit vier afdelings:  Die eerste vertel hoe Abraham ‘n slaaf stuur om vir sy seun ‘n vrou te gaan soek.  Ouers kies gewoonlik hul kinders se huweliksmaats.  Isak moes verseker nie met die Kanaäniete trou nie en Abraham sou daarvoor sorg.

Die tweede deel van die verhaal vertel van die veewagters wat dikwels om die put gekuier het.

Die derde deel van die verhaal het te doen met die slaaf se onderhandelings met Rebekka se bloedverwante. ‘n Besigheidstransaksie moet plaasvind, want die familie verloor hul dogter wat by ‘n ander familie (haar man se familie) gaan bly en werk. Die familie is positief oor die voorgestelde huwelik en die slaaf buit dit uit deur dadelik aanstaltes te maak om te vertrek.

Uit antieke bronne kom dit voor dat broers die grootste sê in hul susters se huweliksooreenkoms gehad het.  Die pa se naam word ná die broer se naam in vers 50 genoem.  In verdere onderhandelinge word net die broer se naam genoem. Gaste het tradisioneel drie dae oorgebly.

Die laaste deel vind plaas as Isak en Rebekka bymekaar uitkom. Sy maak haar gesig met haar sluier toe omdat sy voor haar huwelik gesluierd voor haar toekomstige man moet verskyn.  Isak trou met haar en raak met verloop van tyd lief vir haar.  Haar teenwoordigheid troos hom ook oor sy ma se dood.

Uiteindelik sterf Abraham.  Hy bepaal dat Isak sy enigste erfgenaam is en gee slegs geskenke vir sy ander seuns.  Die latere Israel se bevoorregte posisie word beklemtoon.  Isak en Ismael begrawe hulle pa langs hulle ma.

Isak die geseënde

En toe gebeur dit weer!  Isak en Rebekka kan nie kinders hê nie.  Isak roep die Here aan en die Here verhoor sy gebed. Rebekka het ‘n tweeling.  Die eersgeborene is Esau.  Die tweede seun is Jacob. En  ook hier, (nes in die geval van Ismael en Isak) word die orde omgedraai.

Esau en Jakob

Wat Esau beteken is onseker.  Die nageslag van Esau is die Edomiete.  “Edom” hou verband met “rooi” of “harig” .Die hoofstad van die Edomiete is Seïr, wat “vol hare” beteken.  “Rooi” en  harig” verwys waarskynlik na Esau se voorkoms na sy geboorte.

Jakob se naam herinner aan die Hebreeus vir “hakskeen” , alhoewel dit later aan die  woord vir “bedrog” gekoppel is.  Jakob se lewensverhaal staan natuurlik in die teken van bedrog.  Eers pleeg hy bedrog, om later die slagoffer van bedrog te word.

Die een wat tweede gebore is, neem leiding en word die erfgenaam.  Hoekom beklemtoon die skrywer dit?  Menslike konvensie bepaal dat die eersgeborene ‘n dubbel erfporsie kry, maar die skrywer beklemtoon dat die Here verby die konvensie kyk en die mens daar agter raaksien.  Hy bereik sy doel ten spyte van konvensies.

‘n Volgende episode is as die eersgeborene, Esau sy eersgeboortereg sommer goedkoop vir kos verkoop omdat hy honger is.  Esau is die ru, onverskillige en kortsigtige een; so verkoop hy sy aansprake as ‘n vader van God se volke.

Eersgeboortereg het beteken dat die oudste ‘n dubbele erfporsie kry en as leier van die groep optree na sy pa se dood. As leier van die groep kon hy op verskillende voordele aanspraak maak.

Voorspoed as teken van  seën

Die Here het vier beloftes aan Abraham gemaak, en al vier word hier herhaal; die Here beloof om by sy mense te wees, om die land aan hulle te gee, om hul nageslag so baie soos die sterre te maak en om al die nasies in en deur Abraham se nageslag te seën. Die doel van die skrywer is om te verduidelik dat Isak die voortsetting van die pad is wat die Here met Abraham begin loop het.

Isak se oeste is geseënd.  Gou beny die plaaslike bevolking hom en dit lei tot konflik.  Hulle jaag hom weg deur sy putte toe te stop, maar elke keer kry Isak elders water.  Die skrywer bou spanning op oor die landbelofte: dit lyk of daar nie plek vir Isak en sy geselskap in hierdie land is nie.  Eindelik kom Isak op grond af wat ruim genoeg is vir sy mense.  Die Here verseker Isak dat sy beloftes aan hom geldig is.  Daar bou Isak ‘n altaar vir die Here.

In die Ou Testament is ‘n altaar ‘n plek waar offers gebring word.  Die term altaar hou verband met bloed wat vloei omdat ‘n dier geslag word,  maar nie alle altare was vir bloedige offers nie. Soms is ‘n altaar gebou om gebeure te herdenk, veral wanneer die Here uitkoms gegee het of op ‘n besondere wyse voorsien het. Geen altaar mag met trappe gebou word nie en grond en ongekapte klippe moet gebruik word om die altaar te bou.

Die seën van die Here rus kennelik op Isak, sodat die plaaslike inwoners terugkom en sy vennootskap soek, “want ons het baie duidelik gesien die Here is by jou.”   Isak sluit ‘n vredesverbond met hulle.  Daardie selfde dag kry Isak se mense water in die woestyn.  Isak noem die put en stad Berseba.

Esau trou met ‘n Kanaänitiese vrou, en die tema wat reeds aangeraak is duik weer op; ondertrouery met mense van ander volke lei tot smarte en sonde.

(Die verhaal van die tweelingseuns vervolg)