Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Tweelingseuns
Die antieke mens het geglo dat veral die laaste woorde wat ‘n mens op aarde praat, groot krag het. Daarom word Isak se sterfbedwoorde hier opgeteken.
Voor hy praat wil Isak eers saam met sy oudste seun eet. Rebekka steek ‘n stokkie voor die destydse gebruik dat die oudste seun altyd die voorreg ontvang om die leier van die groep te word en die naam van die groep voort te sit. Jakob deel sy ma se siening. Hy het geen beginselbesware om saam te jok nie, maar is net bang dat hy uitgevang sal word. Die blinde Isak laat hom oortuig dat Jakob sy oudste seun is en spreek die seën oor hom uit: materiële seën wat vrugbaarheid, voorspoed en rykdom insluit, en politieke seën wat daaruit bestaan dat ander nasies hom sal dien.
Wanneer Isak ontdek dat hy bedrieg is, huil hy hartverskeurend saam met sy oudste seun wat sy gunsteling is. As troos kry hy die belofte dat sy onderwerping aan sy broer nie permanent hoef te wees nie. So word die geskiedenis van Israel (Jakob) en Edom (Esau) oor baie eeue aan die hand van Isak se seën verklaar. Vir lang rukke sou Israel oor Edom heers. Maar met tye het Edom in opstand gekom en soms selfs die oorhand gekry. Wanneer Juda in 722vC deur Babilonië in ballingskap weggevoer word, is Edom dadelik by om die vlugteling-Judeërs uit te lewer aan die Babiloniërs en om die mense van Juda verdere skade te berokken.
Natuurlik het Esau ‘n appeltjie met sy broer te skil gehad, en hy wag net tot sy pa doodgaan. Rebekka hoor dit en stuur Jakob onmiddellik weg na haar eie familie in Haran.
Jakob, mens in konflik:
Konflik met Esau
Die eintlike rede vir Jakob se vertrek word versag deur die motief dat hy nie moes ondertrou met mense van ander godsdienste nie. Daarom plaas Isak sy offisiële seën op Jakob se vertrek.
Bemoediging
‘n Mens sou verwag dat as die Here vir Jakob op die pad na die vreemde ontmoet, Hy sou praat oor die wyse waarop Jakob die eersgeboortereg gesteel het. Die Here herhaal die beloftes wat soos ‘n refrein deur die aartsvaders se lewens loop: ‘n groot nageslag en die seën van die Here, leiding en land. Die Here beloof: “Ek is by jou, Ek sal jou beskerm, en ek sal jou terugbring na hierdie land”. Jakob reageer op die openbaring in die droom: hy bely dat die Here sy God sal wees as die beloftes waar word. Hy skep die aanbiddingsplek waar die openbaring plaasvind en hy onderneem om tiendes vir die Here te gee.
Kuller: Jakob gekul
In die Bybel ontmoet mense mekaar dikwels by ‘n put, omdat hulle soveel tyd daar by hul vee deurgebring het. Jakob ontmoet Rachel daar. Kort voor lank is hy verlief op die mooi meisie, maar kan nie die duur bruidsprys betaal nie.
Die antieke mens moes ‘n bruidsprys aan die pa van die bruid betaal wat as sekuriteit gedien het indien die eggenoot iets sou oorkom. Lea en Ragel besef albei dat die bruidsprys wat hulle pa vir hulle gekry het buitensporig hoog was: veertien jaar se arbeid!
Sy aanstaande skoonpa maak egter ‘n bedrieglike ooreenkoms met hom. Hy laat hom jare lank werk om sy bruidsprys te verdien. Wanneer hy uiteindelik met die meisie van sy drome trou, vind hy uit dat hy die ouer suster, Lea, gekry het.
Die bedrieër het hom nou vasgeloop in iemand wat selfs nog beter is in die kuns om ander te bedrieg. Jakob is egter ‘n verliefde man en hy werk verder om Ragel ook te kry.
Lea en Ragel – Lea se naam beteken moontlik “koei”. Sy kry haar naam van haar “sagte oë” wat aan ‘n koei se oë herinner het. Ragel se naam beteken “skaapooi”. Antieke mense se name het betekenis gehad. Dit was gladnie beledigend bedoel as jou ouers jou na ‘n mak dier vernoem het nie.
Konflik oor kinders
Genesis 29: 31-35 vorm die kern waarom die Jakob-verhale draai en word omring deur die konflik met en kullery van Jakob. Die onderlinge tema van die gedeelte is die Here se belofte van ‘n groot nageslag van Abraham. Lea is die minder geliefde en die Here sien dit raak en troos haar met kinders. Die onreg word reggestel. Ragel sukkel om kinders te hê.
Uit pure desperaatheid gryp Ragel na ‘n volksgeloof dat liefdesappels vrugbaarheid bevorder. Wanneer sy uiteindelik ‘n seun het, noem sy hom Josef, wat “ag geslaan” of “aan haar gedink” beteken.
Liefdesappels is onder die bed geplaas in die geloof dat dit tot bevrugting sal lei.
Kuller: Laban gekul
Die drie gedeeltes wat nou volg, het almal met kullery te doen.
In die eerste vertelling wil Jakob terugtrek na sy ouerhuis. Laban is nie daarmee geneë nie omdat hy besef dat Jakob ‘n geseënde van die Here is en dat hy daardeur bevoordeel word. Jakob se “u hoef my niks te betaal nie” is ‘n oud-Oosterse manier van hoflikheid om die bedinging op die tafel te kry. Natuurlik wil Jakob vergoeding hê vir die lang jare van diens aan sy skoonpa. Hy beding ‘n aanteel in die aanteelvee. Hy kies die onwaarskynlikste deel van die aanteelvee.
In die Midde-Ooste was bokke meesal swart of bruin en skape meesal wit. ‘n Afwyking was ‘n uitsondering. Jakob kies die uitsondering, naamlik bont vee. Hy probeer die kleur van die vee manipuleer deur wit en swart strepe in die drinkwater te sit. So bou hy sy eie kuddes. Eers agterna besef hy dat dit eintlik die Here was wat die onreg reggestel het wat sy skoonpa teen hom gepleeg het.