Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Daar is so baie inligting oor die samestelling van die Bybel en die betekenis daarvan wat toegewyde Christene vandag eintlik niks meer van weet nie, dat ons graag in hierdie rubriek die geleentheid wil skep om daaroor te praat en sodoende ons kennis van die Woord van God te vermeerder, want dan sal ons ook die almagtige God wie se Woord dit is , beter ken en liefhê.
Ons Protestantse Christene se Bybel bestaan uit die Ou Testament (39 boeke) en die Nuwe Testament. (27 boeke). Hierdie 66 boeke is kánon, dit wil sê hulle is die norm, die maatstaf van die Woord, die egte, die betroubare. Ons noem hierdie 66 boeke die kanonieke boeke van die Bybel. Daar is nog ander boeke wat in die Bybelse tyd geskryf is wat ons Apokriewe boeke noem. Die Rooms-Katolieke het nog 13 sulke boeke in hulle Bybel opgeneem en noem dit Deuterokanonieke boeke. Ons Protestante sien nie hierdie boeke as deel van die onfeilbare Bybel nie, maar keur ook nie die lees daarvan af nie.
Daar is ook Nuwe Testamentiese Aprokriewe, bevattende min waarhede, baie verdigsel en heelwat mooi stories, byvoorbeeld: Die Seuntjie Jesus sit langs die spruitjie saam met ander seuntjies en speel. Jesus maak voëltjies van klei en blaas op hulle. Dan word hulle lewendig en vlieg weg. Of: Petrus en Johannes kom in ‘n herberg. In die bed waar hulle moes slaap, krioel dit van weeluise, maar Petrus bestraf hulle en hulle verlaat die bed in optog en gaan wag buite die deur. Toe die apostels die volgende môre die plek verlaat, gee Petrus hulle toestemming om weer binne te kom en daar marsjeer die goggas weer in gelid na hulle bedtuiste terug!
Die Ou Testament
Hier word getuig van God se teenwoordigheid onder sy volk. Die Bybel vra nie of daar ‘n God is nie. Dit getuig net van sy teenwoordigheid. Hy is en was nog altyd daar. Ons lees daarvan in die Ou Testament. Dit openbaar God soos Hy is, in sy liefde, hulp, oordeel. Maar niemand in die Ou Testament het hierdie God nog ooit van aangesig tot aangesig gesien ne. Daar is ook nie beelde van Hom gemaak nie. Hy het deur profete en priesters gepraat en gedoen. Sy wet het mense beveel wat om te doen. Soms het Hy in drome of gesigte of selfs deur engele gepraat. Die Ou Testament vertel vir ons van al hierdie openbaringe van die onsigbare, maar tog sigbare God.
Die Nuwe Testament
God het egter uit liefde besluit om Hom sigbaar aan mense te openbaar. Hy stuur toe sy Seun om mens te word. In Jesus, die beeld van God, leer ons God ken. Hy is God se openbaring, want God het sy Seun gestuur om mens te word. In Jesus kon ‘n mens dus vir God van aangesig tot aangesig sien. In Jesus kan ons sien hoe God is. In die oë van Jesus kan ons God se liefde sien. In sy hande wat ander help, kan ons God se hande sien. In sy woorde kan ons God se woorde hoor.
Dit is wat Jesus so spesiaal maak. Sy optrede hier op aarde is daardie oomblik in die geskiedens waar ons God kon sien soos Hy is. Nou hoef ons nie meer te raai wat God van ons verwag of wat ons moet doen nie. Ons hoef net na Jesus te kyk, want daar sien ons God se outentieke openbaring. In die Nuwe Testament lees ons alles van hierdie outentieke openbaring van God in Jesus. Daarom is die Nuwe Testament so belangrik.
Die Ou en Nuwe Testament word as outentiek en normatief erken omdat dit van God se outentieke openbaring in die wêreld vertel. Dis die venster waardeur ons God kan sien. In Christus het hierdie openbaring ‘n hoogtepunt bereik omdat ons God daar direk kan sien, hoor en aan Hom kan raak.
Die Bybel is dus kánon, nie omdat die Bybel so belangrik is nie, maar omdat die Een waaroor die Bybel praat, die Vader en die Seun, so belangrik is. Hulle stel die norm vas en daarom kan die verhale oor hulle normatief wees.
Daarom het die getuienis oor Jesus se woorde en dade (Nuwe Testament) saam met die Skrifte (Ou Testament) die norm vir die vroegste kerk geword. Die gemeentes het hiervan geleef as die rigsnoer van God vir hulle lewe. Enigiets wat nie gestrook het met wat Jesus of die Skrifte sê nie, is teëgestaan en as verdraaiing van die waarheid gesien.