DIE BYBEL (2)
Dr JP Botha
Ons het die vorige keer aandag gegee aan die samestelling van die Ou en Nuwe Testament en gaan verder voort met opvolgende historiese gegewens. Naas die Bybel as bron, is ook gegewens geput uit Die Bybel A – Z (Van der Watt en Medewerkers).
Die apostels
In die Bybel-tyd was die apostels in ‘n spesiale gesagsposisie geplaas, want hulle het saam met Jesus geleef en van Hom geleer. Hulle moes daarvoor sorg dat alles wat Hy gesê en geleer het, die boodskap van die kerk moes word en dat dit nie verdraai moes word nie. As iemand getwyfel het oor wat Jesus gesê of gedoen het, het hulle vir die apostels gevra. So is verseker dat die kerk in die voetstappe van Jesus volg. Die apostels was dus die geheue van die vroegste kerk en toe hulle minder begin word, het mense die evangelies op skrif begin stel.
Toe die kánon van die kerk formeel vasgestel moes word, was dit vir die kerk belangrik dat die skrywers apostels moes wees, of mense wat baie na aan die oorsprong van die kerk gestaan het.Die gemeente
Die Christene het volgens hierdie boodskap gelewe en dit noukeurig oorgedra. Die gemeente het dus kontrole uitgeoefen oor die egtheid en die waarheid van die boodskap. So het die suiwerheid van die boodskap behoue gebly. As die boodskap in ooreenstemming met die lewende tradisie van die kerk is, sê ons dit is ortodoks. In die gemeente het die boeke wat die egtheid van hulle geloof weerspieël het, gewig bly dra. Boeke wat nie hierdie waarheid weerspieël het nie, is nie as normatiewe boeke gesien nie, al is hulle in dieselfde tyd geskrywe as die boeke van die Nuwe Testament.
Die begin van die Ou Testament as kánon
Dit het oor ‘n baie lang periode ontwikkel. Die eerste dele is waarskynlik al in 1500 vC geskryf. Die eerste duidelike tekens van ‘n bewustheid van ‘n kánon kom uit die tweede eeu voor Christus. Toe is van die Ou-Testamentiese boeke in bundeltjies versamel. Ander betwyfel dit en beweer dat van die Ou-Testamentiese boeke reeds in die vyfde eeu as gesagsvol aanvaar is.
Die drie dele
Ons onderskei tussen die boeke van die Ou Testament deur die Wet, Profete en Geskrifte
DIE WET: Dit is die eerste vyf boeke van die Bybel en word die Pentateug genoem. Moses het nie hierdie eerste vyf boeke geskrywe nie. Die Samaritane beskou die Pentateug as hulle Bybel.
Die Wet (Tora): Genesis tot by Deuteronómium is die oudste outoritatiewe dokumente en was die kern van die kánon van die Jode. Dit was al in die tyd van Esra en Nehemia gesagvol in die vyde eeu voor Christus.
DIE PROFETE: Teen die tyd van Jesus het daar al ‘n tweede versameling naas die Tora in ‘n gesagsposisie ingeskuif, naamlik die Profete. Die geskiedenisboeke van Josua tot by 2 Konings was deel daarvan.
DIE GESKRIFTE: Sommige beweer dat die gesag van die Geskrifte eers in 70 nC gevestig is, maar daar is verwysings in die Kumraandokumente na al die boeke van die Ou Testament, behalwe Ester. Hierdie boeke het dus al in Jesus se tyd as belangrike boeke die rondte gedoen.
Onder die Geskrifte tel: Psalms, Job, Spreuke, Klaagliedere, Hooglied en historiese boeke soos Daniël, Esra-Nehemia, Ester en die Kronieke.
By die totstandkoming van die boeke van die Bybel moet ‘n mens dink aan ‘n ontwikkelingsproses wat reeds teen 200 vC kon begin het en aan die einde van die eerste eeu nC ten einde kon geloop het.