DIE BYBEL (3)
(Lees reeks by DIE BYBEL)
Dr JP Botha
In hierdie deel gaan ons kyk hoe die boeke van die Bybel geskryf is.
Mense in die ou tyd was vertellers
Die Evangelies is eers sowat 30 jaar of meer na die gebeurtenis waarvan dit vertel, naamlik die lewe van Jesus, geskryf. Net so is die verhale oor Abraham of Moses waarskynlik eers baie jare na die werklike gebeure geskryf.
Min mense in die ou tyd kon skryf. Daar was spesiale skrywers wat die belangrikste dokumente moes saamstel. Daarom moes mense maar dinge onthou wat belangrik was. Hulle het dit weer aan hulle kinders en ander vertel. So is belangrike inligting nie op die bladsye van boeke nie, maar in die gedagtes van mense verder gedra. Paulus praat byvoorbeeld van dit wat aan hom oorgelewer is. In Deuteronómium 4 staan: “Pas net op en wees baie versigtig om solank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en kleinkinders inskerp.”
Van mondelinge vertellings na woorde op papier
Jesus praat en doen. Hy het self niks neergeskryf nie. Hy het mense geleer en wonderlike dinge gedoen. Dit het sy dissipels gesien en onthou. Hulle was in Jesus se skool. Na Jesus opgevaar het, het die dissipels begin preek oor alles wat hulle gesien en gehoor het. Hulle het Jesus verkondig en gemeentes het ontstaan. Die gemeentes het onthou wat die dissipels vir hulle vertel het. Hulle het volgens hierdie woorde oor Jesus, begin leef. So het daar tradisies ontstaan oor wat Jesus gesê en gedoen het. Dit het die basis gevorm van wat Christene geglo het. Dit is byvoorbeeld waarna Paulus verwys in 1 Kor: 1 en 2. In 1 Kor. 7: 10 sê hy ook dat nie hy nie, maar die Here iets beveel. Dit beteken dat wat hy daar sê op so ‘n tradisie van Jesus teruggaan. In 1 Kor. 7 : 12 sê hy weer dat hý iets sê en nie die Here nie. Oor dié saak het hy waarskynlik nie so’n direkte tradisie van Jesus af nie.
Eers 200 jaar na Christus het hulle dinge begin neerskryf
Die feit dat die mondelinge fase so lank geduur het, moet daaraan gewyt word dat die ou samelewings baie op hulle geheue staat gemaak het. Griekse kinders moes groot dele van boeke uit hulle koppe leer en dit woordeliks onthou. Die Fariseërs het ook niks van hulle wette en tradisies in die tyd van Jesus neergeskryf nie. Hulle het alles onthou en dit mondelings oorgedra. Dinge is eers 200 jaar na Christus neergeskryf. Daarmee saam is die stories ook so vertel dat die mense dit kon onthou. Woorde of sinne is byvoorbeeld herhaal. Verhale is kort gehou. Patrone in die verhaal het gehelp om dit beter te onthou. Die apostels was die “ongeskrewe “ boeke van Jesus. Hulle het die tradisie waar en gesond gehou.
Die eerste stukkies op skrif
Die Christene het geleidelik sekere dele van hulle tradisies begin neerskryf. Die wonderverhale van Jesus wat ons in Johannes gekry het, is byvoorbeeld in ‘n bundeltjie neergeskryf. So was daar waarskynlik verskillende bundeltjies met stukkies materiaal wat later in die Evangelies opgeneem is.
Die Evangelie van Markus
So 30 of 35 jaar na Jesus se hemelvaart skryf Markus die eerste Evangelie. Hy het dit nie nuut uitgedink nie, maar neergeskryf wat in sy gemeente se geheue en miskien in die klein bundeltjies gestaan het. Hy het dus die lewende tradisie rondom Jesus van sy gemeente neergeskryf.
Die Evangelies van Matthéüs en Lukas
Hulle is waarskynlik sowat tien of meer jaar na Markus geskryf. Hulle het nie van voor af begin nie. Hulle was soos mense wat ‘n werkstuk in die biblioteek skryf. Hulle het van “boeke” gebruik gemaak. Hierdie boeke was Markus (wat toe reeds geskryf was), en ‘n onbekende bron wat geleerdes “Q” noem (afgelei van die Duitse woord “Quelle” , wat “bron” beteken) en dan ander materiaal wat elkeen in die hande kon kry. Met hierdie verskillende bronne het elkeen sy eie Evangelie geskryf volgens die behoeftes van elkeen se gemeente.
Johannes
Het ‘n dekade of wat later op dieselfde manier tot stand gekom, maar het nie Markus, Matthéüs of Lukas gebruik nie. Johannes het onafhanklik van hierdie bronne in ‘n Evangelie ontwikkel. Die mense vir wie Johannes en die Briewe geskryf is, word gewoonlik die Johannese gemeente genoem.