DIE BYBEL (4)
(Lees reeks by DIE BYBEL)
Die “skrifgeleerdes” hou die Ou Testament lewendig en beskikbaar
Die Hebreeuse alfabet is baie oud en het waarskynlik al bestaan toe die Jode Kanaän ingeneem het. Toe al het hulle hul geestelike ervarings met God neergeskryf. Die wet is byvoorbeeld in geskrewe vorm in die ark gesit. Hoewel mense baie op mondelinge stories staat gemaak het, was die stukkies godsdienstige dokumente tog daar om hulle mondelinge tradisies in die regte rigting te laat ontwikkel. Die wet het hulle herinner aan watter God hulle aanbid en daarom was dit die fokus van hulle verhale. Behalwe die wet is daar soms ook aantekeninge gemaak oor politieke ontwikkelings, die doen en late van konings, algemene daaglikse sake, bouplanne en so meer.
Hoewel die Joodse kinders geleer is om die wet te lees en te skryf, was daar spesiale skrywers in Israel.
Hulle was bekend as die skrifgeleerdes. Esra was so ‘n persoon. Aanvanklik het hulle vir die konings gewerk. In Jesus se tyd was hulle soos prokureurs, maar het net meer gedoen. Hulle moes dokumente en ooreenkomste opstel en regsprobleme oplos. Hulle moes die Skrif kopieer, moes die Skrif bestudeer en as onderwysers van die Skrif optree deur vir mense te preek, asook ander as skrifgeleerdes op te lei. Hulle was dus die geleerde groep in die gemeenskap.Omdat skryfmateriaal so skaars was, moes hulle baie mooi en netjjies skryf. Dit het spesiale opleiding gevra. Hierdie skrifgeleerdes het ook verseker dat die godsdienstige dokumente nie verlore gaan nie, maar het dit getrou gekopieer.
Die proses van oorskryf van die antieke dokumente
Daar was destyds nie drukperse nie. Die boeke moes moeisaam met die hand oorgeskryf word.
Materiaal
Eintlik is daar destyds op alles moontlik geskryf: op potskerwe, velle, bene, papier, klip en wat nog alles. Die mees algemene gebruik was om op vel (vellum) of papier (papirus) te skryf. As iemand in die openbaar vereer is, is daar gewoonlik vir hom ‘n monument van klip opgerig en dan is al sy goeie dade op die klip uitgeskryf.
Papirus is gemaak van die papirusplant wat langs riviere soos die Nyl gegroei het. Die plant het hoog gegroei (3 meter) en ‘n driehoekige vorm gehad. Binne-in het die plant sulke lang drade gehad wat dit sterk gemaak het. Die plant is langs die drade af in repe gesny. ‘n Laag van die papirus is dan uitgepak met ‘n tweede laag wat dwarsoor die eerste laag gelê is. Dit het ‘n sterk papier gemaak. Velle is aanmekaar geplak om ‘n lang stuk te vorm. Die lang stuk papier is dan opgerol in ‘n boekrol. Boeke soos ons dit ken, is eers in die tweede eeu nC deur Christene “ontdek”. Die rolle was te moeilik om te lees en te hanteer sodat die “boek” toe uitgedink is.
Vellum
Velle is skoongemaak en goed gebrei. Dit is dan as skryfmateriaal gebruik. Ink was roet wat met water gemeng is
Kopiëring
Boeke moes met die hand oorgeskryf word. Dit kon op verskillende maniere gedoen word. ‘n Skrywer (skrifgeleerde in die Joodse situasie en monnike of priesters in geval van die Christene), kon of die dokument wat oorgeskryf moes word langs hom hou en dan oorskryf, of iemand kon die teks voorlees en dan kon ‘n paar skrywers tegelyk kopieë maak.
Albei hierdie metodes het egter veroorsaak dat daar kleiner foute in die gekopieerde tekste ingesluip het, al is dit na die tyd deur ‘n “twee leser” nagegaan. Tipiese foute was byvoorbeeld:
Leesfoute
As twee opeenvolgende lyne op ‘n bladsy met dieselfde woorde eindig, kon jou oog “spring” en een sin uitlos, want jou kop het heen en weer beweeg. Woorde kon ook maklik oorgeslaan of verkeerd gespel word.
Dikwels het skrywers dele van die Bybel uit hulle kop geken, byvoorbeeld die Onse Vader. Markus het byvoorbeeld ‘n deel, “aan U behoort die...” by, maar dit is nie deel van Matthéüs nie. Dit het egter gebeur dat ‘n skrywer nie na die teks gekyk het nie en sommer uit sy kop geskryf het. So kon hulle Markus se teks by Matthéüs ingeskryf het. Dit was nie oorspronklik daar nie.
Skryffoute
Sommige woorde klink dieselfde, maar ‘n mens skryf dit verskillend. As iemand vir jou lees, weet jy nie altyd watter woord bedoel word nie en dan kan jy dalk die verkeerde een neerskryf.
Die skrywers is nie toegelaat om te gesels onderwyl hulle gekopieer het nie. Dit het gebeur dat hulle vir mekaar opmerkings skryf in die kantlyn van die dokument wat hulle besig was om te kopieer. Daar is dan vergeet om dit uit te vee. Die persoon wat die teks later ontvang (op ‘n ander plek) kan dan dink dat die woorde deel van die oorspronklike teks was en dit invoeg. In 1 Johannes 5 vers 7 het ons selfs ‘n geval waar een van die skrywers bewustelik ‘n stuk in die teks ingevoeg het. Hy het dit gedoen om die leer van die Drie-eenheid te ondersteun.
Ten spyte van hierdie moontlikhede om foute te maak, is die Bybel tog merkwaardig akkuraat oorgelewer. Die kleiner foutjies maak geen verskil aan die boodskap nie. Daar is in die Bybelwetenskappe egter ‘n spesiale wetenskaplike metode ontwikkel om hierdie foute te probeer opspoor en uitskakel, naamlik tekskritiek.
Tekskritiek
Die Bybel is baie gekopieer deur die monnike. Die probleem is egter as een monnik ‘n fout maak en die manuskrip met die verkeerde teks na ‘n ander klooster stuur, sal al die manuskripte wat verder van daardie verkeerde teks afgeskryf word dieselfde fout bevat, want die nuwe kopieerders sal dink dis hoe dit hoort.
Deur dus te kyk watter foute manuskripte bevat, kan daar bepaal word waar hulle vandaan kom. Daarom word daar van “families van tekste” gepraat. ‘n “Familie” is tekste met dieselfde foute in. Die geheim van tekskritiek is om by die teks uit te kom wat die minste foute in het en so na as moontlik aan die oorspronklike teks was. Daarom is daar byvoorbeeld kleiner verskille in die 1933\ 1953- en 1983-vertalings in Afrikaans. Laasgenoemde het manuskripte gebruik wat volgens die huidige kennis die naaste aan die oorspronklike is, terwyl die 1933-vertaling in sommige gevalle swakker tekste (“formules”) gebruik het.