DIE BYBEL (5)
Lees reeks by: DIE BYBEL
VERSKILLENDE MANIERE WAAROP DIE BYBEL AL GELEES IS
Die Bybel is al op baie maniere gelees en vir almal het dit geestelik iets beteken, afhangende van hoe mense die Bybel sien. Sommige lê klem op die magiese kragte van die Bybel. Die Bybel word vir sy krag gebruik en nie vir sy boodskap nie. Stukkies daarvan word om die nek gedra of onder die kopkussing gesit vir krag en beskerming. Spesiale dele uit die Bybel word ook oor en oor geresiteer om krag in die hande te kry. In baie gevalle word die Bybel oopgemaak en met die vinger op ‘n vers gedruk en dan word dit as die direkte, “natuurlike” boodskap van God gesien.
Naïef
‘n Baie algemene lees van die Bybel is impressiewe of naïewe lees. Mense tel die Bybel op, lees ‘n vers en pas dit direk op hulle geestelike lewe toe, sonder om te vra wat die gedeelte in sy oorspronklike konteks beteken het.
Dogmaties
Die Bybel is in die verlede en word nog in sommige kerke dogmaties gelees. Daar word nie gevra wat die Bybel se boodskap self is nie. Daar word eerder net bewyse (verse) uit die Bybel gesoek om die leer of tradisie van die kerk te bevestig.
Allegories
Die Bybel is ook deur die eeue allegories gelees. Dit beteken om aan alles in die Bybel ‘n geestelike boodskap na goeddunke te te ken. Die vyf klippies van Dawid waarmee hy Goliat gaan aandurf het, is geloof, liefde, of wat ook al. Goliat is natuurlik die duiwel. Daar is niks in hierdie teks wat die geestelike boodskap suggereer nie, maar die leser besluit self wat hy in die gedeelte wil inlees.
Allegorie was baie gewild onder die kerkvaders. Daarvolgens ken ‘n mens ‘n geestelike betekenis toe aan ‘n gedeelte, sonder dat die gedeelte dit sê. Jy besluit self wat die teks wil sê deur te sê wat die verskillende dele van die teks beteken. Die vyf klippies wat Dawid opgetel het om teen Goliat te gaan veg word byvoorbeeld “gebed”, “Bybelstudie” en “geloof”. Goliat word die duiwel. Maar dit is nie wat die gedeelte bedoel het nie.
Histories
Dan is daar ‘n historiese lees van die teks. Van die vroegste tye af is daar erken dat die Bybel in sy konteks gelees moet word. Dit het die Antiogeense skool in Sirië gedoen, maar almal het dit nie gedoen nie en die Bybel is dikwels naïef, dogmaties en allegories in die kerk gelees.
Met die Hervorming het dinge egter radikaal verander. Luther het gesê almal moet die Bybel kan lees en nie net die priesters of dominees nie. Dit het die Bybel op die lessenaars van gewone Christene, asook van die professors by universiteite geplaas. Laasgenoemde het gevra wat die Bybel presies is. Dit is geskiedenis wat in literatuurvorm neergeskryf is, is gesê. Daarom moet daar metodes wees om die geskiedenis te ondersoek en daar moes metodes wees om die literatuur te ondersoek.
Toe het daar in die negentiende tot twintigste eeu die histories-kritiese metode ontwikkel, om die geskiedenis van Israel, Jesus en die vroeë kerk te skryf. Tekskritiek en bronnekritiek het gevolg, en vormkritiek, wat gekyk het watter soort literatuur alles in dokumente gebruik word. Daaruit kon ‘n mens aflei wat alles in die gemeente gebeur het. As jy baie nagmaalstukkies of sendingstukkies in byvoorbeeld Matthéüs kry, kan jy aflei dat die twee sake baie belangrik was in die gemeente aan wie Matthéüs geskryf het.
Tradisiekritiek het gekyk hoe gedagtes uit die Ou Testament in die Nuwe Testament ontwikkel word. Redaksiekritiek het gekyk hoe die individuele skrywers, soos Matthéüs of Lukas, die bronne wat hulle gebruik het, redaksioneel verander het. Op dié manier wou die wetenskaplikes die geskiedenis van die tekste en die kerk probeer beskryf. Die Jesusnavorsing, waar die sogenaamde historiese Jesus gesoek word, is ‘n uitloper van hierdie historiese benadering.
Daar word onderskeid getref tussen die historiese Jesus en die verheerlikte Christus. Die Nuwe Testament is eers na Jesus se opstanding geskryf en alles wat oor Hom gesê word, word deur die bril van die verheerlikte en opgestane Here (verheerlikte Christus) gesien. Die Evangelies is dus boeke oor Jesus. Dit is ander se vertellings oor Hom. Maar hoe was Hy self? Kan ons uit die vertellings wat tussen 30-60 jaar na sy geboorte geskryf is, die “skille” van ander se woorde afsny en uitkom by wat Christus self gesê en gedoen het (dus die historiese Jesus)?
Toe het daar na 1970 ook nog literatuurwetenskap ‘n groot rol begin speel. As ‘n mens die struktuur van ‘n teks kan vasstel, dan het jy die betekenis van die teks. Toe volg resepsieteorieë en dekonstruksieteorieë, wat die rol van die lesers beklemtoon het en tot posmodernisme gelei het, naamlik elkeen het die reg om uit die teks te haal wat hy wil.
As elkeen kan dink en glo wat hy wil en uit die teks kan haal wat hy wil, is die Skrif dan nog gesagvol? Is daar dan nog iets soos ‘n sentrale boodskap wat almal sal kan raaklees, maak nie saak wie hy is nie, of verskil dit maar van mens tot mens?
Maar wat van die Bybel?
Dis baie belangrik om vir jouself te sê wat die Bybel vir jou presies beteken. Is dit ‘n magiese boek, is dit die fontein waaruit God se Woord direk vir jou vloei, is dit geskiedens of net literatuur? In die akademiese wêreld word op verskillende maniere na die Bybel gekyk en geglo dat nie een perspektief op die Bybel reg is nie. Daarom word ‘n omvattende lees van die Bybel voorgestaan. Dit is om na die teks te kyk as venster, skildery en spieël.
(Volgende keer kyk ons hoe ‘n mens die Bybel moet lees).