DIE BYBEL (6)
Lees reeks by: DIE BYBEL
Die Bybel is ‘n onuitputlike bron van inligting vir elke gelowige. Hoe meer jy dit bestudeer hoe beter. ‘n Belangrike manier om die Bybel te lees is om dieper te delf. Die eerste dele van die Ou Testament is 3 500 jaar gelede geskryf. Die Nuwe Testament is sowat 2 000 jaar gelede geskryf. Die boeke is in ander omstandighede deur mense uit ‘n ander kultuur in vreemde tale geskryf. Dit maak dit moeilik. Daar word byvoorbeeld ‘n teks opgegrawe waarop daar - vir jou - ‘n vreemde inskripsie staan. Iemand sê hy kan dit lees; daar staan: “Maak al die bloedsuiers dood.” Ons het ‘n goeie vertaling nodig, want as die vertaler “bloedsuiers” verkeerd vertaal het en dit eintlik “vlieë” moes gewees het, is ons heeltemal op die verkeerde spoor. Wat ons uit die Bybel gaan haal, hang baie af van die vertaling. Daarom is dit beter om by Bybelstudie altyd meer as een vertaling te gebruik, want dit toon dikwels vir jou dat daar verskillende moontlikhede is om daardie spesifieke teks te vertaal.
Woordeboeke, konkordansies en kommentare
Wat moet ons nou met hierdie teks maak? Moet ons al die bloedsuiers gaan soek en hulle doodmaak? Wat is ‘n bloedsuier? Die woordeboek sê dis ‘n gogga wat aan ‘n mens kom vassit en jou bloed uitsuig. Maar dit verwys ook na ‘n mens wat ander mense finansieel of geestelik “uitsuig”.
Wanneer ons die Bybel lees, moet ons uitvind wat die woorde beteken, al dink ons soms ons weet. Ons kan so maklik ons eie betekenis in woorde lees. Vat maar iets soos die doop. Kyk hoe verskil kerke daaroor. Party sê die doop red, ander sê nee; party sê grootdoop, ander sê kleindoop. Wat is reg? Dit gaan oor wat presies met doop in die Bybel bedoel word. Hieroor is ons nou nog nie seker nie. Ons moet betroubare Hebreeuse en Griekse woordeboeke gebruik om uit te vind. Maar ons ken nie hierdie tale nie, net die leraars wat dit bestudeer het. Maar daar is hulpmiddels soos kommentare waarin mense wat die woordeboeke gelees het, ons help om die woorde beter te verstaan. Ons kan ook ‘n Bybelse konkordansie gebruik om uit te vind wat ‘n woord beteken. ‘n Bybelse konkordansie is ‘n boek waarin al die verse genoem word waar ‘n spesifieke woord in die Bybel voorkom. Die verskillende Bybelvertalings het elk sy eie konkordansie
Kontekste (kommentare en Bybel-ensiklopedieë)
Maar waarom moet ons al die bloedsuiers doodmaak? Die man wat ons met die vertaling gehelp het, het verduidelik dat die sin deel van ‘n groter paragraaf is. Die paragraaf gaan oor mense in die agterstrate van ‘n groot stad wat al die armes uitbuit. Een van die armes het toe dié sin gesê. Dit was egter deel van ‘n hele toespraak. Hy het gesê: “Ons word uitgebuit en wat moet ons sê?” ‘Maak die bloedsuiers dood?’ Nee, ons kan tog nie, want dan land ons almal in die tronk. Ons sal ‘n ander plan moet maak.”
Die literêre konteks
Die paragraaf of ander sinne wat saam met die sin gebruik word. As ons na die ander sinne kyk, sien ons dat die bloedsuiers kan of mag nie doodgemaak word nie, presies die teenoorgestelde van wat eers gedink is. ‘n Vers of sin in die Bybel moet nooit buite konteks gelees word nie.
Die sosio-kulturele konteks
Agtergrond of omstandighede: Dit gaan hier oor mense wat ander uitbuit en nie oor diertjies nie. Die woord “bloedsuiers” moet figuurlik verstaan word. Dit is dus ‘n skeldnaam, want hulle verdien om van ontslae geraak te word omdat hulle armes uitbuit. Die armes is egter magteloos, maar moet probeer plan maak. Al die inligting help om ons die gedeelte beter te verstaan,
Agtergrond en Bybel-ensiklopedieë
Probeer om die omstandighede (agtergrond) te verstaan waarbinne ‘n sin of gedeelte sy ontstaan gehad het. As Paulus byvoorbeeld sê die vroue moet hoofbedekkings in die erediens dra, verwys dit natuurlik na die volgende situasie. Die Christene het in huise bymekaar gekom. Daar kon die vroue gewoonlik sonder hoofbedekkings rondloop. As hulle egter uit die huis gegaan het, moes hulle uit respek vir hulle mans of pa’s hoofbedekkings dra. So het die ander mans geweet die vroue is nie “los” vroue wat sonder hoofbedekkings rondloop nie.
Toe word die Christene uit die sinagoges gegooi en besluit om in hulle huise bymekaar te kom. Natuurlik het die vroue in die huise nie hoofbedekkings gedra nie, maar nou word die huis ‘n kerk, ‘n openbare plek. Nou sê Paulus dat die vroue in die huise maar ook hoofbedekkings moet dra as die kerk aan die gang is, anders kan vreemde mans wat by die kerkdiens inloer, miskien dink dat dit ‘n partytjie met “los” vroue is. So help die agtergrondinligting ons om byvoorbeeld Paulus se opmerkings oor hoofbedekkings beter te verstaan en ook te verstaan dat dit nie oor hoede in die kerk gaan nie.
Hierdie soort inligting kry mens uit kommentare, maar ook uit Bybel-ensiklopedieë. Die Bybel-ensiklopedieë is boeke met opstelle oor al die belangrike sake. Dit gee inligting oor stede, geskiedenis, kleredrag, moeilike terme soos geloof of regverdigmaking, inligting oor wie die boeke van die Bybel geskryf het, hoekom, wanneer en so meer.
Maak seker jy weet met watter soort literatuur jy werk
As die man wat ons help vertaal het, sê dit het nie werklik gebeur nie, dit was maar ‘n ou grappie, dan verander die prentjie. Daarom moet ons reg verstaan met watter soort literatuur ons werk. Neem byvoorbeeld vir Jona en die vis: Party sê Jona is geskiedenis wat alles beskryf presies soos dit gebeur het. Dan moes Jona fisiek in die vis gewees het. Nee, sê ander, Jona is ‘n pragtige verhaal wat ‘n sterk boodskap wil uitdra, byna soos ‘n gelykenis van Jesus. Dit beteken dat mens die vis anders moet sien. Die vis is dan nie letterlik nie, maar simbolies. Dit is die manier waarop God Jona ver weg van Hom af tot byna in die doderyk stuur, sodat hy kan besef hoe nodig hy God regtig het.
Hierdie boodskap geld vir ons almal en is dus vir altyd waar. Dieselfde geld vir Genesis 1. Party sê die Bybel is geskiedenis en daarom moes dit presies net so in sewe dae gebeur het. Ander sê dit is ‘n pragtige gedig oor die skepping wat nie wetenskaplike feite wil weergee nie, maar wil wys hoe ordelik God alles gemaak het. Daaruit leer ons wie en hoe ons Skepper is. In die Bybel is baie tipes literatuur. Ons moet versigtig wees om nie sommer alles vir geskiedens te sien en bloot letterlik te lees nie.
Die Bybel het ‘n boodskap vir jou situasie
Die Bybel is nie ‘n gewone boek nie. Dit is die Woord van God, en aan ons gerig omdat God met ons in die Bybel praat. Ons kry daarin God se ewige boodskap Daarom kan ons dit nie maar net lees soos ‘n storieboek nie. Ons moet vra wat God vandag vir ons deur sy Woord wil sê. Hoe raak die woorde my en my situasie?
Jy moet altyd mooi oor jou eie situasie dink en met die Here daaroor praat. Gebed en Bybelstudie gaan saam. Jy moet bid en vra dat die Here jou sal lei om mooi te verstaan wat Hy vir jou wil sê.
Hoe pas ek die boodskap van die Bybel op my situasie toe? Sê nou Jesus praat net met sy dissipels en sê: “Niemand sal julle uit my hand ruk nie.” Die dissipels vir wie Hy dit gesê het, is lankal dood. Ons kan nie daardie dissipels wees vir wie Hy dit gesê het nie. Maar net soos die dissipels Jesus se volgelinge was, so is elke gelowige ‘n volgeling van Jesus. Daarom geld die woorde van beskermng wat Jesus vir sy dissipels gesê het, ook vir elke gelowige, al is ons nie dieselfde dissipels nie.
Wanneer ek dus die Bybel lees, moet ek die volgende vrae baie ernstig vra: Wat was die boodskap aan die mense van destyds? Wat wou die Here vir hulle sê? Hoe dit gesê word, is hier nie so belangrik nie. Hoe kan ek dieselfde boodskap aan mense vandag oordra, sodat hulle presies dieselfde boodskap sal hoor as die mense van destyds? Ek sal dus ander woorde en voorbeelde gebruik, maar hulle moet dieselfde boodskap - God se boodskap - hoor.


