BYBELVERTALING

Lees reeks by: DIE BYBEL

DIE BYBEL (7)

Die Bybel is vroeg reeds vertaal

Solank mense die Bybel in hulle eie taal wil lees, sal Bybelvertalings gedoen word.  Toe die Jode nie meer Hebreeus kon lees nie, is die Hebreeuse Bybel drie eeue vC reeds in Grieks (die Septuagint) vertaal sodat hulle dit maklik kon lees.

In die vroeë kerk is die Bybel vinnig in’n verskeidenheid tale vertaal. Toe die kerk in Rome die godsdiens in die Weste begin domineer het, is die Bybel in Latyn vertaal.  Daar is reeds in 150 nC met Latynse vertalings begin. In die vierde eeu is daar ‘n formele Latynse vertaling gedoen. Dié vertaling is die Vulgaat genoem en was die hoofvertaling wat tot met die Hervorming in die Westerse kerk gebruik is.

In ongeveer 160 nC is daar met ‘n Siriese vertaling begin en teen die einde van die eeu was daar ook ‘n Koptiese vertaling. Baie ander tale het vinnig gevolg.

Luther verander alles

Die groot verandering het egter met Luther en die Reformasie (Hervorming) gekom. Luther het gevoel dis baie belangrik dat elke mens die Bybel in sy eie taal kan lees. Daarom het hy die Bybel vinnig in Saksiese Hofduits vertaal. Só invloedryk was dié vertaling dat die Duits wat vandag in Duitsland gepraat word, die Duits is waarin Luther die Bybel vertaal het.

Die verhaal het hom oor die hele wêreld herhaal. Soos sendelinge in vreemde lande ingedring het, wou hulle die Bybel vir daardie mense vertaal. Hulle het gevoel dat as die mense die Bybel kon lees, hulle direk aan die Evangelie blootgestel word.  Daarom was Bybelvertaling baie keer een van die eerste dinge wat nuwe sendelinge in ‘n vreemde land gedoen het.

In baie lande het die inwoners tot op daardie stadium nog nooit geskryf nie en het hulle dus nie ‘n alfabet of skrif gehad nie.  Die Bybelvertalers het dan ‘n alfabet vir die vertalers gemaak sodat hulle die Bybel kon vertaal.  In Afrika was dit algemeen.  Selfs in Rusland het twee priesters die Russiese alfabet gevorm sodat hulle die Bybel kon vertaal.

Bybelvertaling het dus nie net die goeie boodskap van God vir  mense gebring nie, maar in baie gevalle mense ook leer lees en aan groter wêrelde bekend gestel.

Vertalings in Afrikaans

Afrikaans spog met ‘n paar vertalings van die Bybel uit die oorspronklike tale, naamlik Hebreeus en ‘n stukkie Aramees en Grieks. Die 1933-vertaling is sterk onder die Statevertaling van Nederland.  Dit is baie letterlik vertaal. In die 1983 se Nuwe Vertaling is daar ‘n kombinasie van letterlike en vrye vertalingstegnieke gebruik.

In 1953 is die 1933-vertaling hersien en spore van invloed van die Engelse Good News Bible is daarin sigbaar.

In 2002 verskyn Die Boodskap. Dit is op ‘n vrye manier uit die oorspronklike Grieks en Hebreeus vertaal.

Daar het in 2002 ook ‘n vertaling vir kinders verskyn, te vinde by  Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Daar is ook Die Lewende Bybel, ‘n vertaling van The Living Bible 1971. Kyk onder Engelse Vertalings.

Engelse vertalings

Die King James Version is bekend as die Authorized Version. Koning Jacobus (James) van Engeland het 50 Engelse geleerdes gevra om ‘n vertaling te doen wat almal kon gebruik. Dit is na sewe jaar in 1611 voltooi.  Dit is meer letterlik vertaal.

Die Good News Bible (Today’s English Version) het in 1976 verskyn en groot opskudding veroorsaak. Dit is op die sogenaamde “dinamies ekwivalente” manier vertaal. Dit beteken dat die boodskap wat vandag se leser hoor, ekwivalent moet wees aan die oorspronklike lesers se boodskap en dat dit in dinamiese taal gestel word,  met ander woorde, nie letterlik nie.

Dan is daar nog The Living Bible, wat in 1971 verskyn het. Dit vorm die basis van Die Lewende Bybel in Afrikaans, wat die Engelse vertaling in Afrikaans omgeskakel het. Dit is dus nie ‘n vertaling wat inheems ontstaan het nie

Hoe doen ‘n mens Bybelvertaling?

Twee metodes word gebruik, naamlik letterlike vertaling en vryevertaling. By letterlike vertaling word die woorde uit die oorspronklike taal eenvoudig net met woorde uit die ander taal vervang.  By vrye vertaling word daar heeltemal op die boodskap gekonsentreer.  Vertalers kan tussen hierdie twee pole beweeg.

Bybelvertalings verskil van mekaar omdat woorde nie tussen verskillende tale oorvleuel nie.  Grieks het vyf woorde vir liefde, terwyl ons net een het. Woorde se betekenis is ook nie altyd dieselfde nie.  Sinne in verskillende tale lyk ook nie dieselfde nie. Idiome en metafore stem ook baie keer nie ooreen nie. Daar word van beelde en simbole gebruik gemaak waarvan ons niks meer weet nie.  Vertalers moet hierdie dinge in ag neem. Elke vertaling is dus ‘n stukkie interpretasie van die kant van die vertaler om die oorspronklike teks vir die hedendaagse leser ontvanklik te probeer maak.