DIE BYBEL (11)

Dr JP Botha

Lees reeks by DIE BYBEL

OPGRAWINGS

Die wetenskap van Argeologie help ons om deur middel van opgrawings vas te stel hoe die mense destyds geleef het, hoe die stede in die ou tyd gelyk het, waarmee die mense geëet het en wat hulle as klere gedra het.  Opgrawings word sistematies gedoen en daarmee kan baie vasgestel word, maar dit bly maar net een stukkie van die groot legkaart.

Opgrawings word gedoen op plekke waar die argeoloë weet of vermoed dat daar baie jare gelede mense gewoon het.  Soms is daar ruïnes, maar soms is daar niks meer oor behalwe die oorblyfsels wat onder die grond versteek is nie. Op die plek word alles versigtig opgegrawe, aangeteken en bestudeer.  Daar is omtrent geen einde aan wat argeoloë kry nie; van grafte en bene, meubels, implemente, kombuisware, potskerwe,  juweliersware en wapens, gebalsemde diere, oorblyfsels van kos en so meer.  Soos die opgrawings op ‘n plek vorder, word die groter prentjie ook geleidelik duideliker, byvoorbeeld hoe die huis gelyk het, die buurt en die dorp.

Een van die belangrikste ontdekkings van ‘n ou Romeinse hawestad is onlangs in Xanten, Duitsland gemaak, toe hulle ‘n pad oor ‘n oop veld wou bou.

  Toe hulle die pad begin grawe, kom hulle op die mure van ‘n ou stad af.  In ‘n ander geval is ‘n ou vissersboot onlangs in die See van Galilea ontdek.  Dit was droog en die watervlak laag en toe kry hulle die boot toevallig.  Nou weet ons presies hoe groot die bote was waarmee Jesus-hulle gevaar het.  Argeologie werk dus so: soms weet jy en soms word jy verras.

Uit die porselein of gereedskap wat uit so’n opgrawing kom, kan afgelei word hoe die mense geëet en gewerk het.  Hulle vlak van ontwikkeling (vaardigheid met yster, porselein, glas of klei) kan so gemeet word en dikwels kan daar ook gesien word hoe die kultuur en sosiale gewoontes verander het.

Potte was algemeen deur rykes en armes gebruik.  Daarom het die tegnieke ook die style en versierings gedurig verander en het verskillende lande en streke ook verskillende potte gehad.   Die klei was nie orals dieselfde nie.  Potte is van die beste argeologiese hulpmiddels om ‘n prentjie te teken van wie waar gebly het en hoe hulle geleef het..  As jy byvoorbeeld in ‘n gebied ‘n heeltemal vreemde pot opgrawe, kan jy aflei dat daar handel of kontak tussen die twee gebiede was.

As al die ontdekkings mooi neergeskryf is, word afleidings gemaak:  Baie potskerwe en kombuisware op een plek toon die kombuis aan.  Die verspreiding van goed daar, toon ook die spens en die stoof aan.

Ou beskawings word soos die bladsye van ‘n boek een na die ander oopgemaak.

Gewilde plekke vir argeoloë is op puinhope van ou stede, ook genoem ‘n “Tel”.  Hulle het nuwe stede sommer op die ruïnes van ou stede gebou.  Hulle het met klei en hout gebou en een aardbewing of oorlog was genoeg om ‘n stad met die grond gelyk te maak.  Op sulke plekke leer mens baie uit die opgrawings want hier het mens stede uit verskillende tydperke op een hoop. Wat kan alles nie daaruit afgelei word nie!

Meetinstrumente: Hoe meet ‘n mens hoe oud iets is?  Daar is die radiokoolstoftoets wat meet in watter mate die koolstofinhoud gedisintegreer het.  Verder word die fluoried- en uraniuminhoud van bene gemeet, want dit neem toe met verloop van tyd.

As daar skielik vreemde inplemente, muntstukke of  potte ontdek word, beteken dit dat daar invloed van ander in die dorp ingekom het.  So kan ‘n prentjie geteken word van die ontwikkeling in daardie tyd.

Glas: Daar is die teorie dat Jode goeie glasmakers was.  Deur te kyk in watter lae daar sekere soorte glas opgegrawe word in verskillende stede, kan daar min of meer bepaal word wanneer Jode daar aangekom het.

Hoe het die mense geleef en gewoon?

Antieke huise is gewoonlik om ‘n binneplein gebou. Meer as een gesin het gewoonlik die binneplein gedeel.  So het almal geweet Jesus is in die dorp en het hulle siekes gebring.  Hulle het in groepe gewoon, sodat elkeen se normale gang vir almal bekend was.  Paulus sê al die Christene in Korinthe het in een huis bymekaar gekom.  Opgrawings toon daar kon net 60 tot 100 mense in so’n huis bymekaar wees. Die gemeente kon dus nie groter as dit gewees het nie.

Petrus se huis in Kapernaum is waarskynlik die argeologiese opgrawing uit Jesus se tyd waarvan ons die sekerste kan wees dat dit eg is.

Hoe het die inkopie-“Mall” gelyk?

Die markplein van Korinthe was omsoom met winkeltjies, klein reghoekige kamertjies waarin hulle gewerk en ook hulle goed verkoop het. Daar was ‘n breë stoep waar hulle ware uitgestal is.  In die winkeltjes is gewerk en verkoop. As Paulus sê hy het vir sy lewensonderhoud gewerk, meen dit hy het in die rumoer en kom en gaan van die kopers gesit.  Hy kon dus daar maklik met hulle oor die evangelie praat.

Vir die gode kon jy nie wegkruip nie.

By die Korinthiese markplein was ook “godsdienstige” plekke soos tempels of beelde van gode.  Jy het onder die skaduwee van gode besigheid gedoen.  By die tempel op die hoogte, is die vrugbaarheidsgodin, Afrodite,  aanbid.  Daar was duidelik baie diere in die tempel geoffer.

Dit help om te lees

Die argeoloë versamel ou geskrifte of inskripsies, monumente, gedenkstene op grafte, ou stukke potte waarop geskryf is, stukkies been met boodskappe op, papirus, vellum (diervel). Deur die stukkies aanmekaar te sit word die prentjie wat daar in die verlede gebeur het, al duideliker.

Een van die beroemdste ontdekkings was die Rosettasteen:  Daar is drie tale op: Grieks, Egiptiese demotiese skrif en onontsyferde Egiptiese hiërogliewe. Egiptiese skrifte kon toe uiteindelik gelees word.

Een van die belangrikste ontdekkings van alle tye was by Kumraan by die Dooie See. Dit is ‘n reuse biblioteek van boekrolle met geweldig baie inligting oor die Jode, hulle gebruike, hoe hulle geleef het en so meer.

Hoe het mense in die woestyn sonder water geleef?  Opgrawings by Kumraan en Massada wys groot watertenks in die rotsbanke uitgekap en kanale na die tenks toe om reënwater op te vang.

Help opgrawings?

Soos ons gesien het, help dit ons om ‘n prentje saam te stel van hoe dit in die ou tyd was.  Daar is beperkings ook: Baie kere moet van ‘n klein potskerfie die hele pot gerekonstrueer word.  Argeologie kan net bewys dat iets gebeur het as daar konkrete getuienis daaroor blootgelê kan word.  Ons weet nie presies waar Golgota was of waar Jesus se graf was nie, want die dissipels het nie op ‘n klip ‘n boodskap uitgekap dat Jesus hier of daar begrawe is nie.  Maar ons het vertellings in die Bybel oor dinge wat op sekere plekke gebeur het.  Daar is byvoorbeeld onlangs ‘n inskripsie in Palestina gekry met Pontius Pilatus se naam en titel op.  Dit wys dat hy daar was in die tyd van Jesus. In ‘n ander geval het mense die verhaal van die lam man in Johannes 5 as ‘n storie afgemaak.  Hulle het gesê daar was nie ‘n bad van Betesda nie.  Toe word die bad opgegrawe en moes die kritici hul storie verander.  So kom stukkie vir stukkie van die legkaart by.

Argeologie help inderdaad baie om die ruïnes van die Bybelse tyd vir ons op te bou en te laat herleef.