Dr JP Botha
HUISE IN DIE BYBELSE TYD
Omdat die Bybel oor so’n lang tyd en vir verskillende mense geskryf is, kry ‘n mens ‘n baie wye verskeidenheid woonplekke. Die heel eerste behuising in Palestina was grotte wat in die kalksteenberge uitgegrawe is. In daardie tyd was daar ook rondtrekkende groepe (nomade) waarvan die aartsvaders deel was. Hulle het natuurlik in tente gebly. Die tente was doeke wat op pale gesit is en dan ‘n groot area bedek het (nie in ‘n mooi driehoekvorm soos vandag se tente nie. Die ruimte binne-in is dan ook dikwels in kamers verdeel. Hulle kon die tente vinnig opslaan en vervoer.
Waar die mense hulle gevestig het, het hulle huise gebou. Nadat ‘n huis in Israel klaar gebou is, is dit aan die Here gewy, omdat dit as ‘n gawe uit sy hand gesien is. Hoe groot die huis was, het van die sosiale stand en rykdom van die bewoner afgehang.
Baie van die Joodse huise het uit net een kamer en nog ‘n kamer bo-op die dak (die dakkamer of bokamer) bestaan. Die dakke was plat. Die dak is dan vir allerlei doeleindes gebruik: Vrugte is daar gedroog, dit is vir stoorplek en sitplek gebruik en van die gesinslede het selfs per geleentheid daar onder die sterre geslaap. Soms het hulle nog ‘n kamer daar op die dak aangebou.Die enkelkamer onder het gewoonlik twee vlakke gehad. Op die een vlak het die gesin gebly en op die ander laer vlak die diere (die donkie of bok of skaap), amper soos ons moderne motorhuise wat aan die huise gebou word. Dit is waarskynlik waarom Jesus in ‘n krip neergelê is. Josef en Maria het nie noodwendig in ‘n stal tussen die diere gebly nie, maar die huis kon so vol gewees het van al die besoekers dat party gaste inderdaad op die laer vlak geslaap het. Toe hulle ‘n plek soek om Jesus neer te lê, was die krip waarin die voer was, waarskynlik die gerieflikste.
Daar was nie baie meubels in die arm mense se huise nie. Daar was gewoonlik plekke in die muur gebou (inhamme) waar die mense hulle goed kon bêre. In groter huise was daar ook ‘n klein vertrekkie, met ‘n deur wat as spens gebruik is. Dit is waarskynlik die vertrek waarna Jesus in Matteus 6:6 verwys. Gewoonlik is ‘n vuur in die middel van die vertrek gemaak om kos op te maak en die mense het dan rondom op slaapmatjies rondom die vuur geslaap. (Markus 2:9) Hulle het hulle bokleed gebruik as kombers. Hoewel die kleiner huise dikwels net matjies gehad het om op te sit, was daar in die groter huise met ‘n eetkamer stoele/ banke waarop gelê kon word met ‘n tafel in die mddel waarop die kos gesit is. Verder was daar lampies wat in grootte gewissel het. Hulle het gewoonlik so drie uur lank gebrand voordat daar weer olie ingegooi moes word. Daar was lampstaanders, asook potte om kos in te stoor en ‘n klein maalsteen om graan mee te maal vir meel.
Daar was ook groter huise wat meer kamers gehad het en rondom ‘n binneplein gebou is. Die deure van die kamers is so geplaas dat mens op die binneplein kon uitsien. ‘n Sitkamer sou dan op die binneplein uitgeloop het. In die sonnige Mediterreense gebied was dit lekker om so in die sitkamer te sit met die son wat inskyn. Daarom sou die Fariseërs kon sien hoe Jesus saam met die tollenaars en sondaars eet.
As Jakobus 2 sê dat die gemeentelede vir die arm man sê om by die voetbank te sit of daar anderkant te gaan staan, verwys dit waarskynlik na die voetbank in die sitkamer, of die moontlikheid om net in die binneplein te gaan staan. Omdat die sitkamer op die binneplein uitgeloop het, kon jy hoor wat in die sitkamer aangaan as jy in die binneplein staan. Dit is waarskynlik waarom die vroeë Christene in huise bymekaar kon kom. Daar was huise wat genoeg plek vir tussen 60 en 100 mense gehad het. Hierdie ryker persone se huise het ook beter meubels soos beddens, stoele, tafels en rusbanke gehad. Hoe ryker, hoe mooier was die meubels gekerf en met skulpe en ivoor ingelê.
As ons na die tipiese argitektuur van daardie antieke huise kyk, is daar ‘n paar dinge wat ons raaksien: Feitlik al die huise was om ‘n binneplein gebou. Daasr was eenkamerhuise (vir so twee tot vier persone) wat omtrent so groot soos ‘n hedendaagse motorhuis was. Grothuise met een of twee kamers, was ook as wonings gebruik. “Trosbehuising” waar verskeie families ‘n kamer of kamers rondom ‘n gemeenskaplike binneplein besit het, was ook algemeen. Groot plaaskomplekse was ook ‘n algemene gesig. Dan was daar die groter huise, wat ‘n indrukwekkende luukser gebou rondom die binneplein was. Dié huise het ook baddens, pragtige geverfde mure en mosaïek vir vloere gehad.. Hulle het ook staandakke gehad wat van teëls gemaak is. Hierdie soort huise was nie so algemeen in Palestina nie, maar het dikwels in die ander stede van die Romeinse ryk voorgekom. Die mooi strukture is onder andere met die oog op sosiale kontak gebou. Die huise is dus nie vir privaatheid gebou nie maar vir semi-privaatheid. Mense was groepsgeoriënteerd en het dus geweet wat in mekaar se huise aangegaan het.
Verder is die deure en vensters tot ‘n minimum beperk en die konstruksie is so gemaak dat dit teen slegte weer en veral teen hitte beskerming bied. Daar is dikwels swaar wolgordyne voor die vensters gehang om die weerelemente uit te hou. Luike moes diewe uithou. Daar was nie skoorstene nie, wat beteken het dat die huisies rokerig en bedompig kon word.
Kleistene (waarmee gras of soorgelyke materiaal of skulpe gemeng is om dit sterker te maak), was algemeen gebruik, maar veral in groter konstruksies is klippe opmekaar gepak. Dit moes so gepak word dat die konstruksie stewig bly, aangesien daar nie sement was om alles aanmekaar te hou nie. 'n Hoeksteen of goeie fondament was dus noodsaaklik. Groot, stewige klip of rots is gebruik as ankerklip, waarop die res van die klippe dan so gepak is dat dit daarop rus. As die ankerklip skuif, val die huis inmekaar. Jesus word soms in die Bybel as die hoeksteen of ankerklip beskryf.
Skaapkrale en tuine is gewoonlik ook deur die hele groep gedeel en is naby die huise gebou as hulle in die platteland geleë was en daar grond beskikbaar was. Anders het die mense hulle diere in die huise gehou. In groot stede was dit egter nie altyd moontlik nie, want daar is tot ses verdiepings opmekaar gebou. Daar is nie goed bepan nie en dus was die huisies gevaarlik (veral brandgevaar). Dit is verstaanbaar dat die diere nie op die boonste verdieping aangehou kon word nie.