Lees reeks by DIE BYBEL
ETES EN VOEDSEL
‘n Gewone persoon in die ou tyd het gewoonlik iets ligs vroeg in die oggend geëet. Dit was iets soos gedroogde vrugte (veral vye of olywe) of kaas en hulle het dikmelk gedrink as dit beskikbaar was. Hulle het dit gewoonlik sommer om hulle lyf saamgedra. So teen 10-12 uur het hulle dan ‘n groter ete geëet. Ons lees daarvan in Johannes 4: Jesus sit in die middel van die dag by die put terwyl sy dissipels in die dorp gaan kos koop het. Die groot ete was in die aand. Dan was die hele gesin saam en in arm huise het hulle gewoonlik saam om die vuur gesit terwyl die kinders in die ligkring van die vuur gespeel het. In ryker huise is die mans bedien. Die vroue en kinders het gewoonlik eenkant geëet. In die duur Romeinse huise het die mans en vroue selfs verskillende eetkamers gehad. Dikwels was die eetkamers aan mekaar verbind met ‘n gang.
Die etes van die gewone mense was baie eenvoudig. Vleis was baie skaars. Dit is gewoonlik gekook. Die algemene was dat daar brood met ‘n soort sous was wat van groente gemaak is. Dit was in ‘n gemeenskaplike bak opgedien sodat almal uit die een bak geëet het. Daarom is ‘n feesmaal so belangrik in die Bybel as teken van die hemel. Die arm mense het min en eenvoudig geëet. Die konings het weer baie gehad om te eet. Met so ‘n feesmaal was daar nie ‘n tekort aan eetgoed nie. Daar was ook musiek en ander soorte van vermaak soos dans en gedigte voorlees. ‘n Mens kan jou voorstel dat die arm mense gedroom het om by so ‘n feesmaal uit te kom (Matt 22:1-14). Ons lees net in een plek in die Ou Testament dat mense voor ‘n maaltyd gebid het (1 Sam 9:13), maar Jesus het dit skynbaar gereeld gedoen (Matt 15:36; Luk 9:16).
Etes was ‘n baie belangrike sosiale geleentheid, juis omdat die hele gesin asook die gaste wat teenwoordig was rustig om die kosbak kon ontspan. Jy het egter nie sommer saam met enige iemand geëet nie. Jy het saam met jou vriende geëet, dié mense met wie jy jou graag sou wou assosieer. Daarom is die Fariseërs so ontsteld as hulle Jesus saam met die tollenaars en sondaars sien eet (Matt 9:10-11). Die spreuk sou lui: Sê my saam met wie jy eet en ek sê jou wie jy is.
By meer spoggerige etes het die gasheer gereël dat sy belangrike gaste se voete gewas word. Hy kon selfs vir hulle mooi klere gegee het (Matt 22:11) en het dan die plekke toegeken waar die mense kon “aansit/aanlê”. Hoe nader dit aan die gasheer was, hoe belangriker was die gas. (Markus 12:39; Luk 14:8).
Mense het grootlike geëet wat beskikbaar was. Vrugte (druiwe, vye, dadels, granate en olywe), groente (uie, boontjies, ertjies, lensies, preie, spanspek, komkommers) melk, kaas of dikmelk, brood en soms vleis; en wyn was redelik beskikbaar. Hulle het nie suiker gehad nie, maar baie heuning. In die omgewing van die See van Galilea was daar ook genoeg vis. Die vis is gedroog om langer te hou. Gewoonlik is daar ook net een dis voorberei wat dan in die bak in die middel van die groep mense gestaan het. Hulle het die dis dan saam met brood geëet. Dit lyk ook of die hoof van die huishouding soms die porsies uitgedeel het, moontlik om te keer dat party te veel vat (1 Sam 1:4).
Twee van die basiese kosse wat op die tafel was en wat vandag nog ‘n belangrike rol in elke gelowige se lewe speel, is juis omdat Jesus dit as tekens van die nagmaal gekies het.
Brood was ‘n basiese bestanddeel van enige huishouding se dieet. Brood was deel van elke aandete en selfs van ander etes gedurende die dag. Brood was meer as kos. Dit het diens gedoen as “eetinstrument”. Daar was gewoonlik ‘n bak met sous of vleis in die middel van die tafel. Die brood is dan soos ‘n lepel gebruik om die sous of vleiserigheid uit die bak te skep. Daar was nie messe en vurke nie. Jesus verwys na dié gebruik as Hy sê dat die een wat sy brood saam met Hom in die bak druk, Hom sou verraai. Verder is die brood ook gebruik om jou hande en vingers mee af te vee nadat jy geëet het, byna soos ‘n servet. Die stukke brood wat so gebruik is, is gewoonlik vir die honde gegooi. Dit is die krummels waarna die Kanaänitiese vrou in Matt 15:27 verwys. Die armes het die stukke selfs kom optel en geëet, soos Luk 16:20 vertel. As Jesus dus die brood as een van die elemente van die Nagmaal aanwys, beteken dit eintlik dat Hy die deel waarsonder geen ete werklik ‘n ete is nie as teken aanwys.
Vroue het die brood self gebak en dit was rond. Hulle het suurdeeg gebruik, maar die Jode het met geleentheid ook plat koeke gebak om hulle aan die swaar dae in Egipte te herinner. Jesus verwys dikwels na suurdeeg, want dis iets wat elke kind daagliks in die huis gesien het. Die brood is gewoonlik in klei-oonde, gate in die grond waarin vuur gemaak is, of ook warm stene gebak. In groot dorpe was daar gemeenskaplike oonde waar mens jou brood kon gaan bak.
Brood is van graan soos koring of gars gemaak. Dikwels is verskillende soorte graan gemeng om broodmeel mee te maak. Soms is selfs boontjies of lensies in die broodmeel ingemeng (Eseg 4:9).
Graan was ‘n basiese landbouproduk: Die ekonomiese indeks (hoe goed of sleg dit gegaan het) is aan die beskikbaarheid van graan gemeet. Dit is selfs in die vroeë jare as “geld” in die Midde-Ooste gebruik. Hongersnode is ook aan die beskikbaarheid van graan gemeet. Graan is dikwels ingevoer, of as die skepe miskien sink of daar iets verkeerd loop en die graan daag nie op nie, is van “hongersnood” gepraat.
Wyn was ook ‘n belangrike deel van die maaltyd, soos ons met Jesus se laaste Nagmaal sien. Arm mense het nie altyd wyn gehad nie, maar as daar wel wyn was, is dit gedrink. Die wyn is gewoonlik met water verdun (dikwels drie eenhede water met een eenheid wyn.
Wynmakery was nie so verfynd soos vandag nie. Hulle het die druiwe gepars en in bakke opgevang, waar hulle die sap deur lappe gesuiwer het. Dan is die sap in leersakke of kleipotte gesit en in ‘n koel plek geherberg. Daar het die duiwesap dan gegis. Daarom moes ou sakke nie gebruik word nie. Die ou leersakke het sag geword en as die wyn daarin gis, kon die sakke maklik skeur. (Matt 9:17; Mark 2:22). Goeie wyn was dan wyn wat behoorlik gegis het.