DIE BYBEL (14)

Lees reeks by DIE BYBEL

BELASTINGGAARDERS EN TOLLENAARS

Dr JP Botha

Belastingbetaal is amper so oud soos die mens self!  In Israel was belastingbetaal ook iets algemeen.  Elke keer as ‘n vreemde nasie Israel oorwin het, moes die Israeliete aan daardie oorwinnaar belasting betaal.

Afgesien van tempelbelasting, was daar ook ander belasting waarvan die Bybel vertel. Mense moes hulle dienste aanbied (2 Sam 20:24; 1 Kon 5;13; 2 Kron 2:2); hulle moes kos gratis gee (1 Kon 4:7) en dan is daar ook tol van handelaars gevra (1 Kon 10: 14-29).  Soos reeds gesê, kon vreemde oorheersers ook belasting op volke lê waaroor hulle geheers het.  Dit was vir die Jode ‘n baie sensitiewe saak dat hulle vir die Romeine moes belasting betaal.  Daarom probeer hulle Jesus oor die belasting vasvra (Mark 12:13-17).  As Hy sou sê dat ‘n mens nie belasting  moes betaal nie, sou die Romeine vir Hom vies gewees het en as Hy gesê het dat ‘n mens wel belasting moes betaal, sou die patriotiese Jode nie tevrede gewees het nie.

Die metode wat die Perse ingevoer het en wat goed gevestig geraak het, was dat die koning van ‘n land aan die onderdrukker ‘n sekere som betaal het.  Hy het dan die reg gehad om die geld van elke individuele lid van sy koninkryk te verhaal.  So ‘n koning was dan die belastingagent.  Dit is ook die sisteem waarop die tollenaars later sou werk, maar met een belangrike verskil.  Die reg om belasting in te vorder is aan die hoogste tenderaar gegee.  Hy het die geld vooruit betaal en moes deur die loop van die jaar die geld van die gewone mense terugvorder.  Dit het natuurlik tot allerhande misbruike aanleiding gegee.  Skelm tollenaars en slegte administrateurs van die konings het dikwels meer ingevorder as wat hulle moes. Immers, alles wat hulle ekstra kon kry, was vir hulle wins.  Die gevolg was dat hulle die mense uitgebuit het en daarom was die tollenaars so ongewild.  Uitbuiting het selfs so ver gegaan dat van die konings belastingbetalers gedwing het om hulle grond vir hom te gee of hulle kinders as slawe te verkoop.  Nehemia het hierdie korrupsie teëgestaan tot groot vreugde van die volk (Neh 5).

Ons kla dikwels oor belasting, maar luister hierna.  Die Romeine het baie soorte belasting gehad,  wat dit vir die gewone mense baie moeilik gemaak het.  Hulle het verkoopbelasting gehad op goedere wat verkoop is, hulle het boedelbelasting gehef, asook vervoerbelasting van goedere wat vervoer moes word.  In Jerusalem is daar selfs erfbelasting op elke huis gehef, om die muur van die stad te bou.

Kyk wat moes ‘n gewone inwoner van Palestina aan belasting betaal:  Die Romeine het ongeveer 19% van die oes gevat as oesbelasting.  1% van die inkomste van ‘n gesin as gesinsbelasting, 5% verkoopbelasting, 7% geskenke vir die amptenare en ander vorme van belasting wat op 32% uitwerk.  Die Jode het 8% op oeste, 1% op die families en 3% offer- en ander belasting gehef wat op 12% uitwerk. Dan is daar deur wat ons korrupsie sou noem, nog 5% deur die belastinggaarders uit die mense gewurg.  Dit beteken dat ‘n gewone Jood 49% van sy inkomste aan die belastinggaarder moes afstaan.