Lees reeks by DIE BYBEL
GELD
Dr JP Botha
Ons hele ekonomie draai vandag om geld, maar hoe het die mense van destyds gemaak?
Aanvanklik het die hele ekonomie op ruilhandel berus, met ander woorde, mense het produkte geruil. Spoedig het dinge soos diervelle, diere self, skulpe of graan meer waarde as ander items begin kry. In ongeveer die sewende eeu vC is die eerste munt in Listre in Klein-Asië gemaak van ‘n allooi van goud en silwer. ‘n Merk van die koining het die gewig gewaarborg. Die beginsel was dat edelmetale soos goud, silwer en brons volgens hulle gewig as ruilmiddel gebruik kon word. Tot aan die einde van die Ystertydperk (die sesde eeu vC) was ruilhandel nog baie algemeen. Daarna het “geld” (stukkies edelmetaal) begin oorneem. Die eerste Joodse munte dateer terug tot die tweede eeu vC en was van koper en brons gemaak.
Daar moes “gewigte” bepaal word vir die edelmetale. Die “sikkel” het omtrent 17,4 gram geweeg. Daar was egter baie verskillende “gewigte” en ons lees ook daarvan in die Bybel.
Tempelbelasting - Die Jode moes ‘n halwe sikkel tempelbelasting per persoon per jaar betaal. As ‘n mens dit omreken, beteken dit dat daar per jaar 14,5 ton silwer aan belasing aan die tempel alleen betaal is.
Die geldstukke het vinnig versprei. Die heersers van daardie tyd het dit uitgebuit. Hulle het allerhande propaganda op die munte geplaas, soos nuwe gode of heersers of keisers. Só het hulle boodskappe vinniger die wêreld ingegaan.
Aan die einde van die eerste eeu vC het daar meer organisasie in die geldsisteem gekom. Dit is veral deur die Romeine georganiseer. Die goue en silwermunte van die Romeinse heersers was baie gewild. Silwer het vinnig die gewildste betaalmiddel geword. Die gebruik van goud is ingeperk en die keiser of konings het meesal beheer daaroor gehou. Daar was ook enkele streke wat brons as betaalmiddel gebruik het.
Fenisiese bronsmunte uit Tirus was baie gewild. Die hoëpriester by die tempel in Jerusalem het hierdie munte verkies, al was die kop van Melkart, die hoofgod van Tirus, daarop gedruk. Die rede vir die voorkeur was omdat die Tirusmunte se kwaliteit en suiwerheid die beste was (98% silwer). Daar het Jode van oral af na die tempel toe gekom. Hulle het dan geld van die omgewing waar hulle gewoon het, saamgebring. Omdat daar egter baie verskillende munte in omloop was, was daar ook geldwisselaars by die tempel. Hulle moes hierdie munte dan waarskynlik vir die hoër kwaliteit munte (bv uit Tirus) uitruil. Uit die Joodse geskrifte lei ons af dat hierdie geldswisselaars kommissie geneem het. Dit is juis hierdie geldwisselaars se tafels wat Jesus omgegooi het (Joh 2:15).
‘n Mens lees van die verskeidenheid munte wat in omloop was in die Nuwe Testament, om maar ‘n paar te noem (die verskeidenheid word nie in al die Bybelvertalings weerspieël nie): ‘n Talent silwer; ‘n denarius; ‘n as (Assarion): silwer; lepton; kwadrans, ensovoorts.
Maar. . . waar is geld gebruik?
Die meeste van die mense was destyds in gesinne georganiseer wat saamgewerk het om omtrent alles self te voorsien wat die familie nodig gehad het. Wat hulle nie self kon verskaf nie, het hulle in die hande gekry deur onderlinge ruilhandel. Geleidelik het daar om die stadspoorte en op die markpleine egter sentrums van handel ontwikkel. Mense het met skaars goedere daar kom winkel opslaan en dan hulle goedere verkoop. Geld het ook in daardie tyd al meer in omloop gekom. Dit het daartoe gelei dat gewone boere ook hulle goedere by die stadspoort kom verkoop het. So het die handel al hoe lewendiger geword. In die tyd van Jesus was daar dus soveel as sewe markte in Jerusalem alleen. Natuurlik moes jy duur betaal vir jou “winkeltjie” by so ‘n mark. Daar was ook streng reëls wat deur inspekteurs toegepas is en gebruikers kon gaan kla as hulle nie tevrede was nie. Een ding was baie belangrik: die skale moes gereeld skoongemaak word.