DIE BYBEL (17)

Lees reeks by DIE BYBEL

HOE MENSE GEREIS HET

Mense het destyds ook gereis, maar dit het nie altyd so maklik gegaan nie.  Ons weet dat Paulus ongeveer 14 000 kilometer hoofsaaklik te voet afgelê het.  Jesus het ook heelwat so in sy omgewing rondbeweeg.  Abraham het van Ur van die Galdeërs af sak en pak Israel toe gekom.

Daar is met die voet gestap

As jy nie ‘n donkie gehad het nie, was voetslaan jou voorland.  Die meeste arm mense het gestap. Dit lyk ook of hulle in groepe gestap het as hulle byvoorbeeld feeste toe gegaan het.  Josef en Maria het byvoorbeeld ‘n dag lank gereis voordat hulle agtergekom het dat Jesus nie in die groep is nie.

Paulus het gewoonlik ook in ‘n klein groepie gereis. Hy het Barnabas, Silas, Timoteus, Lukas en nog ‘n paar ander as reisgenote gehad.  Hulle het soms alleen gestap, soos die geval met die slagoffer in die verhaal van die Barmhartige Samaritaan was (Luk 10:25-37)  Die gevaar van alleen stap, blyk hieruit.

Donkies was algemeen as pakdiere en vervoer van die vroegste tye af gebruik.  Perde was net vir ryk mense en is ook meer vir oorlogsdoeleindes gebruik.

Kamele was vanaf 1 000 vC die hoof vervoermiddel in die woestyn.  Die kamele kon met min water en kos ver kom en kon swaar vragte dra.  Hulle was ook fisiek aangepas om die woeste woestynstorms te oorleef.

Hoe het die paaie gelyk?

Voetpaaie en bietjie breër paaie waarop goederewaens kon ry, maar wat niks beter as ‘n plaaspad was nie, was algemeen.  Die Romeine het egter met hulle uitstekende paaie alles verander.

Die Romeinse Ryk was baie groot en hulle het oor baie verskillende groepe geheers.  Dit was van kardinale belang dat hulle hul troepe vinnig moes beweeg en ook kos en toerusting so effektief moontlik moes verskuif.  Hulle het dus hoofpaaie deur die hele Ryk gebou.  Hulle het plat klippe op verskeie onderlae van gruis en kleiner klippe gepak om ‘n redelik gelyk oppervlakte te maak.  Van die paaie hou tot vandag toe nog.  Hulle het selfs brûe oor riviere en valleie gebou.  Dit wil voorkom of Paulus-hulle hul in ‘n groot mate by die hoofpaaie gehou het.

Omdat die paaie so modderig en vuil was in die stede, het die Romeine dele langs die pad hoër gebou vir voetgangers.  Dan hoef hulle nie in die modder te loop nie.  Dit is waar sypaadjies waarskynlik vandaan kom.

Wat van rytuie?

Daar was waens en rytuie, maar twee faktore het dinge bemoeilik.  Waens met wiele was nie algemeen nie.  As jy egter ‘n klein rytuig gehad het, was daar nie behoorlike paaie vir die rytuig nie.  Dit kan miskien die rede wees vir die gebruik van ‘n boodskapper vooruit te stuur en vir die mense te sê die koning kom; hulle moet die paaie reguit en gelyk maak.

In stede was daar kleiner rytuie.

Reis op see

Die Jode was nie bekend as groot seevaarders nie.  Die Egiptenare, Fenisiërs en die Romeine het egter die Middellandse See ten volle benut.  Seevaart was egter gevaarlik. (Hand 27:9-10)  Daar word deur sommige bereken dat tot die helfte van die bote gesink het.  Dat die risiko groot was, sien ons aan Paulus se reis na Rome.  Sy skip het na ‘n hewige storm op ‘n sandbank gestrand. Boonop het dit ook maar stadig gegaan.  Ons lees, as die winter gekom het, moes die mense oorwinter, met ander woorde, etlike maande in ‘n hawe bly tot die weer verbeter het  (Hand 27: 7, 12)..  Feitlik alles is met skepe vervoer.  Die skepe het seile gehad, of is deur roeiers geroei.