Lees reeks by DIE BYBEL
MUSIEK
Musiek is so oud soos die mens self. Ons mense sing graag en ons voorgeslagte het ook graag gesing. Ons weet egter net dat die Israeliete gesing het, maar aangesien ons nie opnames het nie, weet ons nie hoe hulle musiek geklink het nie. Dit was waarskynlik meer ritmies as melodies. Ons weet watter soort instrumente hulle gebruik het en kan daarom ‘n effense idee vorm van hoe dit moes klink.
Blaasinstrumente
Daar was natuurlik blaasinstrumente waarvan die bekendste seker die fluit is. Dan is daar die ramshoring wat van ‘n dier se horing gemaak is en ook die trompet wat uit metaal gemaak is.
Snaarinstrumente
Onder die snaarinstrumente het die luit getel. Dit het soos ‘n klein kitaar gelyk, maar was driehoekig onder, met drie snare. Die lier was ‘n soort primitiewe harp. Dan was daar ook die siter (Dan 3: 5, 7).
Slaginstrumente
Slaginstrumente het onder andere simbale en tamboeryne ingesluit asook klokkies.
Daar is verskillende musiek vir verskillende geleenthede gesing:
* Mense het sommer maar net gesing vir die lekker terwyl hulle werk. Ons lees van putgrawers wat lekker sing (Num 21:7) of mense wat sing terwyl hulle op die lande werk. (Jes 16:10).
* Liedere was ook vir emosionele ontlading gesing. Psalm 137 herinner aan iemand wat hartseer is.
* Maar hulle het ook musiek gemaak by feeste en gesellighede. Ons hoor veral van musiek by troues (2 Kon 11:14).
* Oorlogsliedere is natuurlik ‘n uitstekende motiveringsmiddel. Trompette en basuine het boodskappe gedra en mense gemotiveer. (Eks 22:18).
* Mense het liedere geleer en gesing as vorm van onderrig. Min mense kon destyds lees en skryf. Hulle het dan liedere geleer wat hulle gesing het en so het hulle sommer belangrike inligting saam met die lied geleer. (Kol 3:15,16). Ons kry verskeie liedere in die Nuwe Testament wat baie swaar gelaai is met inligting. As jy die lied ken, dan het jy sommer ook baie teologie ook geken (Kol 1: 15-20).
Daar was ook ander soorte van ontspanning
Hulle het allerhande speletjies gehad: Bordspeletjies, herinner aan dambord, dobbelsteentjies, balspele en albasters; slingervel gooi, boogskiet. Dogters het met poppe en speletjies soos huis-huis gespeel – net soos vandag nog.
Sport en spele was belangrik, veral in die arenas. Dan was daar die atletiek van die Olimpiese spele en in Korinte was dit die Isht-mitiese spele soos boks, hardloop, strydwa ry, stoei, verspring, spiesgooi, diskus gooi. Die Jode het nie van hierdie spele gehou nie, omdat dit ter ere van die Griekse gode gehou is.
Daar was dus in die ou tyd heeltemal genoeg ontspanningsgeleenthede.