DIE BYBEL (19)

Dr JP Botha

Lees reeks by DIE BYBEL

BOERDERY

Landbou het sentraal gestaan in die destydse samelewing.  Daar word bereken dat omtrent die helfte van die heuwelgrond in Palestina destyds bewerk was.  ‘n Groot deel van die land was natuurlik woestyn, maar daar is ook geboer.  Die groot probleem was natuurlik water, maar die boere van destyds was meesters om die vier of vyf duim reën wat in vyf ure van die jaar geval het, só op te vang in damme en opgaarplekke dat dit genoeg was om mee te boer.  Natuurlik was die opbrengs nie so goed nie.  Vir elke sak koring wat gesaai is, is vyf gewoonlik geoes as die oes goed was.

Koring en hawer was die twee belangrikste gesaaides, want daarvan is brood gemaak.  Hawer was meer vir die arm mense.  Ander produkte waarmee geboer was, was dadels, vye, olywe, granate, druiwe en natuurlik groente, soos bone, lensies, uie of komkommers.

In Israel was daar die interessante reël dat die lande nie toegespan was nie.  As jy honger was, kon jy in die land gaan eet het.  (Deut 23: 24, 25).  Daarom het Jesus se dissipels are uitgevryf in die lande.  Selfs as daar geoes is, is daar ‘n bietjie van die opbrengs oorgelos, sodat die armes ook iets kon kry.  (Rut 1:3).

Uit opgrawings blyk dit dat die mense wel ysterimplemente gehad het, soos ploegskare of sekellemme.  Meulstene is van groot rotsblokke gemaak.  Baie intrumente is ook uit hout gemaak, soos jukke, grawe, vurke en ploegrame.  Alles is nauurlik met die hand gemaak.

Wanneer die graan afgeoes is, is dit op ‘n gelyk stuk rots of harde oppervlakte uitgestrooi.  Dan is dit geslaan of beeste is daaroor gejaa om so die graan van die kaf te skei.  Daarna is dit in die wind opgegooi.  Omdat die kaf ligter is as die graan, het die wind die kaf weggewaai en die graan het reguit ondertoe geval.  Dit is dan in groot kleipotte gestoor tot dit nodig was om gemaal te word.

Die landboubedrywighede het meer as kos vir die mense gelewer.  Die hele Joodse gemeenskapslewe is deur die landboujaar beïnvloed.  Daar was gedurig feeste wat die plant en oes van produkte gevier het.  Landbouers weet immers meer as ander mense hoe hulle van die reën en regte weer van God afhanklik is.  Daarom is hulle nie skaam om vir God te vra of dankie te sê nie.  Die fees van die ongesuurde brode, is byvoorbeeld sewe dae na paasfees gevier en het sy oorsprong in die Kanaänitiese fees, waar hawer aan God geoffer is.  Die fees van die weke (pinksterfees) het gewoonlik die einde van die graanoes en die begin van die vrugteoes gevier.  Die huttefees dui weer die einde van die wynoes en die landboujaar aan.

Daar is baie met bokke en skape geboer en soms ook met koeie en donkies.  In die winter is die diere naby die huis in krale gehou.  (Joh 10: 1-9).  In die somer het die herders die diere gelei na goeie weiding in die berge (Luk 2:8).