DIE BYBEL (20)

Dr JP Botha

Lees reeks by DIE BYBEL

Potte en Pottebakkers

Potte en kleiprodukte is van die oudste produkte in die mens se geskiedenis.  Die eerste potte is waarskynlik net na 5 500vC gemaak.  Dit is alles met die hand gemaak.  Dit lyk of daardie vroeë pottebakkers die klei in slangetjies gerol het en dan die pot daarmee gevorm het.  Die pottebakkerswiel het eers later op die toneel verskyn.

Teen die begin en gedurende die Hellenistiese periode  (die derde eeu vC tot die eerste of tweede eeu nC) het die pottebakkersbedryf verfynd geraak.  Van groot duursame potte tot fyn delikate potte is gemaak.  Allerhande vorms is gemaak met verskillende motiewe wat daarop aangebring is.

Uit die verskillende tekenings op die potte leer ons natuurlik geweldig baie van hoe die mense in daardie tyd geleef het.  Hulle het van oorlog, badkamer- en liefdestonele, tot sportbedrywighede en diere op die potte geverf.  Hierdie tekenings is soos ‘n lopende kommentaar op die samelewing van destyds.   Die keramiek kan ook redelik akkuraat gedateer word, wat natuurlik ook baie help met die rekonstruksie van die verskillende periodes in die geskiedenis

Potte en kleiprodukte is vir ‘n wye verskeidenheid funksies gebruik.  Dit is gebruik om alles en nog wat te stoor (van olie tot boekrolle en geld).  Dit is selfs as oonde en olielampies gebruik.

Presies hoe het die mense hulle klei en potte gemaak?  Die klei is eers uitgegrawe en dan vir lang periodes in water laat lê.  Dan is dit gebrei om al die lug en onsuiwerhede uit te kry.  Daarna is ‘n bindmiddel soos sand of lym bygegooi en dit is weer gebrei.  Dan was die klei gereed om verwerk te word.

Die pottebakkerswiel van die eerste eeu het ‘n kleiner houtsirkel bo gehad waarop die klei gelê het.  ‘n Groter houtsirkel was laer af en met ‘n houtstaaf aan die boonste houtsirkel verbind.  Die pottebakker het die onderste sirkel met sy voet gedraai en op die boonste sirkel kon hy dan die klei mooi vorm.  Nadat die pot gemaak is, is dit toegelaat om droog te word. Daarna is dit in ‘n oond gebak.

In Palestina was die potte nie geglasuur nie, maar wel mooi geverf.