Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
LIEFLIKE WONDERWERKE
Dr JP Botha
Die groep profete wat in Bet-El en in Jerigo in gemeenskapshuise saamgewoon het, het my geëer as die opvolger van die groot Elia. Hulle het my dikwels genooi om hulle te besoek en daar oor te bly en hulle meer te leer van die wonderlike God wat ons aanbid.
Die byl dryf op die water
By een so 'n geleentheid het die profete wat in Jerigo saamgetrek was, vir my gesê dat die ou plekkie waar ek altyd met hulle gepraat het, heeltemal te klein geword het om almal te bevat wat gewoonlik na my godsdiensonderrig kom luister het. Hulle was van plan om 'n groter lokaal te bou en wou graag die dakbalke daarvoor in die ruie bos langs die Jordaan gaan kap. Hulle het my genooi om saam met hulle daarheen te gaan.
By die rivier aangekom, het ons aan die werk gespring en fluks gevorder, totdat die enigste byl wat ons gebruik het, uit die hande glip van die man wat hom hanteer het en in die diep water van die rivier verdwyn. Hy sê toe vir my: "Ag, meneer Elisa, wat gaan ek nou doen? Dis nie my byl nie! Ek het hom geleen en wat gaan ek nou vir die eienaar sê?"
Afgesien van sy bekommernis, het ons die byl ook nog verder nodig gehad. Ek het gevra waar die byl ingeval het en toe hy vir my die plek aanwys, het ek onmiddellik geweet wat ek moes doen. Ek het 'n stukkie lat van 'n boom afgesny en dit na die plek geslinger waar die byl ingeval het. Tot die profete se uiterste verbasing het die swaar stuk gereedskap vanaf die modderige bodem van die rivier opgestyg en bo-op die water gedryf. Ons vriend kon hom nou nader haak en uithaal en daarmee die kapwerk afhandel. Ons goeie God help ons ook met die kleinste dingetjies!
Die giftige kos
Die profetegemeenskappe in die land, soos dié by Bet-El en Jerigo en ook by Gilgal, het dikwels net van aalmoese gelewe, in die vorm van kosvoorrade wat goedgesinde boere na hulle gestuur het. Hulle was oor die algemeen maar arm, omdat die meeste van hulle nie 'n ander gereëlde beroep as dié van profeet beoefen het nie. In tye van skaarste en hongersnood moes hierdie manne, wat die Woord van die Here aan die volk gebring het, dikwels die noodsaaklikste lewensmiddele ontbeer.
Op 'n sekere stadium van my bediening van die profete- gemeenskap by Jerigo, Bet-El en Gilgal, het daar hongersnood in die land geheers. Die tuine langs die spruitjies oos van die Jordaan, het weens die droogte misluk. By Gilgal, waar ek daardie jaar maandelank gebly het om die profete wat daar saamgetrek was, te leer, het ons naderhand 'n voedseltekort ondervind.
Ek het my bediende gestuur om al die groentetjies wat hy in die hande kon kry, bymekaar te maak en in 'n groot pot vir ons gaar te kook. Een van die profete wat in die veld was, het daar 'n klompie wilde karkoere raakgeloop en 'n sakvol daarvan gepluk en my bediende gehelp om dit stukkend te sny en saam met die ander groentetjies in die groot pot te kook.
Toe etenstyd aanbreek en hierdie mengsel opgeskep word en die profete dit proe, was daar groot konsternasie. Hulle skree vir my: "Man van God, dis giftige kos; die dood is in die pot; ons kan dit nie eet nie!"
Ek het weer dadelik geweet wat om te doen. Ek het 'n bietjie meel gevra en dit in die pot ingeroer en gesê: "Skep nou maar uit en eet."
Die manne het nie geaarsel nie. Hulle het almal reeds geweet dat die Here op 'n heerlike wyse deur my werk. Almal het daaraan weggeval. Dit was geen bitter, giftige brousel meer nie, maar 'n smaaklike, voedsame bredie, wat almal geniet het.
Kos vir 100
Die warm somerdroogte het verbygegaan en gedurende die daaropvolgende winter, is die land weer geseën met die heerlike winterreëns, wat veral aan die boere in die Oos- Jordaanstreek volkome uitkoms gebring het. Maande daarna ontvang ek van 'n boer in Baäl-Salisa, wat in die gebergte van Efraim woonagtig was, vars graan en twintig garsbrode, gebak van die graan van die eerste oes.
Ek was nog steeds in Gilgal besig met onderrig van die profete, toe hierdie welkom voedselvoorraad ons bereik. Ek het my bediende aangesê om dit gereed te kry en vir die manne voor te sit. Maar hy het nie daarvoor kans gesien nie. "Meneer Elisa, hier is 100 profete. Daardie bietjie kos is heeltemal te min. Wat moet ek maak?"
"Moet jou nie bekommer nie. Deel dit maar vir hulle uit. Die Here sê almal sal genoeg kry om te eet en daar sal nog 'n bietjie oorbly."
.Dit het gebeur. Die Here voorsien altyd volkome in ons behoeftes.
Die weduwee se olie
Gedurende die swaar tye van droogte, wat gewoonlik tot hongersnood gelei het, was daar van hierdie goeie profete wat genoodsaak was om skuld te maak, ten einde aan die lewe te bly. Hier by Gilgal was een van hulle wat diep in die skuld was by die geldskieters. Hy het ernstig siek geword en gesterf. Toe het die onbarmhartige skuldeisers op sy weduwee toegeslaan en haar twee seuns geëis, om hulle as slawe te verkoop.
Die ongelukkige vrou het by my kom hulp soek. Ek wou haar graag help en vra vir haar wat sy alles in haar ou huisie het. Sy het werklik niks meer besit nie as net 'n klein ou erdekannetjie met olie. Ek het haar aangeraai om oral by die bure leë kruike te gaan leen, nie te min nie, sommer baie, net soveel as wat sy in die hande kon kry. Dan moet sy met haar seuns in haar huisie ingaan, die deur sluit en uit die erdekannetjie die kruike wat sy geleen het begin volmaak.
Die gelowige vrou het dit gedoen. Haar seuns het die leë kruike aangegee en die olie het uit die erdekannetjie gevloei tot almal vol was. Toe was die ou kannetjie eers leeg.
Sy het my van die wonderlike gebeurtenis kom vertel en ek het haar aangeraai om die baie olie te gaan verkoop. Sy het dit gedoen en uit die opbrengs daarvan al haar skulde betaal en genoeg oorgehou om verder onbekommerd te leef.
Die Sunemmitiese vrou
Nadat ek 'n paar jaar lank, met kort onderbrekings tussenin, by die profetegemeenskappe in Bet-El, Gilgal en Jerigo gewoon en hulle opgelei het in die werk van die Here, het ek die behoefte gevoel om na die noorde van Israel te gaan en vir ons wonderlike God daar te gaan werk.
My ou bediendetjie wat ek by Gilgal gehad het en geleer het om vir my en die profete in die skaars tyd eetbare voedsel voor te berei, kon nie saam met my gaan nie en ek moes toe vir my 'n ander een kry. Sy naam was Gehasi. Hy was 'n baie hulpvaardige en bekwame man, fisies sterk en gesond en het my op ons swerftogte getrou ondersteun en versorg.
Die Here het my na die omgewing van Karmel gestuur. Ek en Gehasi het die lang pad na die noorde aangepak en rus-rus van een dorpie na die ander gekuier. Uiteindelik het ons, tien kilometer noord van Jisreël, in die dorpie Sunem aangekom. Tydens ons daelange verblyf in hierdie mooi ou plekkie, het ons 'n vrou en haar man ontmoet, wat vir ons baie goed was. Toe sy sien dat ek met die werk van die Here besig was, het sy ons na haar huis genooi en onderdak verskaf en versorg. Daarna is ek en Gehasi verder na Karmel.
In die tyd wat gevolg het, moes ons dikwels weer op ons verdere togte deur Sunem gaan en het dan weer by hierdie gasvrye huisgesin aangegaan. Die vrou het op 'n keer aan haar man gesê: "Ons kan gerus vir hierdie man van God en sy bediende op ons platdak 'n bovertrek bou en dit met 'n bed, 'n tafel, 'n stoel en 'n lamp meubileer, sodat hy en sy bediende daar kan intrek wanneer hulle weer hierlangs kom."
'n Jaar later, toe ons weer van Karmel af in Sunem aankom, het hierdie liewe mense dit werklik gedoen. Ons het in hierdie bovertrek heerlik ontspan en gerus.
Onderwyl ek daar op die bed lê, vra ek vir Gehasi wat op die stoel sit, wat kan ons tog vir hierdie goeie vrou doen om ons dankbaarheid te toon? Hulle was vermoënde mense wat niks kortgekom het nie. Gehasi het ook nie geweet nie, maar dit genoem dat sy en haar man, wat al oud is, geen seun het nie. Ek het haar laat roep en onderwyl sy in die deur bly staan het, vir haar gevra of ek nie vir haar 'n goeie woord by die koning of by die generaal van die leër kan doen nie. Toe sê sy: "Ag nee wat, ek woon gelukkig hier tussen my eie mense."
Die Here het toe weer vir my gesê wat ek moet sê: "Volgende jaar hierdie tyd, sal jy 'n seun in jou arms hou."
Sy wou my natuurlik nie glo nie, maar dit het gebeur, en toe ek en Gehasi 'n jaar later weer by Sunem aankom, was dit wonderlik om die geluk van hierdie Sunemmitiese vrou met haar babaseuntjie te sien.
Toe hy groot word en so 'n stuk of tien jaar oud was, het sy pa hom saamgeneem na sy landerye toe, waar hulle besig was om te oes. Dit was baie warm. Die arme kind het kwaai sonsteek opgedoen en huilende uitgeroep: "My kop, o my kop is baie seer!" Sy pa het hom dadelik deur een van sy werkers laat huis toe dra. Sy moeder het die heeldag met hom op haar skoot gesit, maar teen die middag het die oudjie gesterf. Sy het hom na ons bovertrek gedra en op my bed neergelê, uitgegaan en die deur gesluit. Sy het na haar man toe gegaan, 'n donkie gevra om op te ry en een van sy werkers om haar te vergesel en vir hom gesê sy wil gou na Karmel toe gaan waar die man van God is. Hy kon nie begryp waarom sy dit wou doen nie, want sy het hom nie van hul seuntjie se dood vertel nie.
Ek en Gehasi was daardie middag by die berg Karmel besig, toe ons die vrou op die donkie na ons toe aangery sien kom. Haar slaaf het agter haar aangehardloop en die rydier met mening aangedryf. Ek het Gehasi na haar toe gestuur om te vra of daar iets verkeerd is, want die Here het toe nog nie aan my openbaar dat haar seuntjie dood is nie.
Toe sy by my kom, het sy my die kind se dood verwyt. Ek het vir Gehasi na Sunem teruggestuur en gesê hy moet my kierie op die kind se gesig gaan plaas. Die vrou wou egter nie sonder my teruggaan nie en so het ons almal weer in die pad geval na Sunem toe. Gehasi was eerste daar. Hy het gedoen wat ek hom beveel het, en toe daar niks gebeur nie, het hy teruggekom en my dit vertel.
Na ons aankoms het ek na ons bovertrek gegaan en die oudjie daar dood op my bed sien lê. Nadat ek gebid het, het ek op hom gaan lê, sodat sy liggaampie warm geword het. Daarna het ek opgestaan en met verwagting heen en weer in die vertrek geloop en na 'n rukkie weer op die kind gaan lê. Hy het begin roer en sewe keer genies en sy oë oopgemaak. Dit was wonderlik om te sien hoe die Here die lewe in sy jong liggaampie laat terugkeer. Na 'n rukkie het ek en hy langs mekaar op die bed gesit en praat oor wat daar met hom gebeur het. Ek het vir Gehasi gestuur om sy moeder te gaan roep, en weer was dit wonderlik om deel te neem aan haar dankbaarheid en geluk, toe ek haar seun lewendig en gesond aan haar oorhandig.
Die Here sorg vir sy kinders
'n Geruime tyd daarna het die Here aan my openbaar dat daar 'n sewejaarlange hongersnood in Israel op hande is. Langdurige droogtes gaan weer tot misoeste lei en 'n voedselskaarste in die land veroorsaak. Ek het besef dat dit weer 'n strafgerig is wat God oor die afgedwaalde volk voltrek en dat dit nie die heidennasies gaan tref nie.
Ek het aan die goeie Sunemmitiese vrou en haar seuntjie gedink en aan al die ellende wat so 'n hongersnood aan veral weduwees en hul kinders bring, want haar man het ook nie meer gelewe nie. Daarom het ek na Sunem toe gegaan en haar aangeraai om Israel te verlaat en met haar seun in die land van die Filistyne, langs die Middellandse See te gaan woon. Sy het dit gedoen.
Dit het alles baie goed vir haar uitgewerk, want sy het die ellende en ontberings van die swaar tyd in Israel gespaar gebly. Toe die sewe jaar om is, het sy weer na Sunem teruggekeer. Maar toe het haar huis en haar grond nie meer aan haar behoort nie!
Ek het vir Gehasi na Samaria gestuur om die vrou se saak voor koning Joram te lê. Ek wou nie self soontoe gaan nie, want ek het nie lus gehad om met hierdie seun van Agab te praat nie, want hy het nog aanmekaar probeer om twee here te dien, die Here en Baäl.
Toe Gehasi daarin slaag om in 'n onderhoud met hom te praat en hy ontdek dat dit my dienskneg is wat voor hom staan, wou hy eers van al die wonderwerke weet wat die Here deur my laat plaasvind het. Gehasi het hom ook van die vrou en haar seun vertel en hoe die kind uit die dood opgewek is.
Onbewus daarvan dat iemand op daardie tydstip besig was om haar saak voor die koning te stel, het die Sunemmitiese vrou en haar seun self daar aangekom om met die koning te praat. Gehasi het haar aan hom voorgestel en Joram was só beïndruk dat hy beveel het dat haar huis en haar grond aan haar teruggegee moes word, asook die opbrengs daarvan van die vorige sewe jaar.
Die Here sorg vir sy kinders. Hy gebruik selfs ongelowiges om aan hulle reg en geregtigheid te laat geskied.
_________________