Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
NA DIE PARADYS
Dr JP Botha
Ek is Elisa. My naam beteken "My God red." Die Here het my gekies om die hulp en opvolger te word van die groot profeet Elia.
My herkoms
Ons het in die stad Abel-Mehóla gewoon. Dit is halfpad tussen die Meer van Gennésaret en die Dooie See geleë, aan die westelike oewer van die Jordaan, naby Tisbe in Gilead. Dit is 'n baie vrugbare boerderystreek.
My ouers was vermoënde mense. Ek en my pa Safat, het groot landerye langs die Jordaan besit, waarop ons graan verbou en groente gekweek het.
Gesalf as profeet
Ongeveer ses maande nadat die groot droogte deur oorvloedige reëns gebreek is, was ek en my pa se werkers besig om ons lande te ploeg. Ons het twaalf ploeë gebruik, elkeen deur twee osse getrek, met twee man daarby, die ploegsterthouer en die touleier. Ek was besig om 'n nuwe akker aan te voor, toe ek skielik 'n man oor die ploegland deur die losgrond aangestap sien kom. Hy het reg op my afgestap en toe hy by my kom, het hy sy harige mantel op my geslinger en sonder 'n woord verder gestap.
Toe herken ek hom! Dit was die groot profeet Elia! Ek het ses maande vantevore in verwondering aanskou hoe die Here op Karmel Elia se gebed met vuur antwoord en die offer aan die brand steek, en hier stap daardie man van God doodluiters by my verby en salf my as sy opvolger!
Ek het agter hom aangehardloop en hom teruggeroep. Ek het die ploeëry net so gelos. Ek het my eie twee osse geslag en vuur gemaak met my houtploeg en van die vleis vir my werkers gegee en daarvan geoffer. Daarna het ek my ouers gegroet en saam met Elia gegaan.
My opleiding
Die volgende paar jaar was ek voortdurend in die leerskool van die groot profeet. Dit was wonderlik om aan die voete te sit van hierdie heilige man van God, wat in sy asketiese afsondering feitlik voortdurend in gesprek was met die Gees van God. Ek het uit sy mond die openbaring van die wil van God, sy alom teenwoordigheid, sy lankmoedigheid, sy liefde en genade, maar ook sy toorn oor die sonde, verneem en ingedrink, onderwyl ons twee alleen in die veld, langs 'n waterstroompie oor die ewige dinge gesit en gesels het.
Elia was hartstogtelik lief vir die natuur. Die Here het met hom gepraat waar hy eensaam op 'n bergkruin sit en uitstaar oor die vlaktes van ons geliefde land Israel. Hy het alleen na die dorpies en stede gegaan wanneer die Here hom daarheen gestuur het.
Sy aardse taak is afgehandel
'n Ruk nadat Elia die laaste keer met Agab gaan praat het en daarna vir sy seun Ahasia gaan waarsku het, het hy vir my gesê dat die Here hom van die aarde af gaan wegneem, want die werk wat hy vir Hom moes doen, is alles afgehandel. Die Gees van God het ook met my gepraat en aan my openbaar dat Elia nie gaan sterf nie, maar dat Hy hom lewend in sy heerlikheid gaan opneem.
Elia se laaste reis
Toe die tyd van sy vertrek naderkom, wou my groot leermeester graag heeltemal alleen wees. Ons twee was saam in die dorpie Gilgal, 'n paar kilometer van Jerigo af. Vroeg een oggend sê Elia vir my: "Elisa, die Here stuur my na Bet-El. Ek sal alleen gaan. Jy moet asseblief maar hier in Gilgal agterbly."
Ek het onmiddellik geweet dat die groot gebeurtenis voor die deur lê en ek was vasberade om by hom te wees wanneer dit sou plaasvind. Daarom het ek gesê ek gaan saam met hom. Hy het dit aanvaar en ons twee het in die pad geval.
Ek het gewonder waarom ons nou juis na Bet-El toe moes gaan. Dit is ongeveer 25 kilometer van Gilgal af. Ons het die hele voormiddag gestap. Die groot profeet was nie baie spraaksaam nie.
Die profetegemeenskap
Toe ons Bet-El se buitewyke nader, kom 'n aantal profete ons tegemoet. Hulle het hier in 'n groep saamgewoon om bymekaar te wees, nadat Isébel die Here se profete so vervolg en laat vermoor het. Hulle het my eenkant toe geroep en gevra of ek weet dat die Here my meester vandag van my af gaan wegneem. Ek het gesê ek weet dit; hulle moenie daaroor praat nie. Die Here het dit dus ook aan hulle openbaar.
Na Jerigo
Nadat ons in Bet-El aangekom het, het ek gewonder hoe en wanneer dit gaan gebeur, maar toe sê Elia vir my die Here stuur hom terug na Jerigo. Ek moet asseblief nie weer saamgaan nie, maar hier in Bet-El agterbly. Ek het gewonder waarom hy soveel moeite doen om van my ontslae te raak, maar ek het net vir hom gesê ek gaan saam!
Dit was laatmiddag toe ons uiteindelik in Jerigo aankom. Weer het daar 'n aantal profete ons tegemoet gekom wat by my wou weet of ek weet wat gaan gebeur. Hier in Jerigo was ook 'n groot profetegemeenskap saamgetrek. Ek het vir hulle gesê hulle moet stilbly; ek weet dit.
Na die Jordaan
My liewe grootmeester Elia het weer 'n laaste poging aangewend om van my ontslae te raak en vir my gesê dat ek nou beslis hier in Jerigo moet bly, want die Here stuur hom na die Jordaan, maar toe hy begin loop en ek met hom saamstap, het hy nie protesteer nie. Ek het gemerk dat 'n aantal profete ons op 'n afstand volg.
Nadat ons so in optog die tien kilometer na die rivier afgelê het, het ek en Elia voor sy diep water te staan gekom. Die man van God het sy mantel geneem, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Dit het na links en regs verdeel en weggevloei, sodat ons na 'n rukkie feitlik op droë grond kon deurstap. Daarna het die water weer aaneengesluit en het die groep profete van ons geskei.
Die opvaart
Onderwyl ons 'n endjie van die rivier af weggestap het, het die groot Elia vir my gevra of daar miskien nog iets is wat hy vir my kon doen, voordat die Here hom wegneem. Ek het 'n dubbele deel van sy gees begeer, maar die profeet was onseker of ek dit sou ontvang. Indien sy opname egter vir my sigbaar sou wees, sal ek wel ontvang wat ek begeer.
Hoe goed was die Here nie vir my nie! Ons het nog so geloop en praat van sy wonderlike almag en heerlikheid, sy liefde en genade, toe daar skielik 'n helder lig om ons skyn. 'n Vurige wa en perde het langs ons verskyn en die druising van 'n warrelwind het al harder geword. Dit het Elia in die wa opwaarts meegevoer, die hoogte in, totdat hulle voor my verstomde oë verdwyn het. Ek het uitgeroep: "My vader, my vader, u was vir Israel sy strydwa met sy ruiters!" Toe gewaar ek die groot profeet se mantel, wat van hom afgeval het en ek het geweet die Here het aan my begeerte voldoen en dat ek in staat gaan wees om in die gees van die groot Elia, wonderlike dinge vir God te doen.
Ek het die mantel opgetel en daarmee teruggestap na die rivier, dit opgerol soos Elia gedoen het en op die water geslaan. Ek het uitgeroep: "Waar is die Here, die God van Elia? Waar is Hy?" Hy is oral. Hy was by my, want Hy het weer die water in twee laat kloof, sodat ek kon deurstap.
Die groep profete was nog steeds aan die westelike oewer van die rivier. Hulle het gesien wat gebeur het en toe ek by hulle kom, roep hulle uit: "Die gees van Elia rus nou op Elisa!" Maar hulle was nie so seker as ek dat die Here vir Elia hemel toe geneem het nie, want hulle wou weet of hulle nie maar 'n vyftig dapper manne kon stuur om die nabygeleë berge en valleie deur te soek om te sien of die Here nie miskien vir Elia daar êrens weer neergelaat het nie. Ek het hulle verseker dat dit tevergeefs sal wees, maar dit tog maar toegelaat toe hulle daarop bly aandring. Hulle het drie dae lank tevergeefs gesoek, onderwyl ek vir hulle in Jerigo gewag het.
Jerigo se water
Die nuus van wat daar anderkant die Jordaan gebeur het, het ons vooruitgeloop, want toe ek in Jerigo aankom, is ek baie gasvry ontvang deur die manne van die stad. Hulle het teenoor my gekla dat hul landerye die een na die ander misoes oplewer en het dit toegeskryf aan slegte water uit die dorpsfontein, waarmee hulle hul tuine moes besproei. Ek wou altyd baie graag mense help wat in nood verkeer het. Die Here het aan my openbaar dat Hy hul water gaan gesond maak; ek moes net doen wat Hy op my hart lê. Ek het 'n nuwe skottel gevra en 'n hoeveelheid sout, die sout in die skottel gegooi en saam met hulle na die oog van die waterfontein gegaan en die sout in die water gegooi. Dit was al. Jerigo se water was daarna gesond en het nie meer onvrugbaarheid veroorsaak nie.
Die twee bere
Ek het van die manne in Jerigo afskeid geneem en alleen in die pad geval, terug na Bet-El toe. Toe ek 'n hele end weg was, het ek ontdek dat die ou sielevyand gladnie gelukkig gevoel het oor wat daar anderkant die Jordaan plaasgevind het nie. Hy het 'n aanval op my gemaak wat bereken was om my vir goed af te skrik om in diens van die Here te wil staan.
Langs die pad het daar 'n aantal seuns rondgespeel. Toe ek regoor hulle kom, het almal skielik na my kant toe gedraai en agter my aangeloop. Hulle het my op 'n lelike manier begin uitskel en geskree: "Ag toe nou, ou kaalkop, moenie hier in die pad loop nie. Gaan op in die lug, soos daardie ander ou. Waar is hy nou? Hoekom is jy nie saam nie? Is jy dan bang? Toe, ou kaalkop, gaan op, op, op!"
Ek het my omgedraai en hulle bestraf. Die Here het nie toegelaat dat die bose deur die monde van hierdie ongeskikte seuns sy profeet beledig en bedreig nie. Hulle het al hoe astranter geword en al om my begin swerm en sou my aangerand het as daar nie twee bere uit die bos langs die pad uitgespring het en 42 van hierdie ongelukkige seuns verskeur het nie. Die Here laat Hom nie bespot nie.
Water in die woestyn
Na my besoek aan Bet-El, het ek na Samaria gegaan. Ek het nie soos die groot Elia, my in eensame plekke teruggetrek nie. Ek was lief vir mense en het graag in die dorpe en stede gekom. Daar kon ek mense in hul nood bystaan en my volk Israel ondersteun in sy stryd teen die heidennasies.
In Samaria was daar 'n geesdriftige klaarmakery vir oorlog. Koning Josafat van Juda het saam met koning Joram van Israel (Agab se seun) en die koning van Edom, teen die koning van Moab opgetrek. Ek het besluit om saam te gaan.
Toe ons sewe dae lank deur die Edom-woestyn getrek het, het ons geen water meer gehad nie. Iemand sê toe dat ek ook daar is en my opleiding by Elia gekry het en dat die konings my oor die watergebrek moes raadpleeg. Ek het vir Joram gesê ek wil niks met hom te doen hê nie; hy moet na die profete van sy pa en ma toe gaan, maar ter wille van die goeie koning Josafat het ek die Here om uitkoms gebid. Ek het vir hulle gesê ek sien die hele vallei voor ons vol water, sonder dat dit gaan reën en die Here sê hulle gaan Moab ook totaal verslaan.
Die volgende oggend het die hele gebied by ons uit die rigting van Edom vol water geloop, sodat mens en dier hul dors kon les. Toe die Moabiete die eerste strale van die son se rooi skynsel op die water sien, het hulle gedink dat dit bloed was en dat Juda en Israel en Edom mekaar aangeval het. Hulle is ontnugter toe ons tot die aanval oorgaan, want hulle is verpletterend verslaan. Ons leërs het seëvierend na Samaria en Jerusalem teruggekeer.
Die koninkryk van Israel is egter nie lank gegun om in vrede te leef nie. Koning Joram, Agab se seun, moes gedurende die twaalf jaar van sy betreklike kort regeringstyd, die land verdedig teen die venynige aanvalle van die Arameërs, onder hul Siriese koning, Benhadad.
Tenspyte van Joram se halfhartige geloof in die Here God en die gruwel van sy Baäl-afgodediens, het die Here, ter wille van sy volk, telkens beslissende oorwinnings oor die vyand gegee. In hierdie tyd het die Here my ook gebruik om aan die volk en die koning deur wonders te toon dat Hy begaan is oor die welsyn van enkelinge en dat niemand wat Hom in nood aanroep, ooit beskaamd staan nie. Hoe wonderlik goed is Hy nie!
________________