ELIA EN ELISA (8)

Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA

NABOT SE WINGERD

Dr JP Botha

Die Jisreël-vallei

Vanaf die Gilboaberge by die Kisonspruit se oog val die landstreek taamlik skerp na wes in die vallei van Jisreël, maar nog skerper ooswaarts na die bedding van die Jordaan.  Hierdie vallei is een van die vrugbaarste streke van ons mooi land.  Koning Agab het hier 'n stuk erfgrond besit, waar hy op eie koste vir hom sy winterpaleis gebou het en groot genoegdoening geput het uit die kweek van groente op die res van sy grond.

Die wingerd

Langs die koninklike eiendom het 'n goedversorgde wingerd, op terrasse aangeplant, teen die hang van die rantjies uitgestrek.  Dit het aan Nabot behoort.  Hy was 'n netjiese en vooruitstrewende boer, wat 'n goeie lewe gemaak het uit sy druiwe, wat hy en sy werkers met veel sorg en liefde gekweek het.

Nabot se wingerd was, eweas dié van die koning, van sy voorvaders geërf.  Die tradisie in Israel was dat sulke gronde nie sommer van die hand gesit of vervreem mag word nie.  Boonop was Nabot lief vir sy eiendom en trots op sy handewerk.

Maar die koning van Israel het met begerige oë na sy buurman se plaas gekyk.  Hoe meer 'n mens het, hoe meer wil 'n mens mos hê.  Hy het sy rytuig laat inspan en daarheen gery en vir Nabot en sy werkers fluks aan die werk daar aangetref.  Hy het gesê hy wil graag die wingerd van Nabot koop, of dit ruil vir 'n ander stuk grond wat baie beter is.

Kinderagtige Agab

Toe Nabot botweg weier om aan sy sin te voldoen, was die koning grondeloos teleurgestel.  Hy kon tog dink dat Nabot sou weier om van sy voorvaderlike besit afstand te doen.  Maar toe gedra hy hom net soos 'n  bedorwe ou stout seuntjie wat nie sy sin gekry het nie.  By sy tuiskoms het hy op sy koninklike bed gaan lê, met sy gesig na die muur gekeer en nukkerig geweier om enigiets te eet.  Die bediendes wat vir hom die kos gebring het, was ontsteld en het dit vir Isébel gaan vertel.  Sy was verbaas dat haar man, die koning van Israel, oor so 'n "nietigheid" so kinderagtig kon reageer, en sy het dit vir hom gesê:

"Ag nee man, op hierdie manier oefen jy nie jou koningskap oor Israel uit nie.  Staan op en eet en gaan aan met jou dinge.  Ek sal sorg dat jy daardie Nabot se wingerd kry."

Moordplanne

Sy het 'n duiwelse plan bedink om van Nabot ontslae te raak.  Sy skryf toe briewe wat sy met die koninklike seël laat bekragtig, aan al die leiers en ampsdraers wat in Nabot se stad woon en beveel hulle om 'n vasdag uit te roep en vir Nabot heel voor te laat sit in die vergadering wat daarna gehou sou word.  Dan moes hulle twee deugniete êrens vandaan haal en hierdie skelms weerskante van Nabot laat plek inneem.  Hulle moes dan op 'n gegewe oomblik opspring en skree dat Nabot die Here en die koning gevloek het.  Dan moes die vergadering hom na buite sleep en met klippe doodgooi.

Hierdie oudstes en "edeles", die leiers en ampsdraers van Nabot se stad, het die koninklike bevel om 'n onskuldige man te laat vermoor, tot in die kleinste voorgeskrewe besonderhede uitgevoer. Waarom het hulle nie geweier nie?  Die gruweldaad is voltrek en Isébel is in kennis gestel dat Nabot dood is.  Sy het vir Agab gesê:  "Gaan vat nou die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, wat hy nie aan jou wou verkoop nie.  Nabot leef nie meer nie, hy is dood."

Die straf

Onderwyl die hebsugtige Agab klaargemaak het om die gewese eiendom van Nabot wederregtelik in besit te gaan neem, het die Here met my gepraat en my van hierdie jammerlike gebeurtenis vertel..  Hy het vir my gesê:  "Maak jou gereed, want Ek wil jou na Agab, die koning van Israel, stuur.  Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het.  Jy moet vir hom sê die Here sê, jy het gemoor en nou vat jy ook nog?  Dan moet jy vir hom verder sê:  So sê die Here:  Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek!"

Ek het gegaan en vir Agab daar gekry.  Hy was besig om die besit van sy nuwe eiendom te geniet.  Toe ek tussen die rye wingerdstokke naderstap, het hy opgekyk en my herken en uitgeroep:  "Het jy my gekry, my vyand?"

"Ja," sê ek, "ek het jou gekry.  Die Here het my gestuur om vir jou te sê, omdat jy aanhoudend doen wat verkeerd is in sy oë, gaan Hy 'n ramp oor jou bring en jou vernietig.  Hy gaan al die mans in jou geslag, sonder uitsondering, uitroei.  Omdat jy Hom uitgetart het en omdat jy Israel laat sondig het, sal Hy met jou huis maak soos met die huis van Jerobeam en met die huis van Baesa.  Jou nakomelinge sal almal uitgeroei word.  Die honde sal vir Isébel opvreet by die voorste muur van Jisreël.  Jou familie wat in die stad gaan sterf, sal ook deur die honde opgevreet word en dié wat in die oop veld sterf, sal prooi vir die roofvoëls word."

Agab se berou

Ek het omgedraai en weggestap en Agab het woordeloos na sy paleis teruggekeer.  Vir die eerste keer in sy lewe het daar opregte berou in sy hart ontbrand.  Hy het sy klere geskeur en rouklere aangetrek en begin vas en selfs met die rouklere gaan slaap en verder die heeldag bedruk en morbied rondgeloop.

Toe praat die Here weer met my en sê:  "Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig?  Omdat hy dit gedoen het, sal Ek nie die ramp tydens sy lewe laat plaasvind nie, maar dit tydens die regering van sy seun oor sy familie bring."

Die Here is 'n lankmoedige, genadige en barmhartige God.

 

_______________