Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
AGAB SE OORLOË
Dr JP Botha
Na my terugkeer vanaf Sinaï by Horeb, het ek eers na my tuiste in Tisbe gegaan en daarna het ek die stiltes van eensame plekke in die berge opgesoek, om daar in die natuur na die stem van die Here te luister. Daar, in die wydsheid van sy grootse skepping, is ek altyd naby aan Hom en kan ek duidelik verneem waarheen Hy my met sy Woord na iemand wil stuur, want ek het sy vernaamste boodskapper geword.
Die sondes duur voort
Alhoewel koning Agab op Karmel met eie oë aanskou het dat die Here alleen God is van die ganse heelal, het hy nie tot berou gekom en sy goddelose vrou teëgegaan nie. Die onsinnige afgodediens het in die Baäl-tempel op die heuwel van Samaria voortgegaan. Daarom het die Here toegelaat dat Israel en die koningshuis deur 'n vyand van buite bedreig word.. Miskien sou Agab dan sy toevlug tot God neem en sy hulp vra.
Die Arameërs
Vanaf koning Jerobeam se tyd het die Siriërs aan die noordoostekant van Israel 'n selfstandige nasie geword, met Damaskus as hul hoofstad. Gedurende Omri en Agab se regering het hierdie duisende Arameërs 'n groot bedreiging vir die veiligheid van Israel geword.
Samaria word beleër
Benhadad II, die koning van die Arameërs, was 'n verwaande en bombastiese aanvoerder van sy volk. Hy was bitterlik jaloers op Israel en op alles wat die volk en die koningshuis besit het. Hy het besluit dat hy met sy duisende Siriërs sterk genoeg was om die land binne te val en te gaan toets of Samaria se verskansings en mure sy aanslag kan weerstaan.
Toe ek met my terugkeer vanaf Horeb naby Samaria kom, het ek hulle in hul duisendtalle op die vlakte onderkant die stad gewaar. Ek het maar verder gestap, want die Here het nie met my gepraat nie, maar ek het geweet Hy sal vir my sê as daar iets gedoen moet word.
Benhadad stuur toe ewe astrant 'n paar boodskappers na Agab binne in die stad, om vir hom te sê dat hy gekom het om al Agab se rykdom, al sy goud en silwer wat hy so mooi in Samaria bêre, en al sy mooi vroue en baie kinders, vir hom te vat. Die koning van Israel het groot geskrik en ewe beleefd terug laat weet dat dit maar goed so is; Benhadad kan dit alles en nog meer kry. Toe swel die Arameër van oormoed in sy astrantheid en laat weet dat Agab dit nie hoef te stuur nie; hy sal dit alles self kom haal en kom vat wat hy wil hê.
Dit was vir Israel se bang koning 'n bietjie te veel. Hy het sy raadgewers bymekaar geroep. Hulle het hom aangeraai om tog nie aan die heiden se versoek toe te gee of vir sy dreigemente te skrik nie.
Toe Benhadad hierdie boodskap ontvang, het hy nog kwaaier geblaas. Hy het gedreig om die stad in puin te lê en gespog dat as elkeen van sy duisende soldate maar elkeen net 'n handjie vol stof hiervandaan wegdra, sal daar niks van Samaria oor wees nie!
God gee uitkoms
Die Here wou nie dat sy volk so verneder word nie. 'n Neerlaag teen die vyand sou vir Agab sy verdiende straf gewees het vir al sy ongeregtigheid, maar sy tyd daarvoor het nog nie gekom nie. God het Hom oor Israel ontferm.
Onderwyl ek in die stille eensaamheid van die Gilboa-gebergte vertoef het, suid van Jisreël, het die Here 'n ander profeet na Samaria en na Agab gestuur en vir hom gesê dat hy daardie groot menigte van Arameërs in sy mag gaan oorgee. God wou hê dat Agab nou ten enemale moet besef en erken dat Hy die Here is wat oor alle mag beskik. Agab het dit geglo en gevra hoe die Here dit gaan doen en deur die profeet het God vir hom gesê dat hy 'n paar honderd dapper, jong polisiemanne op die voorpunt van die aanval moet plaas. Daar was 232 van hulle, met 'n leër van 7 000 man agter hulle.
Agab het dit gedoen. Toe hy die middag met sy leër die stad verlaat en op die vyand afstorm, is Benhadad en sy duisende onverhoeds betrap. Hy was besig om met 32 van sy vername koninklike beamptes in die tente rond te lê en drink, toe sy wagte hom vertel dat daar soldate uit Samaria kom. Hy het bevel gegee dat hulle lewendig gevang moes word, maar is kort daarna ontnugter toe Agab se vurige oorlogsmasjien op hulle toesak en dood en verwoesting begin saai. Die duisende Arameërs het holderstebolder begin vlug. Benhadad self het 'n perd in die hande gekry en daarmee die aftog geblaas. Hy en sy duisende is beslissend verslaan. Hy het na sy hoofstad, Damaskus teruggetrek om sy wonde te gaan lek en nuwe wraakplanne teen Agab en Israel te smee.
'n Tweede oorwinning
Die Here het die profeet weer gestuur om Agab te waarsku om sy leër nog verder te versterk, want die koning van Aram beplan om die volgende jaar weer 'n aanval te loods. Sy raadgewers se advies aan hom was dat hulle die Israeliete in die vlaktes moet aanval, omdat hulle gedink het Israel word deur "berggode" beskerm.
Toe Benhadad die volgende jaar gereed was vir 'n tweede groot aanval op Israel, het hy weer met 'n geweldige groot leër uit Sirië suidweswaarts getrek om Israel in sy hoofstad te gaan aandurf. Maar hierdie keer was Agab daarop voorbereid en het hulle dadelik tegemoet getrek. Die twee magte het oos van die Galilese See, naby die Jarmoekrivier en die Golanhoogte, by Afek teenoor mekaar te staan gekom.
Die Here het weer aan sy volk gedink en die profeet wat Hy reeds tweekeer na Agab gestuur het, het vir hom gaan sê: "Omdat die Arameërs sê dat Ek 'n berggod is en nie 'n god van die vlaktes nie, gaan Ek hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat ek die Here is."
Die geveg het na sewe dae losgebreek en in 'n klinkende oorwinning vir Israel geëindig. Hulle het 100 000 voetsoldate van die Arameërs op een dag verslaan. Die res het die stad Afek ingevlug. Toe hulle by die stadsmuur kom, het dié op hulle ingeval en nog 27 000 man gedood.
Benhadad het in die stad rondgevlug, saam met 'n paar van sy raadsmanne. Van hulle het toe rouklere aangetrek en hulle aan Agab gaan oorgee en gesê Benhadad onderwerp hom aan die koning van Israel en vra dat sy lewe gespaar moes word.
'n Onheilige verdrag
Ag, koning Agab van Israel was tog só in sy skik toe hy hoor die magtige Benhadad van Aram smeek onderdanig om asiel, dat hy hom laat haal en hom sy broer genoem het en 'n vriendskapsverdrag met hierdie slinkse vyand van sy volk gesluit het.
Daarna het die Here weer 'n profeet na Agab gestuur, wat vir hom kom sê het: "Omdat jy die man wie se lewe Ek geëis het, vry laat weggaan het, sal jou lewe in die plek van sy lewe kom, en jou volk in die plek van sy volk."
Dink jy Agab het nou uiteindelik tot sy sinne gekom, nadat die Here hom reeds soveel kere gewaarsku het? In teendeel, hy het net briesend kwaad geword vir die man van God en humeurig en ontstemd vanaf die slagveld teruggery na sy paleis in Samaria.
____________