ELIA EN ELISA (6)

Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA

ELIA VLUG NA HOREB

Dr JP Botha

Na die geweldige gebeurtenis op Karmel het ek besluit om weer in my tuisdorpie Tisbe te gaan woon.  Ek het die Here se opdrag uitgevoer en Hy het nog nie weer daarna met my gepraat nie.

Isébel wil my vermoor

Dit was my nie beskore om my tuiste ongedeerd te bereik nie.  Daar het 'n koninklike boodskapper vanaf die paleis in Jisreël my op pad ingehaal.  Hy het gesê die woedende Isébel het wraak gesweer oor die dood van haar klomp priesters en sy het laat weet dat sy my beslis die volgende dag sal laat vermoor.

Het die Here my verlaat?

Al my vreugde en geluk, al my geloof in die wonderwerkende krag van God, het meteens verdwyn en 'n verlammende moedeloosheid het in my kom lê.  Kan sy dan nie sien dat haar afgode niks werd is nie en dat sy die almagtige God moet aanbid nie?  Die Here se heerlikheid, sy majesteit en alom teenwoordigheid het meteens alles van my af weggegly, onderwyl 'n swaar depressie in my gemoed toegesak het.

Ek vlug

Daar het net een alles oorheersende primêre drang deur my wese getrek, en dit was om so ver as moontlik van hierdie goddelose vrou af weg te vlug, want ek wou nog graag lewe om die Here verder te dien.  Ek het vir my ou slafie gesê:  "Kom, jy gaan saam; miskien kan jy iets vir my beteken," en toe het ek net daar omgedraai en die pad na die suide toe gevat.

Ek weet nie waarom ek hierdie koers ingeslaan het nie. Ek was verwese en uitgeput na die gees en 'n groot teleurstelling het in my gemoed kom lê en my sinne verdof.  In my ellende het ek geglo dat ek misluk het om te bewys dat die Here alleen God is en nie Baäl nie.

Daar het 'n ongekende, bonatuurlike fisiese krag in my liggaam gewoed, onderwyl ek vinnig suidwaarts, al met die Jordaanbedding afgestap het.  My getroue ou slafie het my verwonderd aangekyk.  Hy kon amper nie bybly nie.  Ons is die volgende dag by Gilgal en Jerigo verby en het 'n dag later tussen Jerusalem en die Dooie See maar steeds onverpoosd koersgehou in die rigting van Hebron.

Op 'n dag het ek die gehuggies van Berseba gewaar en laat die middag teen sononder daarheen gestrompel.   Ek het my getroue ou slafie baie jammer gekry toe ek sien hoe gedaan hy was en hom hier in Berseba agtergelaat.  Die volgende dag is ek alleen verder die woestyn in.

Onder die besembos

Teen die aand kon ek nie meer verder nie.  Ek het geen krag meer gehad nie.  Ek het skielik besef dat ek daelank niks geëet het nie en dat ek van honger en uitputting gaan sterf.  Ek het myself traag en moeisaam na die beskutting van 'n eensame besembos gesleep en onder hom gaan sit om 'n bietjie te rus.  Ek het gevoel ek kon nie meer verder nie en het vir die Here gesê:  "Dit is nou genoeg!  Neem tog asseblief my siel weg, want ek is nie 'n greintjie beter as my voorvaders nie."  Daarna het ek onder die boom gaan lê en in 'n diep slaap geval.

Intussen was die Here, die almagtige God besig om oor my te waak en aan my die eenvoudige les te leer dat Hy nooit sy kinders in die steek laat nie en dat dit heeltemal onnodig was dat ek so verskrik van Isébel af weggehardloop het.  'n Engel het my wakkergemaak en gesê:  "Staan op en eet."  Toe ek opkyk, was daar 'n broodkoek wat op warm klippe gebak was, by my koppenend en 'n kruik met water.

Hoe goed is God nie vir sy weerlose kinders nie!  Ek het dit geëet en weer gaan lê en weer aan die slaap geraak.  Ure later het die engel my weer wakkergemaak en van nog meer voedsel voorsien.  Hy het gesê ek moet eet, anders gaan die pad vir my te veel word.  Ek het opgestaan, gereedgemaak en geëet en weer begin loop deur die eindeloosheid van die woestyn, want die Gees van God het my voortgedryf.  Ek het geweet die Here het 'n doel daarmee en ek moet gehoorsaam wees.

By Sinaï

Vanaf my tuiste in Tisbe tot by Berseba, waar ek my kneg agtergelaat het, het ons 180 kilometer ver vir Isébel gevlug en nou was ek op pad om meer as 300 kilometer ver suidwaarts deur die woestyn te stap na Sinaï, die berg van verheerliking by Horeb, waar Moses die wet ontvang het en die Here met die volk gepraat het.  My wonderlike God het my liggaam, siel en gees volkome beheer en my veertig dae en veertig nagte daarheen gevoer.  Ek het uiteindelik daar aangekom en teen Sinaï uitgeklim en die grot ontdek waar Moses geskuil het toe hy gewag het dat die Here daar met hom moes praat.

Ek het die nag hier deurgebring en vroeg die volgende oggend in die helder sonlig uitgestap.  Ek het gewonder of die Here Hom  hier op die berg aan my gaan openbaar, toe praat Hy skielik met my:  "Wat maak jy hier, Elia?"

Dit was wonderlik om sy sagte, simpatieke stem te hoor.  Ek het sommer dadelik my nood begin kla en gesê:  "Ag Here, ek het so met hart en siel vir U gewerk, maar Israel het u heilige verbond verbreek.  Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak en afskuwelike afgode aanbid.  Net ek alleen het oorgebly en nou soek hulle my om my ook dood te maak."

Ek het gedink die Here moet my nou jammer kry en vir my sê dat Hy dit nooit sal toelaat nie, maar al wat Hy gesê het was:  "Kom uit en gaan staan op die berg voor My, want Ek wil by jou verbygaan."

Ek het dit gedoen, en toe ek buite kom, het daar meteens 'n geweldige sterk wind gewoed wat alles voor hom platgevee het en net so skielik weer gaan lê het.  Ek het nog so gestaan en kyk, toe die wind opgevolg word deur die harde dreuning van 'n aardbewing wat 'n deel van die berg skeur en die rotse stukkend ruk.  Dit was ook net so vinnig verby, en toe gewaar ek die krakende vlamme van 'n vuur wat teen die berghang woed.  Maar die volgende oomblik was daar ook niks meer van te sien nie.

Ek het daar asof in verrukking van sinne gestaan.  Wat wil die Here vir my deur hierdie geweldige skouspel sê?  Die suising van 'n sagte windjie het deur die blare van die bome hoorbaar geword en toe praat die Here weer met my en vra:  "Wat maak jy hier, Elia?"

Ek het maar weer vir Hom vertel hoe hard ek al vir Hom gewerk het en hoe baie ek vir sy Naam moes ly en hoe ontrou sy volk geword het, dat hulle sy profete doodmaak en afgode dien en nou vir my ook om die lewe wil bring.

In God se skool

Daarna het Hy met my in die afgesonderde stilte wat nog steeds teen die hang van Sinaï geheers het, begin praat.  Ek het gevoel hoe die verstarring van my sinne opgehef word en my beklemde gemoed verruim word, terwyl daar 'n jubelende vreugde in my hart ontbrand, onderwyl ek na sy lieflike woorde  van troos en teregwysing en bemoediging luister en dit indrink.

Sinaï is die sentrum van die volk se geloof, die plek waar hulle die wet ontvang het.  Waarom sou Hy dan nie nog steeds hier teenwoordig wees waar Hy so duidelik met sy volk gepraat het nie?  Ek het hierheen gekom sodat my geloof in Hom weer opnuut bevestig kon word.  Ek het versterking gevind en nuwe moed geskep om verder vir Hom te werk met nuwe gehoorsaamheid.

Ek was in God se skool.  Hy het vir my gesê:  "Elia, Ek is nie net God van die groot natuur, wat My kan openbaar in windstorms, aardbewings en vuur nie.  Ek is ook God van die klein dingetjies in die alledaagse lewe.  Ek kan My in die rustige stilte wat om jou heers, ook openbaar.  Ek is oral, ook in die ontvanklike roersele van jou hart en in die stilte van jou diepste wese.  Ek sit nie hier op die berg van verheerliking in Sinaï gekluister nie.  Jy moet leer om My te herken en te vertrou en te glo dat Ek jou nooit in die steek sal laat nie, want Ek is elke oomblik gereed om jou te hulp te snel, te beskerm en te versorg, want Ek is alom teenwoordig."

Ek ontvang 'n nuwe opdrag

Die Here het my beveel om na my tuiste terug te keer en nie meer bang te wees omdat Isébel gedreig het om my te laat vermoor nie.  Hy gaan vir haar en Agab straf  oor die gruwelike sondes wat hulle pleeg.  Ook het ek 'n nuwe opdrag ontvang.  Ek moes gaan en 'n man met die naam Elisa gaan aanstel as profeet, om my in my plek op te volg.  Ook moes ek vir Jehu, 'n offisier in die leër, laat salf om koning oor Israel te word en die straf wat die Here oor Agab en sy huis wou bring, uit te voer.  Die Here het ook gesê dat ek vir Hasael, 'n leërowerste van die Arameërs moes gaan salf as koning in die plek van hulle siek koning, Benhadad.

Ek het die lang pad vanaf Sinaï, terug na Israel en my tuiste rustig aangepak en met 'n bly gemoed die Here elke dag gedank dat Hy my nie verwerp het nie, maar my nog verder wil gebruik.om in sy diens te staan.  Hy is 'n wonderlike God!

 

_______________